Permakultuur
Leer om tuin te maak sáám met die natuur
In 2011, ter viering van sy 40ste verjaardag, het Jaco Brand en ’n paar vriende op ’n vliegtuig na Italië geklim en ’n kookkursus in Florence gaan doen. “Ons moes elke dag mark toe gaan en vars bestanddele vir die klas koop,” vertel Jaco ( foto onder), deesdae die eienaar van Picardi Place, ’n Bolandse plasie van 1 ha op die Slanghoekpad buite Rawsonville. “Daar by die mark het ek een dag met ’n mandjie vol van die mooiste basilie, eiervrug en tamaties in my arms gestaan en skielik geweet as ek terug is by die huis, wil ek my eie ‘varsproduktemark’ skep waar ander mense dieselfde gevoel van oorvloed kan ervaar.”
Kort ná hulle terugkeer het sy pad gekruis met dié van Kobus Kritzinger ( regs bo), ’n onderwyser wat toe pas ’n ontwerpkursus en internskap in permakultuur voltooi het. Vandag spog Picardi Place met ’n permakultuurtuin van 16 x 16 m. In hierdie ruie groenteparadys is hoenders aan ’t skrop in ’n verskuifbare hoendertrekker, in ’n ander bedding pronk spinasiebeet bloedrooi en geil, en op ’n houtleer is botterskorsies gestapel wat vroeër die week geoes is. Eende en paddas deel ’n dammetjie, die lemmetjieboom dra, en sampioene steek plek-plek kop uit onder die dik lae strooi wat om die boerbone, aarbeie, soetrissies, knoffel en kruie gepak is. Dis ’n ekostelsel in die kleine waar Jaco se “studente” as deel van die kookklasse wat hy deesdae op die plaas aanbied, hulle eie bestanddele kan pluk.
Wat is permakultuur?
Sepp Holzer, ’n Oostenrykse boer wat as die pionier van permakultuur bekend staan, het in die jare sestig besef hy maak nie hond haaraf met konvensionele boerderymetodes nie en het besluit om by Moeder Natuur “af te kyk”. Op sy bergplaas het hy onder meer opgehou om sy vrugtebome te snoei (om sneeustortings beter te trotseer) en varke ingespan om beddings om te dolwe (om arbeid te spaar en die grond so min as moontlik te versteur). Ou Sepp is destyds gebrandmerk as die “rebelse boer”, maar sy plaas in die Alpe floreer vandag nog.
Aan die ander kant van die wêreld het Bill Mollison en David Holmgren, twee Australiërs, in die laat jare sewentig begin soek na ’n alternatief vir die industriële boerderymetodes wat destyds in Tasmanië gebruik is. Dié metodes het nie net swaar gesteun op die nie-hernubare energiebronne nie, maar biodiversiteit dramaties verminder en die grond én water met chemikalieë besoedel.
Hulle oplossing was permakultuur, ’n “ontwerpaanslag” met die natuur as inspirasie. Die woord – ’n samevoeging van “permanent” en “agriculture” – is later uitgebrei na “permanent culture” om ook die ontwerp van ’n volhoubare leefwêreld vir die mens, met die inagneming van kultuur, in te sluit. >