My dorp
Philippolis is bakkiewêreld – kom kuier saam op ’n régte plaasdorp
As jy Philippolis van Trompsburg se kant af binnery, verby die pragtige NG kerk en onder die dennebome van die hoofstraat, Voortrekkerstraat, in, voel dit asof jy terugry in tyd. Oral om jou sien jy Karoohuisies uit ’n vervloë tyd. Ossewaens ry helaas nie meer op en af in die strate nie, maar karre is ook skaars. Eintlik is dit omtrent net bakkies wat deur die dorpie dreun. Bakkies met jagtralies – met skape agterop, lusern, sakke voer. Dis bakkies voor die BKB, Pep, Foodzone en die Philippolislodge. Soms stop ’n bakkie net daar in die middel van die straat, die bestuurder hang by die afgedraaide venster uit en begin gesels met iemand aan die oorkant van die straat wat besig is om in sy bakkie te klim. “Môre, Piet. Jinne, maar jy het nou ’n paar lekker bande onder daai Isuzu, man!” ( Hy het waarskynlik gesê“izusu”. – Reds.) “Jis, Flip. Ja man, ek is nou al moeg pap wiel gekry. Probeer nou dié soort uit.” Almal ken mekaar en mekaar se bakkies. Maar dié plaasdorp in die Suid-vry-
staat – die oudste dorp in die provinsie – kon baie maklik vandag baie anders gelyk het. Die N1 sou in die jare sestig deur Philippolis geloop het, maar is toe verlê om sowat 60 km oos, verby Trompsburg, te gaan.
Die plekkie is in 1823 deur die Skotse sendeling dr. John Philip as sendingstasie begin. Kort daarna het Philip vir Adam Kok II en die Griekwas genooi om hulle hier te kom vestig sodat hulle die sendingstasie kan beskerm.
Heelwat bekende name se wortels lê in Philippolis: Daar’s die Cheetahen Springbok-rugbyspeler Adriaan Strauss; die skrywer, oorlogsveteraan en filantroop sir Laurens van der Post; die aktrise Brümilda van Rensburg; en Emily Hobhouse het haar eerste spin-en-weefskool hier begin.
Twee hedendaagse legendes – men-se wat die dorp se stories goed ken – is Brindie en Erena Pritchard, wat al sedert die jare sewentig hier bly. Die huis waarin hulle woon, was voorheen die ou Anglikaanse kerk, wat rondom 1860 gebou is. Brindie was ’n vervoerkontrakteur, terwyl Erena 36 jaar in die dorp se kliniek gewerk het.
“Op só ’n klein dorpie ver van hospitale af moet jy by die kliniek enigiets kan hanteer. Ek het babas gevang, die lot,” vertel Erena.
Oor die jare het Erena en Brindie die dorp sien verander. Hulle vertel in die ou dae was dit baie bedrywiger. >
“Hier was drie vulstasies, drie kafees en drie winkels. En die kerk was altyd stampvol: Nagmaaltyd moes jy sommer vroeg hier wees as jy binne wou sitplek kry. Destyds was hier 66 bewoonde plase; vandag is hier 18.”
Philippolis het selfs ’n krieket- en rugbyspan gehad, vertel Brindie. “Kyk, die mense hier rond was maar nog altyd rou Afrikaans. Maar as daar krieket gespeel word, dan praat die manne net Engels. Ek het nie krieket gespeel nie. My reflekse is te stadig.”
Die dorp se rugbyspan was volgens Brindie een van twee wat deur sir Cecil John Rhodes geborg is. Die ander span was die WP, wat verklaar waarom Philippolis dieselfde streeptruie as die Kaapse span gedra het.
Brindie sê hy is mal oor die Griekwageskiedenis wat in Philippolis afgespeel het. “Die Griekwas is interessante mense en wonderlike storievertellers. Die een stuk wat my altyd sal bybly, is van ’n Griekwaman wat met sy Herculesfiets van hier af deurgery het Colesberg toe. ‘Ergelus’, noem hulle die Hercules. Hy was baie haastig. Langs die pad hol daar toe ’n bees voor hom in, maar hy ry dwarsdeur die bees. Hy vee die bloed en hare van sy gesig af, blaas die pensmis uit sy neus en hou aan trap. Iets maak die heeltyd ’n psst-psst-psstgeluid onder die Ergelus. Toe die man afkyk, hang daar nog ’n vetdermpie om die voorwiel.”
‘Kyk, die mense hier rond was maar nog altyd rou Afrikaans. Maar as daar krieket gespeel word, dan praat die manne net Engels.’
Vir ’n paar Griekwastories beduie Brindie my na Jane Medican se huis – sy is een van die plaaslike Griekwaleiers.
“Troy Jane Medican, gebore Lawerlot,” groet Jane. Sy is op Philippolis gebore, 28 Maart 1956. En sedertdien is sy nog altyd hier. “Ek was die eerste bruin vrou wat in die Voorspoed-winkel gewerk en met die kasregister gewerk het. ’n Hele 24 jaar het ek daar gewerk. Dis nou toe dit nog bestaan het. Voorspoed is al lankal toe.”
Ondanks baie veranderings oor die jare glo Jane “Philippolis se hart het dieselfde gebly”. “Die mense is vriendelik en ons almal ken mekaar en weet van mekaar. Hier is goeie kommunikasie.”
Sy is trots op die Griekwageskiedenis wat in en om die dorp afgespeel het, en doen ook haar deel sodat ou tradisies kan voortleef. “Kyk, die Griekwas was nog altyd veldmense. Ons gebruik dinge uit die veld om kos en medisyne te maak. Nou nog. Dassiepis en vêrpis is twee goed wat ons nog baie gebruik. Dit maak dinge binne die lyf weer ’n slag skoon. En as jy sukkel om kindertjies te kry, dan vat jy daarvan. Die vrouens verkies dassiepis en die mans vêrpis.”
Roosterkoek is eie aan die Griekwas, en dan maak hulle ook ’n heuningbier wat ’n sekere bossie bykry. “Daai ding gee nou vir jou ’n vodka-skop,” beduie Jane. “As jy weer kom kuier, dan maak ek vir jou daarvan. Ek weet ek het jou nou smaak gegee.”
’N MAN WAT OOK sy eie bier maak en óók bossies daarin gooi, is Pierre Jacobs. Pierre kan duidelik baie dinge
doen, want hy is besig om die houtvloere in die NG kerk se pastorie reg te maak. Hy beduie waar ’n mens hom oor middagete kan kry om bier te proe: So 6 km suid van Philippolis, op die pad na Colesberg, is die spookdorp Waterkloof. Dié plaasgrond is teen die einde van die negentiende eeu aan die NG Kerk geskenk en toe in erwe verdeel sodat behoeftige mense hier ’n bestaan kan maak. Dit het ’n dorpie in eie reg geword, maar teen die jare sewentig van die vorige eeu vinnig begin doodloop. Nou is daar eintlik maar net murasies en onkruid oor.
Pierre het die meeste van Waterkloof se erwe opgekoop en droom van die dag dat hier weer mense sal bly. Hy en sy vrou, Corrie, het die ou winkeltjie opgeknap en sit elke nou en dan aandetes voor by kerslig. Dis hier waar hy sy unieke Karoobier begin brou het.
“Philippolis is ’n laaste stukkie Karoo voor dit Vrystaat word. Die veld moet vier soorte bossies hê om deur te gaan as Karoo, en jy kry dit alles hier by ons. Dis hulle wat ek nou in my bier inwerk.” Pierre het vroeër in die omgewing geboer, maar toe twintig jaar op Mosselbaai gaan bly waar hy onder meer die SWD Arende help afrig het en saam met Corrie ’n restaurant bedryf het.
Hoekom het hy teruggekom? “Man, ’n mens verlang maar na die plek. Hier is nie altyd alles wat jy wil hê op die dorp nie. Hier is nie vars groente en vrugte nie; hier is nie meer ’n bank nie; ook nie ’n lekker eetplek of goeie koffie nie. Maar dis rustig, veilig en mooi. En die mense is vriendelik. Dít is skaars dinge deesdae. As ons die ander goed soek, dan ry ons maar en gaan kry dit.”
Dit vat nie lank om deur Philippolis te ry nie. Daar is net twee teerstrate: Voortrekker- en Tobie Mullerstraat. Die res is grondstraatjies. Justisiestraat wat voor die polisie- en landdroskantoor verbygaan, is ook grond. Die tekort aan vars produkte en eetplekke waarvan Pierre gepraat het, is duidelik sigbaar. ’n Kleinerige Foodzone is die enigste plek waar jy kruideniersware kan koop. En die enigste plek wat regtig daarop ingestel is om kos te maak is Sielskos, by die Laurens van der Post-gedenktuin. Dié plekkie met sy padstalgevoel behoort aan Elwena Pienaar, maar Emma Beckers en Monica Pietersen is die meeste van die tyd daar om jou te help. Hulle het albei op Philippolis grootgeword en is dankbaar om steeds hier te bly en werk.
“Ek het geen probleme hier op Philippolis nie,” sê Emma. “Dit is regtig rustig hier. Ons het nie ’n ge-toi-toi nie en >
ook nie misdaad nie. As iets gebeur, dan weet almal daarvan,” voeg Monica by.
Hoewel die dorpie groot toerismepotensiaal het, sê Emma en Monica hier kom nie baie toeriste deur nie. “Ons besigste tyd is in die winter wanneer dit jagseisoen is. En dan ook oor Desembers as mense hier deurry op pad see toe. Maar ander tye is dit maar taamlik stil,” vertel Emma.
Die stilte op die dorp word elke dan en wan versteur deur ’n verskriklike gedonder en dreun. “Dis Coenie en sy bike daai,” sal iemand dan sê. Coenie Louw en sy pa, Johan, is die dorp se plaaslike werktuigkundiges en boormanne. En die motorfiets wat so dreun, is Coenie se Suzuki GSXR 1000. “Hy sukkel ’n bietjie om vas te trap op ons grondstrate,” sê Coenie en beduie na sy blou gevaarte se gladde teerpadbande. >
Coenie is op pad Amerika toe om daar te gaan werk. “Dit sal nou my derde keer wees. Hier is nie geld nie.”
Sy pa stem nie saam nie. “Ek maak al van ’82 af ’n bestaan hier. Die ding is die jong mannetjies hou nie van windpompe regmaak en boor nie. En hulle wil vinnig geld maak om BMW’S en bikes te koop en ek weet nie watse nonsens nog nie. Kyk hoe lyk die man se boot van al die speakers. Waar in jou lewe het jy gesien jy neuk jou pakplek so op?”
Windpompe is volop in die omgewing. Selfs op die dorp sien jy ’n hele klomp. “Jy kan sommer gou sien as iemand bang is om bo in ’n pomp te werk: Hy klou aan die stand,” sê Johan. “Jy kan nie aan die stand klou nie; jy het albei hande nodig om te werk. Jy moet jou bene om die stand haak. Dít is die regte manier. Jong, dis ’n vuil besigheid. Daai windpompolie kom nooit uit jou klere uit nie. Dié dat ons maar altyd so half treurig lyk met ons ou en vuil klere.”
Johan wil ook nêrens elders bly as op Philippolis nie. “My vrou bly en werk op Aliwal-noord. Maar daar wil ek nie bly nie. Ek bly net hier.”
VOOR BKB SIT Roelene Kolver in ’n Fordbakkie met ’n vrag voer agterop. Sy is haastig en gesels sommer deur die oop ruit. Vir haar en haar man was dit ’n “verlossing” toe hulle van Johannesburg af kon skuif om op ’n plaas naby Philippolis te begin boer. “Die enigste probleem is dat hier nie goeie skole naby is nie – ons moet ons kinders Bloemfontein toe aanry. Dit veroorsaak dat
’n mens vir ’n hele klompie jare eintlik tussen die plaas en Bloemfontein float. Ons doen al ons sake daar en is ook nie juis deel van die gemeenskap hier nie.”
Binne die koöperasie is die bestuurder, Peet Blom, en die twee vroue wat daar werk, Berina Jacobs en Desireé Rouls, besig om ’n bestelling vir ’n boer uit te pak op die stoep. Dit is net voor eenuur en die koöperasie maak netnou toe. Vir ’n uur.
“Dis een van daai ongeskrewe reëls en plesiertjies van die platteland,” lag Peet oor die toemakery oor middagete. Boere wat in daardie tyd dorp toe kom en iets nodig het, bel vir Peet-hulle en dan word die bestelling op die stoep gelos. “Hier kan ons dit doen, want ons word regtig nie gepla deur misdaad nie. Daar is in 1998 laas by ’n voertuig ingebreek,” vertel Peet.
Hy woon vreklekker hier op Philippolis, maar voel tog so een of twee dinge kort. “Hier is geen vermaak nie en ons kruideniersplek is nie te hot nie.”
Berina en Desireé stem saam met Peet oor die tekortkominge, maar sê hulle sal Philippolis nooit verruil vir ’n groter plek nie. Hulle het albei ’n rukkie gevat om die boere- slang te verstaan. “Die boere het vir alles hulle eie name en noem mekaar op die afkorting van hulle voornaam. Dis nie ‘Peet’ Jacobs nie, maar ‘PD’ Jacobs. En o jinne, hulle gesels graag oor die reën en oor jakkalse...” skerts die twee vroue.
Buiten die koöperasie is die ander groot bymekaarkomplek op Philippolis die NG kerk. Dié statige gebou is sedert 1871 ’n baken op die dorp wat ’n mens van ver af al sien. Maar die dominee is nie ’n gryskop-omie nie. “Jong, die mense het darem kans gehad om aan my gewoond te raak, want ek was lank by die Vgk-gemeente en het toe al baie tussen die plase beweeg,” vertel Carin van Schalkwyk wat van die Paarl
‘Ek hou daarvan om ’n uur lank op ’n grondpad te ry, die ongelooflike natuur dop te hou en tyd te hê om te dink. Die windpompe en die sonsondergange... dis ongelooflik. ’n Mens sien God se grootheid op ’n ongelooflike skaal. Selfs in ’n droogte.’
af gekom het en nou al 17 jaar op Philippolis bly.
“Die eerste keer op die grondpaaie was vir my ontstellend. Nou ontstel ’n teerpad my. Ek is nie ’n stadspredikant nie. Ek hou daarvan om ’n uur lank op ’n grondpad te ry, die ongelooflike natuur dop te hou en tyd te hê om te dink. Die windpompe en die sonsondergange... dis ongelooflik. ’n Mens sien God se grootheid op ’n ongelooflike skaal. Selfs in ’n droogte,” vertel Carin geesdriftig.
As daar ’n biddag vir reën gehou >
word, is almal daar, sê Carin. Van al die kerke. En ná die reën word daar dankie gesê. Maar nie Sondag by die erediens nie. “Nee, dit moet ’n spesiale dag wees. Gewoonlik ’n Woensdag. Jy kry nie mense wat meer eg is as hier nie.”
Philippolis is nie ’n plek waar jy ’n hengse klomp goed kom doen of geld kom maak nie, sê Carin. “Jy moet chill hier. En op ’n kreatiewe manier leer oorleef. Klein goedjies, soos om jou brandstoftenk altyd kwartvol te hou, want jy weet nie of hier môre nog petrol gaan wees nie.”
Die gemeente het gekrimp sedert sy hier aangekom het – van 300 lidmate tot 142. “Maar vanjaar hou ek meer dope as begrafnisse... ’n goeie teken.”
Op Philippolis weet die mense regtig van alles wat op hulle dorp gebeur. Veral as daar nuwe intrekkers is. Daarom hoor ek ’n paar keer die name van Leani en Francois du Toit. Dié Johannesburgers het vroeër vanjaar hier huis gekoop. “Ons kom bly nou nog net elke maand ’n week lank hier, maar kan nie wag om volgende jaar permanent hierheen te trek nie,” vertel Leani. Sy en Francois is die afgelope paar jaar by sendingwerk betrokke. Hulle het begin voel hulle brand uit in Gauteng. “Ons wil nou rustiger en gesonder lewe. Meer selfversorgend wees. Ons het na ’n klein plekkie gesoek waar ons kan rus en deel raak van die gemeenskap,” verduidelik Leani. Die Du Toits hoop om vir ander moeë siele hulp aan te bied deur berading. Hier op Philippolis.
“Philippolis is ’n plek van heling, regtig. Dit is wonderlik hier. Ons enigste probleem is die stort wat ons shock. En die elektrisiën sien geen fout nie,” sê Leani.
Dan kyk sy deur die sitkamervenster na die windpomp in haar tuin en die Suid-vrystaatse rantjies in die verte.
“Dis fantasties. Dis ’n biejtie soos om op ’n plaas te bly.”