Nevill Boersma, CITRUSDAL
Ondanks klimaatsverandering en ’n wêreldbevolking wat teen 2050 op 10 miljard gaan staan, is ek as plantwetenskaplike vol vertroue dat ons daarin sal slaag om oor 45 jaar genoeg kos vir die mensdom te kweek. Die boere van die toekoms gaan groter, voedsamer oeste op kleiner plase produseer – en boonop minder water, chemiese plaagdoders en kunsmis gebruik. Én ’n kleiner impak op die omgewing hê.
Ek en honderdduisende ander wetenskaplikes, landboukundiges en boere meen geneties verbeterde plante is een van die belangrikste maniere waarop ons hierdie toekomsvisie gaan verwesenlik. Maar as jy een van daardie mense is wat glo Checkers se vet rooi aarbeie is vol visgene of wetenskaplikes staan in landerye en takel mielies lukraak met ’n spuitnaald, gaan jy waarskynlik nie my entoesiasme deel nie.
Net soos klimaatsverandering en inentings is genetiese modifikasie (GM) ’n emosioneel gelaaide turksvy wat veral aangehits word deur “hoogleraars” aan die Universiteit van Google waar enigeen mites as feite kan opdis en goedgelowiges met wolhaarstories en ongegronde vrese op hol kan jaag. Belangegroepe kry ook die kans om hulle propaganda as klinkklare wetenskap aan te bied sonder dat ’n enkele haan daarna kraai.
Dit frustreer my hoe moeilik dit vir niewetenskaplikes kan wees om akkurate inligting oor plantbiotegnologie te bekom. Natuurlik ondersteun ek die media se mandaat om gebalanseerd oor wetenskaplike kwessies verslag te doen, maar ongelukkig weerspieël dié berigte dikwels nie die ware feite nie. Ons lees gedurig hoe “omstrede” GM is, maar 99% van dié omstredenheid word deur antigmaktiviste in die media aangewakker en bestaan nie onder wetenskaplikes nie. Trouens, in wetenskapskringe heers daar kalm konsensus, ondersteun deur ’n magdom studies en data wat oor baie jare versamel is: GM kos is veilig, en GM plante is een van ons belangrikste hulpmiddels vir volhoubare kosproduksie. Vir ons én toekomstige geslagte. eienskappe – soos weerstand teen droogte of siektes – te identifiseer en dan met mekaar te kruis om al daardie gewenste eienskappe in die nageslag byeen te bring. Daarna moes hulle dikwels dekades lank sukkel om dieselfde plantjies weer en weer en wéér met mekaar te kruis om van al die óngewenste eienskappe – soos allergene of lae opbrengs – ontslae te raak. Sien, al stel ons net belang in die effek van één geen, het die ou manier van doen tienduisende gene van die ouerplant aan die nageslag oorgedra. (Terloops, hierdie vermenging van gene wat die mensdom al eeue lank toepas, is niks anders nie as ’n vorm van genetiese modifisering. Dit verklaar hoekom daar nie in die natuur iets soos ’n koolkop of worshond voorkom nie!)
Danksy hedendaagse molekulêre tegnieke is plantteling meer subtiel en akkuraat as ooit tevore. Ons kan plantgene nou veel noukeuriger redigeer om van ongewenste eienskappe ontslae te raak, of om net die enkele geen wat van belang is oor te dra. Die stukkie DNS vir daardie geen kan afkomstig wees van ’n individu van dieselfde spesie, ’n verwante spesie, of selfs van ’n onverwante spesie. Omdat hierdie geen uiters deeglik bestudeer is, weet ons presies wat die funksie daarvan is, in teenstelling met die duisende onbekende gene wat vroeër oorgedra is.