Foto-essay
Hoe kleiner die pad, hoe lekkerder die plek waar jy aankom...
Dis ’n fisieke verandering wat plaasvind as jy uit die stad ry: Eers klou jy krampagtig aan die stuurwiel vas, jou rug skoon krom, en jy kyk elke nou en dan benoud op jou horlosie en in jou truspieëltjie, en jy hoop jy’t dit gemaak voor die gevreesde uittog wat spitsverkeer genoem word. As die snelweg dan voor jou begin oopmaak en jy nie meer teen die buffer van die kar voor jou is nie, begin jou rug reguit trek in jou sitplek. Maar dis eers as jy op ’n agterpad afdraai en landerye weerskante en ’n valk op elke derde telefoonpaal sien dat jy die venster oopdraai en voel hoe die stres uit jou lyf padgee.
Partykeer is die gevoel só oorweldigend dat ek byna instinktief my kamera vat – dis asof ek die oomblik in ’n bottel wil vasvang sodat ek weer en weer daarna kan kyk.
Dié foto’s is reg oor Suid-afrika geneem en die meeste van hulle was onbeplan. Ek het net gery, iets gesien en dan stilgehou. (Dis nogal ’n pyn as jy nie ’n fotograaf is nie – gaan vra maar my vrou...)
As ek na die foto’s kyk, onthou ek weer die vars lug van die Karooskemer, die ongelooflike afsondering daarvan om teen sonop die enigste kar op die pad te wees, en die belofte van ’n donderstorm.
Ek wens ek kon aan die einde van een van dié paaie woon...