Vry soos ’n voël
Op hulle plaas in Kwazulu-natal se Richmondvallei het Zofia en Ken Collett naam gemaak as eerlike hoenderboere wat daarna strewe om die gesondste moontlike vleis te produseer.
Al om die ander week klim die 56-jarige Ken Collett om 01:30, wanneer die meeste mans van sy ouderdom nog lê en balke saag, in sy Mahindra-bakkie en ry die 450 km van sy plaas in die Richmondvallei na Piet Retief. Daar laai hy 2 500 jong kuikens op voordat hy die vyf uur terug huis toe aandurf.
Ken doen dit met een doel voor oë: Om die dag oue kuikens so gou en so stil as moontlik by die huis te kry sodat hulle die lewe met ’n voorsprong begin.
“Elke lot kuikens speel ’n deurslaggewende rol om ons besigheid behoorlik te laat funksioneer,” verduidelik hy. “Enige toename in vrektes het ’n domino-effek op verkope en kontantvloei.”
Ken en sy vrou, Zofia, het 19 jaar gelede hulle plaas van 5 ha gekoop. Hulle het een van die geboue in ’n hoenderskuur omskep en elke twee weke 200 braaikuikens begin grootmaak, hoofsaaklik vir die lewendehoendermark. Dié syfer het mettertyd aangegroei tot 2 000.
Maar ses jaar gelede het Zof by ’n kruispad gekom. Sy het ’n klomp hoenders in ’n leë skuur gesit en hulle vry daar laat rondloop. “Toe ons daardie eerste vryloophoenders slag, kon ons letterlik die verskil próé,” onthou sy. Haar holistiese benadering het ’n hele nuwe koers ingelui. Kort voor lank het Zof en Ken geëksperimenteer met nuwe voer sodat hulle inentings en antibiotika kan uitskakel en die hoenders vry buite laat rondloop.
Die eksperiment het gewerk. Die produksie het opgeskiet tot 2 500 braaihoenders 02.55 elke twee10 Kilometersweke waarvan 2 000 vryloophoenders was. >
“Ons braaihoenders word grootgemaak volgens goeie ou outydse beginsels,” sê Ken. “Hulle ontwikkel meer spiere. Kommersiële braaihoenders word op 35 dae geslag; ons s’n is eers op 42 dae of meer op die regte slaggewig.”
Een van hulle prioriteite is om roetinemedikasie en -inentings uit te skakel. “Baie hoenderboere gee op ’n gereelde basis antibiotika om opportunistiese bakterieë hok te slaan. Maar ons hoenders word nie siek nie. Ons dien nie antibiotika of entstowwe vir siektes soos Newcastle-siekte toe nie. Ons gebruik net antibiotika as ’n hoender ’n snyplek kry. Ons het bewys jy hóéf nie hoenders vol medisyne te pomp nie,” sê Ken.
Die oplossing, sê hulle, lê in weer- standige genetika en baie sonskyn. “Ons boer met die Gravis-ras wat ons koop by Ken Baxter van Abilene Poultry op Piet Retief. Hy het die afgelope 30 jaar nie sy genetika verander nie. Ons hou daarvan. Die kuikens is gehard en sterk, en kan vry rondloop. Dis die moeite werd om ’n paar genetiese treë terug te gee vir die Gravis.”
Daarom is hy elke twee weke in die middel van die nag op om sy kuikens te gaan haal. Hulle word vinnig tuis gemaak in die broeikamer waar hulle vir twee of drie weke bly. Dan word hulle verskuif na een van nege hoenderskure. Een daarvan – die Rolls-royce, soos
‘Ons klante gee nie om om meer te betaal nie, want hulle weet ons hoenders is gesond en hol in die sonnetjie rond.’
Ken dit noem – beslaan 100 m² binne en 200 m² buite. “Die hoenders het baie plek en baie skaduwee, wat hulle meer buitentoe laat gaan. Hulle is kieskeurig as dit by weiding kom: kikoejoe is hulle gunsteling, gevolg deur paspalum,” sê hy.
Ken se sukses met vryloophoenders wat glad nie ingeënt word nie, trek die aandag, en al hoe meer boere kom kyk hoe hulle dinge doen. “Ons voel ons
speel ’n rol om etiese kosproduksie te bevorder,” sê hy. Zof behartig die verwerking en aflewering, en daarmee het die familie eienaarskap geneem van die hele waardeketting – van die vestiging van dag oue kuikens tot die bemarking. Hulle produkte is te kry in plaaslike supermarkte, en hulle het een keer per maand ’n diens waar huisvroue in Durban, Umhlanga en Ballito direk van hulle bestel, wat beteken Zof skakel die middelman uit – ’n prysvoordeel wat hulle help om kop bo water te hou. “Ons insetkoste is iets afgrysliks. Voer is ons grootste uitgawe – 53% van ons insetkoste. En dit kos R4 om ’n hoender te slag.”
Die volgroeide braaihoenders word na ’n geregistreerde abattoir gestuur. Hulle kom dadelik terug plaas toe waar hulle verkoel, verwerk en vakuumverpak word, en dan die kenmerkende “The Shed”-etiket kry en gevries word. “Ons produk is baie vars. Ons is mal daaroor om ons hoenders te eet,” sê Zof.
Heel hoenders en hoenderstukke maak 80% uit van die vleis wat hulle verkoop. Die res word gebruik om klaar produkte soos sosaties, plathoender, wors, patties en pasteie te maak.
Al is hoender by The Shed duurder as die produk van intensiewe braaihoenderboerderye, is plekke soos Rainbow Chicken nie hulle mededingers nie. “Ons dien totaal verskillende markte. Ons klante gee nie om om meer te betaal nie, want hulle weet ons hoenders is gesond en hol in die sonnetjie rond,” sê sy.
Die aanvraag is só groot dat Ken meen hulle sal twee keer soveel hoenders kan verkoop. “Ons is nie seker die tyd is ryp om die onderneming tot die volgende vlak te neem nie. Ons word oud. Ons seun, Wayne, help met die besigheid, maar hy besluit nog waar sy toekoms is; en ons dogter, Stef, studeer onderwys.’
’n Hoenderboerdery is nie maklik nie. “Ons moet die heeltyd op die plaas wees – ons kan nie net op ons personeel staatmaak om te weet wat die hoenders se behoeftes gaan wees nie. Die moord op ons vriend Eckhardt Schutte en sy vrou en seun in Maart laasjaar het ons ook nogal geruk,” sê Zof. “Maar ons is gaande daaroor om hier te bly. Saans wanneer ek op my perd ry of op die stoep sit en koffie drink, dan dink ek hoe bevoorreg ons is om dít alles te kan hê.”
The Shed 082 921 1816
theshed@satweb.co.za