Die spoke van Strydenburg
Julle redakteursbrief ( Platteland #6) oor die verval op Strydenburg het my gedagtes ver teruggevoer. Ek was in sub B toe ons van De Aar af Strydenburg toe getrek het. De Aar was ’n groot dorp met geriewe en 220Velektrisiteit; met Strydenburg se 32V kon jy net ’n paar ligte in die huis laat brand.
My pa was die stasiebevelvoerder van die polisie en het soms manalleen en sonder ’n vuurwapen padblokkades op die N12 gehou.
Vir my ma was dié skuif die moeilikste: Sy moes van al haar elektriese toestelle ontslae raak en paraffien, steenkoolen gasmodelle aanskaf. Op koue wintersaande het die dorp se kragopwekker só swaar getrek dat oom Nieklaas van die kragstasie almal moes opbel en vra: “Laat net twee ligte brand. Die enjin kry swaar!”
Soos op alle klein dorpies destyds het die daaglikse lewe om die skool en kerk gedraai. Die wit skool het van sub A tot matriek minder as 100 kinders gehad en die bruin skool was oorvol. (Die skoolbestuur het later uit desperaatheid wit kinders uit die stede “ingevoer” om die situasie te probeer beredder.)
Met al dié herinneringe ry ek en my vrou toe amper 50 jaar later weer Strydenburg toe. Dit lyk maar droewig en oral loop diere rond wat kos soek op die vullishope langs die strate!
Ons ry verby rye en rye huisies. Die Ebenhaeserskool van vroeër lyk heel anders en volgens ’n bron op die internet is daar nou 791 leerders wat deur net 19 onderwysers onderrig word. Al die leerders se skoolgeld word deur die Noordkaapse regering gesubsidieer.
By die Excelsiorhotel wat oom Andries van der Merwe nog gebou het, lyk alles stil en verlate. Die kelner met die rooi tosselhoedjie wat gaste ontvang het, is nie meer daar nie. Die hotel is in die mark en die deure is gesluit. Ons ou huis is erg verwaarloos en die tuin bestaan ook nie meer nie.
Voor my geestesoog sien ek die eens netjiese dorp, en baie vrae maal deur my kop: Hoe gaan ’n dorp só erg agteruit? Wie se skuld is dit dat al die ou bome saam met die dorp gesterf het?
As Strydenburg wil oorleef, sal hy alles in die stryd moet werp om sy mense te behou, anders sal hy binne ’n paar jaar in ’n spookdorp verander!
Staande van links is Anlu Gagiano van Robertson, Naomi Viljoen van Swakopmund, Lumari van der Vyver van Robertson, Sarel Oberholzer van Pretoria, Bettie van Wyk van Brackenfell, Esley Erasmus van Kirkwood, Johan Kotze van Caledon, Marietjie du Preez van Stellenbosch, Jannie Kruger van Vanrhynsdorp, Lorna Engelbrecht van Naboomspruit, Christophe Dehosse van Joostenberg, Roux Gildenhuys van Wellington, Elise Steenkamp van Brits, Annaleen Verster van Stellenbosch, Chris Venter van Upington, Marian Hahn, Ben Krog van Somersetwes en Japie Gouws (besturende direkteur van die ATKV) van Pretoria. Voor is Steve Kirkcohen en sy vrou, Colleen, van Kaapstad.
Ons hou van vinger wys – dis een van daai eg “menslike” eienskappe van moreel meerderwaardige skepsels wat voel hulle – of iets waaroor hulle sterk voel – is beswadder, wanbestuur of onregverdig behandel.
Vingerswaaiers hou gewoonlik ook van ’n onbevoegde regering wat hulle wysvinger sulke goeie oefening gee, maar kan vreemd genoeg nooit daardie einste vinger omswaai en ’n slag selfondersoek doen nie.
Die waterkrisis is ’n goeie voorbeeld: Ons tel onder die 30 droogste lande ter wêreld, ons waterbronne is chronies onder druk, en weens stygende temperature wat deur klimaatsverandering veroorsaak word, word dit net al hoe droër. Volgens die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad in Pretoria het die aardtemperatuur die afgelope 100 jaar met 0,9 ºc gestyg, maar in die Suiderafrikaanse binneland is dit nader aan 2 ºc, wat rampspoedige gevolge vir kosproduksie inhou. Voeg daarby munisipale infrastruktuur wat verkrummel, onvoldoende instandhouding van watersuiweringsaanlegte en ’n tekort aan damme, en ons land staan op die rand van ’n waterkrisis wat ons elektrisiteitsmoleste soos ’n vulletjie laat lyk.
“Ja,” hoor ek die vingerswaaiers kla, “dis ’n nasionale skande.” En hulle is reg. Omgewingskundiges is dit eens dat ingrypende waterbeperkings en onderbrekings ons voorland is tensy die regering die waterkrisis ’n prioriteit maak.
In Januarie vanjaar het ’n waterreservoir leeggeloop op Prins Albert, die Karoodorp waar ek woon. Dit was ons warmste Januarie in 60 jaar en ’n groot deel van die dorp moes twee dae lank sonder ’n druppel water klaarkom. Die vingerwysers het dadelik die munisipale amptenare in hulle visier gehad: Die spul is onbevoeg en moet óf dadelik tot aksie oorgaan óf hulle tasse pak. Die munisipaliteit se reaksie was bra louwarm, wat natuurlik net vet op die vuur van die vingerwysers was.
Maar nie ’n enkele keer het die moreel meerderwaardiges die hand in eie boesem gesteek nie. Skaars ’n week ná die waterkrisis – en ondanks pleidooie van die munisipaliteit om water te spaar – moes ek toekyk hoe mense hulle kar met die tuinslang was en munisipale water gebruik om hulle uitheemse tuin aan die lewe te hou – en dít in die snikwarm somermiddae.
Ons dorp is ’n gewilde toerismebestemming wat aan die voet van die Swartbergpas, ’n Wêrelderfenisterrein, lê. Ons het reeds meer as 600 beddens vir besoekers en die munisipaliteit ontvang steeds aansoeke om nóg gastehuise oop te maak. Prins Albert is nie ’n dorp waar mense lank kuier nie; die meeste besoekers bly hoogstens twee nagte oor. Maak die somme: 600 stelle bedlinne en handdoeke wat elke tweede dag gewas word in die hoogseisoen, wat ook die warmste maande van die jaar is. Dit is ’n skokkende hoeveelheid water, veral as ’n mens in ag neem dat die dorp se gemiddelde jaarlikse reënval maar 177mm is vergeleke met die nasionale gemiddelde van 495mm en die wêreldgemiddelde van 1 033 mm.
Plaaslike wetenskaplikes waarsku die Karoo se grondwater, wat reeds deur die hidrobrekingplanne van olieen gaskonglomerate bedreig word, word verder in gevaar gestel deur dalende reënvalsyfers. Tog laat die inwoners net nóg boorgate boor om hulle eiendom groen te hou. Party van hierdie boorgate het reeds opgedroog...
Daar is ook ’n verstommende hoeveelheid swembaddens op die dorp wat hoogstens vier maande van die jaar gebruik word en wat ’n groot hoeveelheid water verg om vol te hou.
Volgens ’n verslag van die Instituut vir Sekerheidstudies is Suidafrikaners – ook ons hier in die dorre Karoo – groot morsjorse as dit by water kom. Ons gebruik elke dag 235 liter per persoon vergeleke met die internasionale gemiddelde van 173 liter, en 37% van ons skoon drinkbare water gaan verlore deur lekkende pype, krane wat drup en ander ondoeltreffende watergebruike.
“Dit is die volgende 10 jaar se watervoorraad – ’n ekstra derde wat ons eerder kan gebruik,” sê Christine Colvin van die Wêreldnatuurfonds se Varswaterprogram.
Dit is tyd dat ons ernstig ondersoek doen na hoe ons as individue water mors en stappe doen om dit stop te sit. Elke druppel wat gespaar word, is ’n druppel vir die toekoms. Of soos Edna Molewa, voormalige minister van water en omgewingsake, verlede jaar gesê het: “Sowat 98% van ons water is reeds toegewys. Dit beteken dat my kind en jou kind wat môre gebore word, net 2% water het om in die toekoms te gebruik.”
Vra dus jouself af voor jy vinger swaai: “Wat het ék vandag gedoen om ’n druppel water te spaar?”