So is die lewe
Dave Pepler onthou sy oupa se groentetuin op Robertson
Oupa Boy le Roux se tuin het, net soos dié van die Sweedse botanis Carl Linnaeus se blomkalender by Uppsala, elke maand iets opgelewer. Maar waar Linnaeus se tuin die maande en seisoene met blomme aangekondig het, het Oupa Boy se tuin die jaargetye met vrugte en groente gevier. Soos die meeste tuine op Robertson was dit versteek agter die huis, wat knap teen die straat gestaan het, en ’n mens moes omstap, deur ’n fyntuin, om by die ware plantery uit te kom.
Die erf was reusagtig en diep, met die oudste peer- en amandelbome teen die huis, en dan het die plante al hoe kleiner geword na die grens toe, want groenteakkers het lig nodig.
Elke tuin op Robertson het ’n leiwaterbeurt gehad, met strome helder water uit die Langeberg wat met netjiese vore en ’n ingewikkelde netwerk van sluise aangebring is. Van my vroegste beelde is juis dié van die water wat aankom, bruisend en lewendig; en ek en Oupa, kaalvoet, graaf in die hand, wat die water in akkers boerboontjies inkeer. Die warm modder wat tussen jou tone deurpers, die reuk van nat grond, die helder lig van ’n Klein-karoo-middag...
As jong kind het ek die meeste naweke by Ouma en Oupa deurgebring. Ek het op die agterstoep geslaap, en die stoepkamer se deur het heelnag oopgestaan sodat die eerste lig skuins en
geel oor my beddeken sou val. Hier het ’n mens lig geslaap, want Oupa-hulle het in die bodorp gebly, in Truterstraat, op die grens van die Jubelsdorp, waar die bruin mense gewoon het. Hier het die hane lank voor sonop begin kraai en daar was honde aan kettings wat nooit geslaap het nie. En Lena, my ouma se buurvrou, het in die donker verbygestap met haar melkkoei, op pad na die dorpsmeent anderkant die kerkhof. My ouers se huis was in die onderdorp, teen die walle van die Hooprivier, en hier was nie hoenders nie en ook nie koeie nie.
OUPA SE TUIN het geen luukses opgelewer nie. Elke plant, elke boom, was daar met ’n spesifieke doel, om seker te maak die toevoer na die kombuis en spens is konstant en, veral, dat oorskiet verwerk kan word. Van oorskiet gepraat: Dit laat my dink aan Oupa se lemoene. Soos by die meeste ouer mense van daardie tyd was daar onder elke bed ’n pot, want die toilet was gewoonlik buite die huis. Die oggendritueel was vas: opstaan, water “opsit” vir koffie, gesig en lyf was met ’n kom water en waslap, en dan die kamerpotte na die badkamer dra waar dit leeggemaak is in ’n “slopsemmer”, soos Oupa dit genoem het. Die inhoud is met water verdun, en dan het Oupa gestap na sy vier navellemoenbome, en dit netjies tussen hulle verdeel, elke dag. Hy het vas geglo hierdie behandeling maak sy lemoene die soetste op die dorp.
Sóét was hulle inderdaad. Jy het hulle afgeskil met Oupa se Joseph Rodgersmes en dan die huisies een vir een in jou mond laat bars. Die klein segment is heel ingesluk – vir geluk, het Ouma gesê. Die oortollige lemoene is versigtig, sonder om hulle te kneus, na die solder gedra en in rye op die balke gepak waar Ouma hulle een keer per week omgedraai het. Stadig maar seker het die lemoene gekrimp tot die helfte van hulle grootte, die skil so hard soos die dop van ’n amandel. Ná die Kersete het Ouma dan hierdie kosbare eliksers op die solder gaan haal, en elke kind het een gekry om deur ’n gaatjie uit te suig. Dit was ’n nagmaal vir ’n lewende tuin.
AS EK REG ONTHOU, was daar gewoonlik ’n organiese voortgang by dié dorpstuine. Naby die agterdeur was die vye, hanepootdruiwe, appelliefies en lukwarte – Robertson het ’n horde honger tiptolle, meelogies en vinke gehad wat só ’n boom binne ’n oogwink kon stroop – met die meer robuuste vrugte wat verder van die huis af geplant is. Aan die verste punt was die geharde bome: mispels, granate en sitrus. Appelkose, gewoonlik Royals, is in ’n boordjie geplant, want met die Koo-inmaakfabriek op Ashton was dit vir almal ’n jaarlikse inkomste. Maar die rypste appelkose, dié met die rooi sproetbloos, is gehou vir konfyt. Met nie te veel suiker nie, effens suur en met appelkoospitte in ’n koperpot gekook… die smaak sal my ewig bybly. Soetsuurdeegbrood, dik gesny, géél karringbotter en die glansende oranje van die konfyt.
Elke jaar by die landbouskou het die Vlv-tannies met hulle blink konfyte gespog. Ek sien nou nog die lang skuur, linnedoeke op die tafels, en ry op ry konfytflesse op papierdoilies – ingelegde perskes, neongroen siterhalwes, halwe koejawels (almal met die snykante na buite gepak), korrelkonfyt en piekels.
MET SO ’N TUIN agter elke huis was daar natuurlik by tye ’n oorvloed, veral in die hoogsomer. ’n Vreemde ritueel het hom dan afgespeel: My ma het ’n mandjie gepak met vier vleistamaties, ses eiers, pere, ’n pluksel boontjies en ’n brood. Eerste stop by tant Martjie, waar ek die eiers afgelaai en ’n potjie perskekonfyt teruggekry het. Volgende stop was by tant Lena, waar die tamaties verruil is vir skorsies, en dan het ek by tant Elise die brood afgelaai en ’n bossie rose teruggekry. Menigmaal het ek met meer kos teruggekeer as waarmee ek weggestuur is. Dit sê iets: Mense wat tuinmaak, ken en verstaan mekaar, en as julle mekaar ken en verstaan, kan ’n gemeenskap gesond funksioneer.
SAANS IS DIE KINDERS hoenderhok toe gestuur om te gaan eiers uithaal. Letterlik uithaal, want jy moes jou hand onder ’n nors hen insteek, en voel-voel tussen die sagte dons die warm eiers neem. Hierdie was skrophoenders, stowwerig, nuuskierig en gulsig, die nekke lank gerek as ’n mens aankom met die mielieemmer. Alle kombuisafval is hoenderhok toe gestuur met die kinders, en die tuinhulp moes onkruid en vars lusern aandra. As jou tuin groot genoeg was, het jy ’n moerbeiboom in die middel van die hoenderhok geplant, want dan was daar skaduwee en, een maal per jaar, ook oorvloedig kos.
As daar nie jong plante in die tuin was nie, is die hek oopgemaak en die hoenders losgelaat. Elke kriesel onkruid en ook iedere slak, wurm, ruspe, muis en rysmier is voor die voet opgevreet, en terselfdertyd het die tuin bemesting gekry. Maar wat ek onthou, is die eiers: karamelbruin met spikkels, die dop hard en mat, die tekstuur van ’n gesonde vel. Die dooiers was geler as geel en het ’n eiesoortige smaak gehad, net soos die slaghoenders se ferm en bruin vleis.
’n Dorpstuin is ’n kosmos in die kleine. Die huis met sy kombuis en spens is die son waarom die tuin met sy plante en diere wentel. Water, uit die buitenste ruim van die berge en riviere, voed die lappie aarde waarin ons pitte en sade plant, kuikentjies onder kapokkies laat uitbroei en waar die sirkel van lewe en dood eindeloos herhaal word. In sulke tuine leer ’n kind van groei en oes, van afwagting vir ’n geliefde vrug, en in sulke tuine kniel ’n ou mens, dromerig, oor ’n saadakker en trek onkruid uit.
Somtyds ry ek terug na my geboortedorp en soek vergeefs na die tuine wat ek onthou. Die plek het so eenders geword, so voorspelbaar en net té netjies. Maar stap bodorp toe, daar teen die walle van die Droërivier, en tussen die eenvormigheid is daar nog ware tuine: tuine met ’n oempie – graaf in die hand, hoed laag oor die oë – wat in die middel van ’n lap boerboontjies staan. Hy wag op sy waterbeurt.
‘Menigmaal het ek met meer kos teruggekeer as waarmee ek weggestuur is. Dit sê iets: Mense wat tuinmaak, ken en verstaan mekaar, en as julle mekaar ken en verstaan, kan ’n gemeenskap gesond funksioneer.’