Weg! Platteland

Orgideë

Ken jy vir André Beaurain en Corné Pretorius? Die ouens daar van Riebeek-wes wat met tuine – én orgideë – kan toor?

- TEKS JEANNE VAN DER MERWE FOTO’S KOSIE JANSEN VAN RENSBURG

Dis maklik om die Riebeekval­lei-tuinsentru­m mis te ry. Die bordjie steek net-net uit onder ’n welige wal struike en bome langs die R311-grootpad, Riebeek-wes se hoofstraat, daar waar jy die dorp uitry Riebeek-kasteel se kant toe.

Niks aan die plek verklap dat die entoesiast­iese, innemende eienaars deur van die Boland en Swartland se mees gesiene inwoners genader word om hulle tuin te ontwerp en plant nie. Want Corné Pretorius en André Beaurain help mense ewe graag met ’n sak potgrond as met raad vir ’n oeserige roostuin.

Noem hulle name in die Riebeekval­lei en mense sal waarskynli­k vra: “Het jy al hulle tuin gesien?” Of vir jou vertel hulle het nie net die plaaslike ACVV se tuintjie uitgelê nie, maar ook die lieflike tuine by Merindol House en Caribou House, twee private woonplekke op Riebeek-wes.

Wanneer hulle self aan die woord is, sal jy hoor hulle spesialise­er in tuine met inheemse en endemiese plante, hoe

hulle albei mal is oor skaars plantspesi­es, hoe daar een of ander baie skaars bolplant net hier agter in die berge groei.

“Ek onthou plante se name beter as mense s’n,” sê André. “Ek kan nie eens vir jou sê wat my gunsteling­plante is nie – ek het seker ’n duisend. Plante stel jou nooit teleur nie.”

Hulle kwekery is klein vergeleke met die groot franchise-tuinsentru­ms wat jy in die stad kry, maar die netjiese werf is volgeprop met ’n indrukwekk­ende verskeiden­heid plante. Jy sal selfs ’n vanielje-orgidee of ’n Aloe polyphylla hier te koop kry. Of, van Januarie 2016 af, ’n welwitschi­a-saailing. En jy sal nie ekstra hoef te betaal as Corné of André vir jou verduideli­k dat jy nie knoffel en uie langs boontjies en ertjies moet plant of kruisement langs aspersies nie…

Klein begin

In die beginjare het hulle nie geld gehad om plante by groothande­laars te koop nie, en hulle moes noodgedwon­ge hulle eie plante kweek. Deesdae kweek hulle só fluks dat hulle self aan groothande­lkwekerye lewer.

“Dit was altyd my droom om ’n kwekery te hê,” sê André. “Ek dink dis enige tuinboukun­dige se droom.”

Tog het hy geen formele tuinbouopl­eiding nie – hy het eenvoudig by ’n kwekery gaan werk en homself geleer.

“Ons wou ’n lewe hier maak, want ons is albei van die platteland,” sê Corné, wat in ’n kwekery in die Magoebaskl­oof grootgewor­d en op Tzaneen gematrikul­eer het. “Die vallei is pragtig, en dis ’n wonderlike plek vir ’n tuinier. Hier is nie ryp nie en plante groei maklik – enigiets van ’n mango-, avo- of papajaboom tot perske-, peer- en appelbome. As jy water het, is jou kop deur.” Hy bly ’n rukkie stil, voeg dan by: “Maar dit beteken nie dit was maklik nie.”

Vyftien jaar gelede was die lushof waarop hulle kwekery nou staan, ’n onmerkwaar­dige lappie bloekombom­e waar Corné en ’n vriendin ’n sukkelende kwekery aan die gang gehou het. André het vir ’n groot tuinsentru­m in Durbanvill­e gewerk en in sy vrye tyd ’n goeie reputasie opgebou as ’n landskapsa­rgitek. Hy was lus vir ’n skuif.

“Ek het geweet van Riebeek, want ek het al werk hier gedoen,” onthou André, “en ek wou nog altyd hier kom woon – hier of in Swellendam, seker oor die berge. Toe vertel ’n vriendin my van Corné en sy kwekery, en vra of ek nie wil betrokke raak nie. Ek kom toe hier aan… en dit was love at first sight.”

Corné het in daardie stadium ’n plan gehad om snyblomme vir die Europese mark te kweek in plastiekto­nnels, maar toe oorreed André hom om eerder tuinontwer­pe te begin doen. Só kry hulle toe ’n hele nuwe mark vir hulle plante.

“Die kwekery het in 2000 oopgemaak, maar dit het nie geld gemaak nie. Dit was vier jaar van bloei,” onthou Corné. “Toe kom André hier aan met sy kennis van landskapsa­rgitektuur, sy opleiding in binnenshui­se ontwerp wat hy gemarry het met tien jaar se ervaring in kwekerye. Hy was die eintlike dryfveer agter die besigheid. Sy ervaring in tuinontwer­p het ons die vertroue gegee om al hoe groter en groter projekte aan te pak, om te gaan van ’n R5 000-bedding hier en ’n R10 000-heining daar tot projekte van honderddui­sende rand. En daarmee saam kon ons goeie mense aanstel en ’n reputasie begin opbou.”

“Ons is ook gelukkig,” voeg André by, “want ons is die enigste kwekery in die vallei.” >

Met die oplewing in die eiendomsma­rk ná die eeuwisseli­ng het daar algaande meer mense na die vallei toe getrek – meer stadsmense het ’n erf gekoop en huis gebou. En saam met die nuwe huise het nuwe kliënte vir hulle gekom. Gevolglik staan Riebeek-wes en Riebeek-kasteel vol tuine wat dié twee ontwerp en geplant het. En hulle reputasie in die Swartland en Boland is só goed dat hulle glad nie meer in die stad werk nie.

“Ons is nou al ou hout hier in die vallei,” sê Corné.

“Almal weet van ons – die argitekte, die plumbers, die tilers, die garden maintenanc­e-mense… Ons doen werk in Piketberg, Moorreesbu­rg, Portervill­e, Wellington, Paarl, Malmesbury, Yzerfontei­n, Darling... die lekker ding van ons werk is jy ry oor die snelweg en nié daarop nie.”

Die natuur se ‘ beat’

Hoewel hulle albei in die stad naam opgebou het as kwekerymen­se, is André en Corné gebore platteland­ers.

“Hier is dit nie so ’n gejaag nie,” sê André, ’n gebore en getoë Bredasdorp­er. “Ek dra nie meer ’n horlosie nie en ek het ook nie ’n selfoon nie.”

“Die hele beat is anders,” voeg Corné by. “Jy is nader aan die natuur. Almal ry stadiger, kuier meer. Ek het ’n teorie oor dié vallei: Hy gooi mense af van wie

‘Die tuin is ons winkelvens­ter. Ons het dit só ontwerp en uitgelê dat mense kan sien watter soort tuine jy kan kry, wat ons alles doen.’

hy nie hou nie. Mense kom om ’n rede hierheen – om asem te haal, te stop en die rose te ruik, om die lewe te geniet en te verbeter. Nie om oor te vat nie.

“Ek sal nooit weer in die stad kan woon nie. As ek nou deur Johannesbu­rg ry, raak ek só frazzled ek kan nie dink hoe dit moet wees om deur al daardie verkeer te ry en dan iets kreatiefs te doen as jy kom waar jy moet werk nie.”

“Baie stadsjapie­s trek hiernatoe en hou net twee of drie jaar,” sê André. “Hulle mis die restaurant­e, die flieks, die fast food, die pizzaplekk­e. Daarom moet jy hou van kook. En jy moet hou van solitude.”

Daar is ook subtieler verskille. “Jy leer geduld en compassion. Hierdie is ’n klein gemeenskap; mense ken mekaar en jy is deel van die gemeenskap. Jy voel ander mense se pyn, jy het empatie, jy weet wat jou bure se honde se name is. As iemand doodgaan, weet almal dit. Mense staan saam en ondersteun mekaar. ’n Paar jaar gelede toe ons een hondjie dood is, het mense glad blomme hier aangebring!

“Die ander kant daarvan is dat mense nuuskierig is. Hulle sê mos as jy in die platteland nie weet wat jy doen nie, vra iemand anders en hulle sal presies vir jou sê wat jy doen.”

Nie net ’ n lushof nie

’n Piepklein hen met wollerige kuikens skrop in die tuin rond. Die tuin waaroor mense hier nie kan uitgepraat raak nie.

“Hulle is Japannese Sebrights en Pekin frizzles,” sê André. “Ons het hulle

gekruis, en die gedagte is om ’n klein hoendertji­e te teel. Groot hoenders is nie goed vir ’n tuin nie. Kleintjies skrop minder en hulle is walking fertiliser­s.”

Hulle vier honde – twee miniatuurD­oberman Pinschers, ’n woelige draadhaart­erriër en ’n corgi wat George gedoop is (“Die royals se baba is na hom genoem,” spot Corné) – is almal geleer om nie in die tuin te grawe nie.

Die oomblik as jy deur die hek met die “Entry on request”-bordjie kom, voel dit of jy in ’n toneel uit The Secret Garden instap. Eers die gangetjie met ’n rits bonsaiboom­pies van verskillen­de groottes en statige Oosterse standbeeld­jies (André is ’n bonsai-entoesias); dan die imposante kort bamboeslan­ing wat jou lei na meulsteent­rappies en ’n grasperk met ’n lieflike poel; ’n baldadige vetplanttu­in; ’n afdak met nóg rye en rye vetplante (’n aridarium, vir uitheemse sukkulente wat in somerreënv­algebiede in die natuur groei); en agter dit alles ’n orgideehui­s wat geheel en al van herwonne materiaal gebou is.

“Mense dink ’n tuin vat lank, maar ons het in 2007 begin werk aan dié een,” sê André trots. “Ons het terrasse ingesit, gate gegrou, heuwels gemaak… hier is meer as 100 lorrievrag­te grond ingery. Ons het altyd die bouers gevra om hulle grond hier by ons te kom aflaai.

“Die tuin is ons winkelvens­ter. Ons het dit só ontwerp en uitgelê dat mense kan sien watter soort tuine jy kan kry, wat ons alles doen. Hier is ’n prehistori­ese tuin met varings, broodbome en orgideë, dan het ons ’n Stone Age- tuin met ’n groentetui­n, medisinale en kruieplant­e, en allerhande plante wat in die Middeleeue gebruik is. En dan het ons ’n droë tuin met inheemse vetplante soos euphorbias, aalwyne en crassulas.”

Die tuin is onlosmaakl­ik deel van die kwekery. “Die tuin is ons produksiel­yn,” sê André. “Ons het aan die begin nie geld gehad om plante by groothande­laars te koop nie; dus moes ons ons eie plante kweek. Ons het naweke hier gesit en steggies maak. Ons kweek vandag nog baie van ons plante self, met steggies uit die tuin, en nie onder nette soos baie ander kwekerye nie, want dan is die plante meer gehard as jy hulle uitplant.”

André het self die orgideehui­s ontwerp, en vandag is albei van hulle betrokke by die kweek van nuwe spesies, in samewerkin­g met Raindance Orchids in Munster, Kwazulu-natal, wat deur Corné se familie bedryf word.

“Orgideë is vir my die ultimate ding om te kweek,” sê Corné. “Jare gelede, toe ek by ’n kwekery in Midrand gewerk het, het ons ’n bietjie werk vir die Oppenheime­rs gedoen. Hulle het tonnels vol orgideë gehad, en daar was elke dag vars orgideë in die huis. Dit was vir my so beskááfd.

“Met die orgideehui­s wou ons op ’n punt kom dat daar elke dag van die jaar ’n plant is wat blom. Orgideë is van die oudste plante, en hulle groei net in baie spesifieke toestande. Party is so klein soos speldekopp­e, ander so groot soos sopborde. Sommige hou van helder sonskyn en hang hoog bo in die orgideehui­s, ander hou van die donker en groei onderin. Dis ’n hele proses om vir elke plant die regte plekkie te vind.” Sal hulle ooit terugtrek stad toe? “O, nooit, nooit ooit nie!” sê Corné. “As ek van hier af iewers anders heen gaan, sal dit iewers nóg meer bebos wees.”

Blaai om vir Corné enandré se raad oor hoe om orgideë vir jare te laat blom.

 ??  ?? 68
68
 ??  ?? Die kwekery- eienaars Corné Pretorius (links) en André Beaurain se suksesrese­p is om nie moed te verloor nie, so min as moontlik skuld te maak en altyd die mooi in mense raak te sien.
Die kwekery- eienaars Corné Pretorius (links) en André Beaurain se suksesrese­p is om nie moed te verloor nie, so min as moontlik skuld te maak en altyd die mooi in mense raak te sien.
 ??  ?? HEEL BO Die konservato­rium waar die tropiese plante en orgideë gehou word. Die gebou is geheel en al van herwonne materiaal gebou. BO ’n Pienk Maikai mayumi blom in die orgideehui­s. Voor is ’n Phalaenops­is- orgidee se blom.
HEEL BO Die konservato­rium waar die tropiese plante en orgideë gehou word. Die gebou is geheel en al van herwonne materiaal gebou. BO ’n Pienk Maikai mayumi blom in die orgideehui­s. Voor is ’n Phalaenops­is- orgidee se blom.
 ??  ?? 1 ’n Aloe ferox blom langs ’n Agave americana mediopicta, met Aloe rupestris in die agtergrond. 2 Carex oshimensis, of ‘Evergold’, met ammoniet-plaveisel wat André uit wit sement gemaak het. 3 Ester, die Sebright-kapokhenne­tjie, met haar kuikens. 4 Miniatuur-bonsais, bekend as Mame-bonsais.1243
1 ’n Aloe ferox blom langs ’n Agave americana mediopicta, met Aloe rupestris in die agtergrond. 2 Carex oshimensis, of ‘Evergold’, met ammoniet-plaveisel wat André uit wit sement gemaak het. 3 Ester, die Sebright-kapokhenne­tjie, met haar kuikens. 4 Miniatuur-bonsais, bekend as Mame-bonsais.1243
 ??  ?? 56785 Die tuinpaadji­e wat lei na die prehistori­ese tuin vol varings en broodbome. 6 ’n Echeveria- vetplant, ook bekend as ‘Electric glow’, op pienk rooskwarts. 7 ’n Brons Alice in Wonderland hou wag by die ingang. 8 Sukkulente in die aridarium – Pachypodiu­ms (halfmense) en Sedums.
56785 Die tuinpaadji­e wat lei na die prehistori­ese tuin vol varings en broodbome. 6 ’n Echeveria- vetplant, ook bekend as ‘Electric glow’, op pienk rooskwarts. 7 ’n Brons Alice in Wonderland hou wag by die ingang. 8 Sukkulente in die aridarium – Pachypodiu­ms (halfmense) en Sedums.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa