Laat ’n mens dink
Is grondhonger in landelike gebiede ’n mite? Dis eerder ’n stadsprobleem, sê Piet Croucamp
Miljoene Suid-afrikaners stroom elke jaar na stede, veral in provinsies soos die Wes-kaap en Gauteng. Mense is op soek na werksgeleenthede en beter skole vir hulle kinders, maar die infrastruktuur in dié provinsies kan eenvoudig nie die druk verder hanteer nie en migrante beland in ’n sosiologie van armoede en misdaad.
Buiten ekonomiese oorlewing en die soeke na beter geleenthede is daar onder migrerende werkloses ook ’n behoefte aan grond. In stedelike gebiede is dié grondhonger (of dan land hunger) meetbaar en ’n waarneembare faktor in die voorkoms van geweld en konflik. Gebreke in die toekenning van grond hou ’n wesenlike bedreiging in vir die lewensvatbaarheid en legitimiteit van plaaslike regerings.
Suid-afrikaners het die afgelope 20 jaar teen ’n geweldige pas verstedelik. Sowat 64% het reeds die platteland vaarwel geroep. Normaalweg is verstedeliking ’n teken van ’n groeiende en vooruitstrewende ekonomie. Mense trek na stede om toegang tot welvaart te kry, maar ook om sosio-ekonomiese mobiliteit te bewerkstellig. Die waarde van bates in groeiende stede neem meer volhoubaar toe; die gemiddelde huishoudelike inkomste is hoër; en die gekompliseerde argitektuur van ’n stedelike ekonomie vereis hoër vaardigheidsvlakke. Skole is finansieel beter daaraan toe en goeie mediese dienste toegankliker. Metropole en stede het ’n breër belastingbasis en munisipale dienste is dus in die algemeen beter.
Ongelukkig is Suid-afrika tans nie in ’n posisie om verstedeliking te bestuur nie. Metropole – en ook die groter munisipaliteite – is onder geweldige druk weens swak finansiële bestuur. Weens lae ekonomiese groei sedert 2009 het die nasionale tesourie die trajek van swak finansiering aan plaaslike administrasies (wat al langer as twee dekades duur) eenvoudig voortgesit. Stedelike ontwikkeling het verlangsaam of selfs tot stilstand gekom weens die gebrek aan kapitaal. Die infrastruktuur in baie stede en dorpsgebiede het al só erg verval dat dit nie meer in stand gehou kan word nie, maar heeltemal vervang moet word. Water- én elektrisiteitsbronne is onder geweldige druk, en die logistiek van voorsiening selfs nóg meer.
In landelike gebiede, daarenteen, is dié grondhonger grootliks ’n morele vraagstuk en dalk selfs ’n ekonomiese mite, en dít bring ’n mens by ’n interessante gesprek oor grond en eienaarskap.
Die regerende party teken ruim politieke punte aan deur grondhonger in landelike gebiede as ’n potensiële politieke tydbom voor te hou. Die veronderstelling is dat landbougrond skaars is en armoede verlig kan word deur dit op morele gronde te herverdeel. Dié morele argument is onaanvegbaar weens SuidAfrika se geskiedenis waar swart mense dikwels hulle grond ontneem is.
Die rasionaal om grond as ’n kommoditeit te gebruik in die proses van werkskepping is nie onlogies nie, maar die koste daarvan oorskry waarskynlik die ekonomiese voordele in landelike gebiede. Die staat het weens lae ekonomiese groei en druk op die staatskas nie die kapitaal óf vaardighede om werk te skep in landelike gebiede nie, en die private sektor wat wel belê in landelike ontwikkeling, is eintlik maar net wit boere; veral dié wat reeds in terme van skaalekonomie boer. Weens die proses van ekonomiese modernisering is kapitaalinvestering in die landbou egter in ’n groot mate gefokus op meganisering en die verbetering van die bestaande arbeidsmag se vaardigheidsvlakke eerder as op werkskepping.
Daar is dus enorme druk op mense in landelike gebiede om eerder hulle heil te gaan soek in stedelike gebiede, maar ons stede is tans nie juis ’n bron van sosiale, maatskaplike en ekonomiese geleenthede nie. Boonop is die werklike grondhonger in Suid-afrika besig om die politieke koors in stede onhoudbaar te laat styg. Die EFF trek tans groot politieke voordeel uit die grondtekort in stedelike gebiede deur mense aan te moedig om grond onwettig te beset.
Die herverdeling van landelike grond is dus grootliks ’n morele kwessie, en uiteindelik is daar geen bewyse dat ’n behoefte aan plaasgrond in politieke konflik tot uiting sal kom nie. Gedurende die grondhervormingsproses van die departement van landelike ontwikkeling het 95% van alle begunstigdes die kapitaal verkies bo die grond. Boonop was slegs 5% van die plase wat wel na voorheen benadeelde gemeenskappe oorgedra is, enigsins ’n relatiewe sukses wat landbouproduksie betref. Werkskepping in landelike gebiede is eenvoudig te duur en Suid-afrika té verstedelik om grondhervorming as ’n ontwikkelingsprojek te bedryf.
As daar bloed gaan vloei oor grond, sal dit in stedelike gebiede wees.
‘Ons stede is tans nie juis ’n bron van sosiale, maatskaplike en ekonomiese geleenthede nie.’
Dr. Piet Croucamp is ’n politieke ontleder en dosent in politieke wetenskap aan die Universiteit van Johannesburg. Hy is ook die aanbieder van Megaboere op kyknet.