Boere en booswigte
Soos baie ander lesers het ek die koms van nóg ’n nuwe tydskrif deurgemaak met die hoop dat dit die toets van ons ekonomiese tye sal deurstaan… as ’n ou lief is vir die papiermedium, is ’n lieflike tydskrif soos Platteland met sy keurige vermenging van artikels, geselsies en interessanthede ’n aanwins in enige huis.
Aangesien ek die afgelope ses weke in ’n hospitaalbed moes deurbring, kon ek nie wag vir julle winteruitgawe nie. En tog, in my hart bly daar ’n vorm van terughou en oor my skouer loer... Sien, ek is self ’n gebore plaaskind. My ouers het buite Vredendal geboer in tye toe boerdery nog ’n edel bestaan was, maar ons boere word ongelukkig nou die teiken van boosdoeners.
Deur die jare het ek altyd ’n begeerte gehad om self te boer – iets waarvoor ek nou glad nie meer kans sien nie.
Hoe boer en voer jy ’n bestaan as jou lewe en dié van jou familie bedreig word?
Terwyl ek so deur die Platteland lees, wonder ek hoeveel van die lesers voel soos ek. Hoeveel sou ook graag platteland toe wou skuif as die omstandighede in ons land anders was? Hoeveel kinders word om hierdie rede ’n sorgvrye plattelandse bestaan ontneem? En sal die wiel ooit weer draai sodat hierdie ellendes kan einde kry?
Tot dan, baie dankie vir ’n uitmuntende tydskrif – ek sal voortgaan om my in die lekkerte daarvan te verlekker!