Weg! Platteland

Agteruit op die Joubertspa­s

- Ds. Louis Pienaar, TZANEEN

Julle artikel oor onder meer Lady Grey het my ver laat terugdink. Ons was in 2004 van Limpopo af op pad na Oos-londen waar ek tydelik moes gaan werk.

Ons kinders het ’n nag in die Lammergeie­r-natuurrese­rvaat oorgebly en laat weet ons moet kom kyk hoe mooi dit daar is. Ek het die padkaart geraadplee­g en gesien die Joubertspa­s, wat suidwes van Lady Grey loop, het ’n helling van 1:5. Dit sou ’n uitdaging wees in ons 1960 Bedford-ryhuis waarvoor ek ’n Ford- enjin moes laat installeer omdat Bedfordond­erdele onverkrygb­aar was.

Ná ’n rustige nagrus in Lammergeie­r benader ons toe die Joubertspa­s... alles gaan goed tot so driekwart teen die 1:5-helling uit, toe die eerste rat te vinnig en te swak is om die groot bak teen die pas uit te trek! Draaiplek is daar nie – dis eintlik eenrigting­verkeer – en agteruit is al uitweg. Die ryhuis se woondeel was 50 cm uitgebou aan weerskante van die kajuit, en die enigste manier om agteruit te ry was met behulp van twee spieëls.

My vrou, Bes, klim toe maar uit en beduie van voor af hoe ek agteruit moet ry teen die wrede helling af, wat boonop ’n paar kronkels gehad het. Daardie driekwart kilometer het soos ’n ewigheid gevoel.

Vier jaar later het die Joubertspa­s steeds by my gespook, maar dié slag het ons in ’n 1986 Suzuki Vitara gery. Wat ’n heerlike rit. Die platteland en die natuur met al sy wonders bly darem maar bobaas.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa