Meerdoelige plante
Soos met alle permakultuurelemente moet plante in die permakultuurtuin
minstens drie funksies verrig. Kobus deel sy gunstelinge.
Komkommerkruid (borage)
“Dié kruid is onontbeerlik, veral in die Wes-kaap met sy strawwe winters. Dit groei regdeur die winter en is ’n wonderlike bron van groen materiaal wanneer baie ander plante swaarkry. Bye is mal oor die pragtige stervormige blou of pienk blommetjies. Die blare is harig, maar eetbaar en baie gesond.”
Origanum
“Die hele origanumfamilie is staatmakers, maar veral die soet marjolein wat deur die somer en winter groei. Die wit blommetjie lok voordelige insekte. Papierwespes is van die doeltreffendste predatoriese insekte en moet te alle tye welkom geheet word. Ek het al op een somersoggend meer as tien wespespesies op een marjoleinbos getel.”
Artisjokke
“Dit is een van die eerste blomme wat die lente groet, én die blomme smaak heerlik. Die tamaai blare dien ook as komposmateriaal of kitsgrondbedekking.”
Boerbone
“Hulle groei in wind en weer, regdeur die winter wanneer daar nie veel in die groentetuin aangaan nie. Danksy die rhisobium-bakterieë op hulle wortels is boerbone doeltreffend om atmosferiese stikstof in die grond te bind. Plant dit in die herfs onder al jou vrugtebome, oes die bone aan die einde van die winter en kyk hoe jou vrugtebome pronk in die lente danksy al die ekstra stikstof in die grond. Onthou dat jy dan natuurlik net die stingel van die plant bo die grond moet afsny – moet dit beslis nie uittrek nie!”
Smeerwortel (comfrey)
“Daar is verskeie soorte, maar ek verkies die Russiese variëteit. Hy produseer massas blare wat propvol kalium is. Kalium is die element wat blom- en vrugset by plante bevorder. Ek plant dit dus veral onder of naby vrugtebome. Dit werk ook baie goed om ’n kompostee te maak. Én dit het vele ander gebruike – van hoenderkos tot lipsalf.”
ruilhandel, wat hy en sy buurman laat herleef deur byvoorbeeld ’n sakkie knoffel vir ’n kan melk te ruil.
Deur jou eie kos te kweek verklein jy jou koolstofvoetspoor én jy spaar geld. Jy skep blyplek vir voëls en insekte en help biodiversiteit bewaar. Jou kombuisen tuinafval word ’n aanwins vir jou komposhoop, wat uiteindelik weer die grond gaan voed. En wat is lekkerder as om die son op jou vel en grond tussen jou vingers te voel?
Tog, sê Jaco, is die grootste uitdaging vir baie mense om te alle tye sáám met die natuur te werk en nie die vinnige, dikwels meer vernietigende uitweg te kies nie. “Dis soveel makliker om slakpille te gooi as om slakke met radysaanplantings op beddingrande te probeer weglok en hulle met die hand af te haal. Verder het dit my ook tyd geneem om uit te werk watter plante goeie metgeselle is in ’n bedding en om wisselbou korrek toe te pas. Met permakultuur leer jy elke dag – en nie uit ’n boek nie. Jy moet wérk in jou tuin.”
As opgeleide landskapstegnoloog was dit vir hom moeilik om gewoond te raak aan die “chaos”. “Landskapstegnoloë wil mos alles in netjiese rye plant, maar permakultuur is farming God’s way.”
Die probleem is dat ons in ’n toenemend komplekse wêreld met al hoe komplekser probleme vergeet dat die oplossings verrassend eenvoudig bly, skryf Mollison in sy bakenwerk.
Permakultuur is nie net ’n oulike idee nie. Dit is ’n praktiese manier om ’n verskil te maak in ’n gulsige samelewing. Dit is ’n tree nader aan ’n gesonder, groener, volhoubare toekoms. Waar mense mekaar en die aarde respekteer. Permakultuur is dalk net die permanente kuur wat die wêreld nodig het.