HONGER GEE GM ’N ÁNDER GEUR
Oral om ons is voorbeelde van genetiese modifisering: foksterriërs, kwepers, die mens... Tog het hulle nog nooit ter sprake gekom in die besprekings wat ek al om etenstafels gehoor het nie – tafels waar welgevoede, dikwels swaarlywige mense die verdienstelikheid al dan nie van dié praktyk bespreek.
Gestel ’n mens hou die debat in Somalië: Die deelnemers sal waarskynlik anders lyk en vra waaroor die bohaai nou eintlik gaan – en dalk ook die sak eet waarin die mieliemeel afgelewer is.
Die waarheid is dat laboratoriumgedrewe GM in Suid-afrika grootliks beperk is tot mielies en katoen. Ja, daar is gevare, maar in ’n wêreld waar 30% van geproduseerde kos vermors word en die helfte van die wêreldbevolking van 7 miljard onder die broodlyn leef, sou ’n mens dink die positiewe daarvan om kos vinnig en kostedoeltreffend te produseer weeg swaarder as die negatiewe. Die welgevoedes het ’n keuse.