TV Plus (Afrikaans)

Tim sien ’n gaping

Zoe verf die dorp rooi, maar kry bloed op haar hande . . .

-

Die trauma wat Zoe (Lauren Joseph) die afgelope ruk in haar huwelik met Tim (Marco Spaumer) ervaar het, sal enigiemand onderkry, maar Zoe wil nie meer haar wonde lek nie. “Zoe wil van haar sorge vergeet en sê vir haar bestie, Danni (Vashti Prins), hulle moet die dorp rooi verf,” sê Lauren. Hulle aandjie uit eindig by Die Anker-kroeg en Zoe drink die een skemerkelk­ie ná die ander.

Die aantreklik­e Bruce (Jonah Dollery, ’n nuweling) vang Zoe se oog en hulle begin met mekaar flankeer. “Danni kry nie vattigheid aan hom nie en wil Zoe oorreed om eerder huis toe te gaan, maar Zoe sê vir Danni sy hoef nie ge- mother te word nie en Danni kan huis toe gaan as sy wil want sy, wat Zoe is, is nog lank nie klaar met Bruce nie.”

Later die aand wanneer Zoe en Bruce by haar tannie Bridgette (Denise Newman) – wat weg is op ’n sakereis – se huis opdaag, besluit Zoe sy het dinge dalk te ver gevoer en Bruce moet eerder huis toe gaan. “Maar Bruce het ander planne en vat nie nee vir ’n antwoord nie en dring homself aan Zoe op,” verklap Lauren. Uit vrees vir verkragtin­g gryp Zoe Bridgette se pistool in die kas en wanneer Bruce op haar afstorm, trek sy ’n skoot af en skiet hom dood!

MANNA UIT DIE HEMEL

Histeries oor wat gebeur het, bel Zoe die enigste mens wat sy dink haar kan help: Tim. Marco sê Tim is desperaat om sy vrou terug te wen. “Zoe se oproep om hulp is dus vir hom manna uit die hemel.” Met Tim se hulp raak hulle van Bruce se liggaam ontslae, en omdat Zoe nie alleen wil wees nie, laat sy Tim toe om vir eers by die huis te oornag.

Die volgende dag wanneer Bridgette tuiskom is sy geskok om Tim weer in haar huis te sien. Zoe moet vinnig vure doodslaan. “Zoe sê vir Bridgette sy het ’n aandjie uit gehad en te veel gedrink. Toe sy by die huis kom, het sy baie alleen gevoel en vir Tim gebel,” sê Lauren. “Sy het gedink daar is nog unfinished business tussen hulle en in haar dronkenska­p het sy gedink dis ’n goeie idee om dinge te probeer uitpraat.”

OP DIE SPEURDER SE RADAR

Tim reik uit na Zoe en dink met die geheim wat hulle nou deel, kan hulle werklik versoen, maar Zoe maak dit duidelik sy wil steeds skei.

Intussen begin speurder Els (Roeline Daneel, AltaMarie in Arendsvlei, lees meer op bl. 23) rondsnuffe­l nadat Bruce as vermis by die polisie aangemeld is.

Sy volg leidrade wat haar tot reg voor Zoe se deur bring en dan vang speurder Els vir Zoe uit in ’n leuen! “Presies watter leuen Zoe vertel, mag ek nie sê nie,” sê Lauren, maar Zoe is vir seker nou op speurder Els se radar.

DIE LIGGAAM WORD GEVIND

Bridgette kom van Bruce se verdwyning en Zoe se moontlike betrokkenh­eid te hore en soek antwoorde. “Zoe sê vir Bridgette Bruce het gelewe toe hy haar by die huis gegroet het. Sy sê vir haar tannie sy is nie ’n moordenaar nie,” sê Lauren.

Of Bridgette haar glo, is ’n ander storie, want kort daarna word Bruce se liggaam gevind! “Zoe is met afgryse vervul en dink sy en Tim was agterlosig as die lyk so gou gekry is. Sy is reeds op die polisie se radar, nou is dit net ’n kwessie van tyd voor hulle haar in hegtenis neem.”

Tim gaan uit sy pad om Zoe te beskerm en gaan spreek speurder Els en sê hy is Zoe se alibi vir die aand van Bruce se verdwyning. “Hy sê vir speurder Els Zoe het Bruce inderdaad die aand ontmoet, maar het besluit het om hom huis toe te stuur, want sy het besef sy is net saam met Bruce om Tim terug te kry. En Zoe het vir Tim gebel om oor hul huwelikspr­obleme te gesels. Een ding het tot die ander gelei en Tim het die aand saam met haar deurgebrin­g,” sê Marco.

TIM SE PLEIDOOI

Zoe is geweldig gespanne terwyl die speurder Tim se verklaring ondersoek en is baie verlig wanneer dit lyk asof Tim se woord aanvaar word. Tim pleit by Zoe om sy liefdesdaa­d raak te sien. “Hy het pas ’n man se dood – wat Zoe veroorsaak het – help toesmeer. Hierdie nuwe verwikkeli­ng bind hulle vir altyd en hulle gaan in die toekoms op mekaar moet steun om dit te verwerk,” sê Marco.

Met dié woorde herbesin Zoe oor die egskeiding en stem in om met Tim te versoen. Bridgette is smoorkwaad wanneer sy daarvan hoor. En dan is Bridgette die een wat iets doen wat Zoe en Tim se lewe onherroepl­ik kan verander.

 ?? ?? Danni (middel) dink Zoe (regs) maak ’n fout om met Bruce (links) te flankeer.
Danni (middel) dink Zoe (regs) maak ’n fout om met Bruce (links) te flankeer.
 ?? ??
 ?? ??
 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa