Bestemming
Op pad Baviaanskloof toe? Trek af by Uniondale, Willowmore of Steytlerville
Op Willowmore raak die wintersonnetjie yl op die horison. Die strate het gaan stilstaan, agter gordyne en op stoepe gaan ligte aan, en bo The Willow-gastehuis trek ’n flerts kaggelrook die lug in waar die sterre netnoumaar gaan begin skitter soos hulle net hier in die Oos-kaapse Karoo kan uithaal en wys.
Dan, die gedreun van ’n V8. ’n Ordentlik besmeerde Jeep Cherokee-4x4 draai by die gastehuis se lappie parkeergrond in. Die blonde vrou agter die stuur draai haar ruit oop: “En hoekom het julle kar so min modder op?”
Pier Blommaert, ’n prokureur van Stellenbosch, glimlag van oor tot oor. Sy en haar man, Allie, ’n advokaat, het pas die 203 km van Patensie af gery.
Deur die Baviaans. Die kloof. Natuurwonderwêreld. Plek van die bobbejane. >
4x4-mekka. Een van daardie rare plekke op aarde waar mense weer klein word.
DIÉ TYD VAN DIE JAAR is die Baviaanspelgrims dunner gesaai. In die laatlente en somer, dán is dit ’n ander storie, sê Pepi van der Merwe, een van die dorp se kleurrykste karakters, die volgende oggend by die eetplek Sophie’s Choice.
“Van einde November tot Januarie is hierdie plek mal, veral in Desembermaande. Die karre staan bumper-tobumper, man! En dan weer oor Paasfees en met die Trans-baviaans- en Karoo to Coast-bergfietsresies.” Hy draai na die man wat pas by die tafel langsaan kom sit het, kyk hom stip aan. “Ons moet seker familie wees, want jou bek is net so groot soos myne!” Hy skud van die lag.
Pepi is al amper veertig jaar op die dorp doenig.
“In die laat sewentigs was ek ’n mediese tegnoloog in die Kaap, maar die Kaap het amper te klein ge-word vir my. Ek was ’n hoer, die heeltyd in nightclubs – ek het so half vermoed ek gaan in die tronk eindig, of my doodsuip of iemand vermoor. Maar iewers moet jou lewe beginne draai, jy weet...”
Toe gaan hy na Pep se bestuurskool toe. “Dis ook waar ek my naam gekry het. Pepi is my straatnaam, Deon my kantoornaam.” Weer ’n lekker laggie.
“In 1978 kom ek toe hiernatoe om die Pep reg te ruk. Saans het ek by die bar gewerk van die Royal-hotel, en só die mense van die dorp leer ken. Ek was so 22, 23 jaar oud. En skaars drie maande later toe vra die eienaars van die hotel of ek nie dalk die plek vir hulle wil run nie. Anders as vandag waar mense maklik van die een job na die volgende spring, was dit daai tyd nog ’n skande om ’n rolling stone te wees. Toe lag ek maar en sê julle moet onthou, julle deal nou hier met die tweedegrootste poep—l ter wêreld – die grootste een moet nog gebore word. Maar toe maak hulle my in elk geval die manager en ’n aandeelhouer. En dit was nie sommer ’n hierjyhotel nie, hoor! Dit was nog die dae van wit handskoene en swart baadjies en sewegangmaaltye – uiteindelik het ek dit tien jaar gedoen.”
Vandag besit Pepi verskeie besighede op die dorp – die Keurfontein-gasteplaas 10 km uit op die Uniondalepad, Sophie’s Choice (sy vrou, Sophia, se plek), Belly Deli, Karoo House Meat & Wine, The Willow (“dis nou my dogter se storie daai”), Baviaans Heritage Tours, Pepi’s Take Aways…
Soms het dit maar moeilik gegaan. “In die jare negentig het ons ’n ontvolking van die platteland gehad. Daar was ’n nuwe regering en skole het tot niet gegaan omdat mense hulle kinders na groter stadskole, landbouskole of skole met beter geleenthede gestuur het. Maar dit was altyd my droom om die dorp weer op te tel: Ek het vir almal gesê hierdie dorp sal weer opstaan. Dan het hulle vir my gelag en gesê: ‘Jy’s lekker mal, man, Pepi!’ ” >
‘Vandag, sê Pepi, is Willowmore een van die “nice- ste” plattelandse dorpies in die Karoo.’
Vandag, sê hy, is Willowmore een van die “nice-ste” plattelandse dorpies in die Karoo. “Om te oorleef het ek nog altyd geglo 1) Jy moet gelukkig wees en 2) Jy moet ’n droom hê.”
Saam met hom droom sy vrou, Sophia, wat vandag plat in die bed is met griep. Pepi kyk om hom. Dis bedrywig hier by Sophie’s Choice, al is dit die middel van die week in die middel van die winter. Locals én toeriste kom sit aan vir goeie koffie, dalk ’n burger of tramezzini, selfs middagete met regte Karooskaap. “Hierdie is haar handewerk. Voorheen was dit so ’n kontreiwinkeltjie waar hulle vir jou Ricoffy gemaak het, maar sy het die plek verander in wat jy hier sien. Ek is maar die gebou-ou. Dis lekker om iemand soos sy te hê wat saam met jou hardloop.”
BUITE IN DIE HOOFSTRAAT staan twee donkies kop onderstebo en kou verveeld aan ’n hopie gras wat voor hulle op die teer neergesit is. Jim Makwena is die man wat hulle bederf terwyl hulle wag op die volgende toeriste wat ’n draai deur die dorp wil ry op die donkiekar. Vandag is dit Suzie en Bessie wat met geel plastiekblomme opgedollie is – hulle susters Patrys en Sweetlin is van diens af.
“Ek hou van Willowmore,” sê Jim, wat al so twee jaar die donkiekar ry en “so agt trippe” per dag doen. “Hy is nie so woelig nie en hier’s nie die tipe mense wat jou sal seermaak nie.”
Ons betaal en klim op. “Suzie, Bessie! Hup-hup!” por Jim die twee aan terwyl hy met sy tuisgemaakte tousweep op die pad slaan. Regs in Kerkstraat, weer regs in Victoriastraat, verby pragtige ou huisies waar bouers besig is met
opknappingswerk. Vir oulaas dan weer: “Hup-hup. Suzie, Bessie! Hup-hup!” voordat ons regs draai in die hoofstraat en Jim sy donkies lawe .
Die hoofstraat is waar die meeste dinge op Willowmore maar gebeur – van die noordekant waar Haylin Zana en Boeta Davids vroegoggend staan en tol gooi, tot by die suidekant, waar jy die dorp uit Uniondale se koers binnekom, waar die Kapoet-padstal onlangs sy deure geopen het. By dié koffiewinkel kry jy lekker eetgoed, inmaakgoed, dekorgoed en handwerkgoed.
Ons het hoeka gistermiddag van Kapoet se koedoepastei geëet op die plaas Schildpadbeen, waar Ben van Heerden, ’n oudadvokaat en -waarnemende regter, boer en onder meer ’n gawe olyfolie maak. Sy vennoot, Kemp J. Kemp, wat nog in Durban as advokaat praktiseer, het die pasteie hier kom koop – dit verklaar die papiertjie wat nou hier by Kapoet agter die kasregister opgeplak is: “Skilpadbeen se oom het 2 Coke’s vergeet.”
Nadine Olivier, ’n arbeidsterapeut wat in Bloemfontein gestudeer en in Pretoria gewerk het, werk in die winkel. Sy trou in Oktober met Boy Lotter, ’n boer en broer van Hennie Lotter, die eienaar van Kapoet. Sy en haar aanstaande skoonsusters help hier én in die familie se gastehuis, Lapidaria.
“Ja, dis familie – ek help maar so oral. Hier leef almal uit een pot uit,” lag sy. “Mense vra gereeld wat is hier te doen, maar dis nie eintlik baie nie. Die plek is wonderlik omdat hier lekker mense is, en almal kuier maar so rond op die plase. Die dorp het ’n lekker buzz.”
“Ja, dis lekker om te sien dinge gebeur op ons ou dorpie – ek is trots op Willowmore,” het Ben gister gesê toe die pasteibak leeg was. En, met ’n glimlag: “Sê tog groete vir ou Pepi van der Merwe… julle sal die ou wel raakloop.”
Steytlerville
Voor die Royal-hotel in die netjiese hoofstraat van Steytlerville staan ’n Isuzu- en Hilux-4x4 met onderskeidelik ’n Sprite-woonwa en ’n boswa geparkeer. Baviaans-perde?
Verder is die straat stil. Tog is winkeleienaars nog effens verbluf oor gister se moleste toe munisipale werkers vir die eerste keer in die dorp se geskiedenis die strate vol vullis gegooi het – boonop skaars ’n week nadat die vonke gespat het oor die Afbakeningsraad se plan >
om Steytlerville en Willowmore deel te maak van die Ikwezi-munisipaliteit en die groter Kamdeboo-munisipaliteit. Ja, die gemors is al opgeruim, maar so iets ken hulle nie.
“Vandag is my hart seer, want ons dorpie is seker een van die netjiesstes wat jy kry,” sê Elize Joubert, eienaar van Die Rooi Malva-padstal-en-koffiewinkel waar die geur van vars vetkoek in die lug hang. “Dan kom maak hulle so...”
Elize is hier gebore, en sy hou juis van die stilte, die rus en vrede op die dorp. Hoewel sy weet daardie stilte wyk in die vakansietye, wanneer die Baviaansvoete deur die dorp kom. Dan vlieg haar ouma Liesie se “velletjiesvetkoek”, ’n spesiale hol vetkoek wat jy papierdun druk voor jy hom in die olie bak, en haar ouma Anna se koekies. “Dis baie lekker as hier ’n vreemde gesig inkom en spesifiek vra vir Ouma Anna se koekies.”
Sondae in die kerk word Elize herinner hoe klein die dorp eintlik is, want dan kry ’n skamele 180 lidmate hulle sit in die lieflike ou Eduardiaanse kerk wat ontwerp is vir 1 200 mense – ’n kerk wat op sy dag elke Sondag stampvol was.
“Dis maar oor baie van die kleiner boere uitverkoop het aan die groter ouens – meestal sybokhaar- of skaapboere. Vroeër jare het die dorp ook water gehad – ons het uit die rivier uit natgemaak, maar daai dae is verby...”
Oorkant die straat bedryf Elize se suster, Leone Maasdorp, ’n tuisnywerheid. En nee, sy’s nie kompetisie vir Elize nie. “Ek motiveer vroutjies om vir my te bak en skep ruimte vir ander om ’n geldjie te verdien – tans het ek 18 aktiewe bakkers.”
Tog, sê sy, kom jy nie Steytlerville toe om ryk te word nie. “Hier is rus en vrede, en dis mos ook rykdom!”
STEYTLERVILLE HET AL bekende inwoners gehad: Die digter A.G. Visser was sewe jaar die dokter en kerkkoorafrigter op die dorp. En dan is die rugbylegende dr. Danie Craven in 1938 hier getroud met ’n plaaslike boorling, Beyera Hayward. Die egpaar se seun dr. George Craven woon vandag nog op die familieplaas, Noorspoort, en dis hy en sy kinders wat die rits vlae langs die R329 buite die dorp teen die kranswande geverf het – almal was in ’n stadium die amptelike landsvlag. (Dis ook George wat in 1981 die organisasie ROEP – Red Ons Eie Platteland – gestig het.) >