Die 12 beginsels van permakultuur
Permakultuur berus op 12 ontwerpbeginsels wat volgens jou omgewing, klimaatstoestande en beskikbare hulpbronne toegepas word. Kobus Kritzinger verduidelik hoe hulle dit by Picardi Place se permakultuurtuin toegepas het.
1 Waarneming en wisselwerking “As jy op ’n dorpserf of kleinhoewe intrek, is jy geneig om alles plat te stoot en om te dolwe en dan voor te begin. In die proses verwoes jy waardevolle hulpbronne en die habitat van gevestigde bondgenote. Let op watter plante, diere en voëls in jou omgewing floreer – die welige wildemosterd in die wingerde om Picardi Place was vir ons ’n aanduiding dat ander lede van die koolfamilie ook van die grond en klimaat sal hou.” 2 Versamel en berg energie Dit lê opgesluit in natuurlike bronne soos die son, wind, water, grond en plantegroei, maar ook in die kennis van die gemeenskap. “Water wat oor ’n landskap vloei, hou byvoorbeeld enorme hoeveelhede energie in. As ons reënwater op die hoogste moontlike punt opvang en berg in ’n kontoersloot of dam, kan ons daardie energie stadig en beheers oor die hele terrein aanwend pleks daarvan dat dit binne ’n halfuur afloop en erosie veroorsaak.” 3 Produseer ’n opbrengs “Die hoofdoel van permakultuur is om kos te produseer. In jong stelsels sal jy af en toe ’n bloutjie loop – begin met maklike, relatief pesvrye gesonde kos soos blaarslaai, kruie, spinasie en seldery.” 4 Pas selfregulering toe en aanvaar terugvoer “Fokus daarop om eers ’n klein stukkie grond (eerder as jou hele tuin op een slag) vrugbaar te kry. Só kan jy jou hulpbronne konsentreer om ’n ryk kultuur van mikro- en
ander organismes te vestig en dit daarna na ander dele versprei.” 5 Bewaar en benut bronne Hernubare bronne is goud werd. “In die winter slaan hier oral massas ysterkruid op. Mense kan dit eet, en die hoenders is gaande daaroor. Ons los dit totdat dit ’n lekker bossie vorm en pluk dit dan net bo die grond af sodat dit weer kan uitloop.” 6 Moenie afval produseer nie “Danksy die hoenders en erdwurmplaas word geen organiese afval vermors nie. Wanneer jy ’n nuwe element inkorporeer, moet jy seker wees die stelsel kan in dié element se behoeftes voorsien en dat al die produkte daarvan óf deur mense óf die res van die stelsel opgeneem kan word.” 7 Eers ontwerp, dan detail “Maak jou tuinplan eers op papier klaar en begin dit dan stadig maar seker implementeer. Vestig eers elemente wat die grond bou en grondekologie bevorder. Begin dan met staatmakerplante wat sal help om die grond verder te bou en ’n nis help skep vir elemente wat ons oor die algemeen as meer produktief beskou – soos voëls en erdwurms.” 8 Integreer eerder as isoleer “Maak hoenders met behulp van ’n hoendertrekker deel van die tuin eerder as om hulle eenkant te hou. Só het hulle toegang tot groen voer, en met hulle geskrop help hulle om organiese materiaal wat maande sou neem om af te breek, binne dae weer deel te maak van die grond.” 9 Klein en stadige veranderinge “’n Mens is geneig om die eindproduk in jou agterkop te sien en dan so vinnig as moontlik daar te probeer uitkom. Die natuur werk anders. Onthou, die “perma” in “permakultuur” beteken permanent. Die stelsels waarvan ons praat, sal seisoen ná seisoen ryker en meer divers raak – mits dit natuurlik reg ontwerp en bestuur word. Die natuur jaag altyd ’n ewewig na en sal enige wanbalans probeer herstel.” 10 Benut en bewaar diversiteit “Om groente in rye te plant is soos om ’n mens alleen in die woestyn te sit. Jy moet ’n nis skep vir jou groente, ’n habitat waar voëls, erdwurms en voordelige insekte ook gelukkig is. Die natuur is geïnteresseerd in produktiwiteit, nie in netheid nie.” 11 Benut en bewaar grensgebiede “Waar twee ekostelsels bymekaarkom in die natuur – soos op ’n rivieroewer of waar ’n vleiland in die see loop – is daar groter biodiversiteit omdat die gebied die voordele van albei stelsels geniet. Deur meer grensgebiede in jou tuin te skep, byvoorbeeld met ’n kruiespiraal, skep jy meer mikroklimate waarin ’n groter verskeidenheid plante kan groei wat meer voëls en insekvretende diere lok.” 12 Benut en reageer kreatief op verandering “Namate jou stelsel meer volwasse raak, sal jy agterkom verandering is die enigste konstante. Mikroklimate verander byvoorbeeld soos plante groter raak. Dis belangrik om elke probleem of verandering as die oplossing vir ’n ander probleem te probeer sien. Jy het byvoorbeeld nie ’n slakprobleem nie, eerder te min eende.”
Die webwerf deepgreenpermaculture.com verduidelik dié beginsels met behulp van sketse en diagramme. Klik op
die “Principles”-balkie.
Geoff Lawton, wat as Mollison se opvolger beskou word, beskryf permakultuur as “die ontwerp van produktiewe landbou-ekostelsels met dieselfde diversiteit, stabiliteit en skopkrag as natuurlike ekostelsels”. Kortom: ’n volhoubare manier om ons te voorsien van kos, energie en ’n plek om ons skoene uit te skop.
Maar dis ook ’n grondvlakbeweging van individue en organisasies wat saamstem oor drie beginsels: “care of the earth”, “care for people” en “fair share”.
Wat kan jý doen?
Permakultuur is al deur die Britse permakultuurkenner Mike Feingold beskryf as ’n “revolusie vermom as tuinmaak”, en die toepassing daarvan het meer vertakkings as ’n ou akkerboom. “Maar dit is nié bloot ’n ander naam vir organiese tuinmaak nie,” sê Kobus, wat vanjaar weer skoolhou, maar nog een keer per maand ’n basiese inleiding tot permakultuur aanbied op Kuruma, ’n ander plaas in die distrik.
“Kombuistuine is maar één van vele elemente binne ’n groter permakultuurstelsel. Met permakultuur probeer jy die natuur naboots deur nisse vir soveel as moontlike elemente te skep. Jy doen dit deur wisselwerking aan te moedig en deur middel van sinvolle ontwerp hoogs produktiewe ekostelsels te skep wat ryk is aan diversiteit en lewe.”
Tog is dit juis in kombuistuine en gemeenskapstuine – selfs in potte op ’n balkon – waar Jan Alleman die moue kan oprol en ’n daadwerklike bydrae kan lewer om ’n groener, gesonder toekoms te verseker. Of soos Mollison in sy boek Permaculture –A Designers’ Manual skryf: “The greatest change we need to make is from consumption to production, even if on a small scale, in our own gardens. If only 10% of us do this, there is enough for everyone.”
“Gesonde, natuurlike kos is nie veronderstel om iets te wees waarvoor ons moet betaal nie,” sê Kobus.
Jaco stem saam. “Dit is lekker om nie van ’n supermark afhanklik te wees vir jou kos nie, om erfenisgroente te kweek wat jy nie op die winkelrakke sal raakloop nie, en om erfenissaad uit te ruil met ander tuiniers.” Jaco ondersteun die “fair share”-beginsel van permakultuur wat behels dat jy met ander deel as jy te veel van iets het. Wat hierby aansluit, is die amper ouwêreldse beginsel van >