Hou heeljaar vakansie!
Lê laag in Wildernis en Hoekwil
W ildernis is ’n plek wat ’n mens maklik in vervoering kry. Daar’s al die “gewone” dinge wat ’n mens van ’n kusdorp in die Tuinroete verwag: ’n uitgestrekte strand waar jy amper tot in die oneindigheid kan stap, ’n duin daarnaas met ’n rits weelderige huise wat inwoners tot anderkant die see laat sien, ’n strandmeer met ’n soompie huise wat skuil teen die skares, berge bespikkel met huise wat soos paddastoele beur uit die grasgroen boomtapyt, ’n gematigde klimaat, reën regdeur die jaar, plantegroei soos in ’n paradys...
Maar dis op ’n stil weeksaand buite die seisoen dat dié plek jou eintlik laat wonder wanneer jy jou goed kan pak en hierheen trek. Dis nou wanneer jy op die stoep van jou gehuurde uitspanplek sit en in die gitswarte duisternis die naggeluide sit en beluister: Voor jou is die gesug en steun van die see, en hier rondom jou in die woud ’n paddakoor wat klink na ’n miljoen kwake en behoorlik die kop laat duisel. Al wat jou terugbring aarde toe, is die flits elke paar minute van die spoedlokval onder op die N2, daar waar die Kaaimanspas jou van George se kant af uitspoeg op pad na Sedgefield, Knysna en Plettenbergbaai. Een van vele spoedlokvalle op die N2 tussen Mosselbaai en Stormsrivier, die oostelike punt van die Tuinroete. >
George, sê die mense van dié geweste, is ’n dorp met die DNS van ’n stad. En dis inderdaad vir vele klein dorpies in die Wes- en Oos-kaap die “grootstad”: Daar’s ’n lughawe, jy’t malls en geriewe soos goeie hospitale en skole. Skaars 20 km van Wildernis af.
Maar die pad tussen Wildernis en George kan ’n duur storie wees. Gaan vra maar vir Lee Basson, ’n private bankier by Absa op George wat op Wildernis woon en daagliks pendel – en wel deeglik kennis gemaak het met daardie spoedkameras. “Hulle het nou die dag R9 600 se boetes by my kom aflewer,” sê sy verleë. “Ek het darem ’n deel afgekry, maar hier moet ’n mens jou maar steur aan die spoedbeperking.”
Lee het uit Gauteng uit getrek, eers na Yzerfontein in die Weskus, en daarna, toe sy by Absa werk kry, Knysna. En toe die ryery te veel word, het Wildernis haar dorp geword. “Dis die misdaad wat my uit die stad laat padgee het – destyds is daar in die ooste van Pretoria vreeslik ingebreek.”
Nou woon sy op ’n plek wat haar gelukkig maak. “Die beste deel is die stilte. En dis laid-back. Die hele hippieding kom van hier af – ek was skaars op die dorp toe word ek genooi na ’n ooievaarstee waar space cakes voorgesit is! Die mense hier vra nie vrae nie, they
really just love you.”
Lee, wat geskei is met drie kinders, sê sy is nou al 15 maande ’n “loner”. Sy kom sit graag oor naweke of op ’n afdag by Cocomo, ’n kuierplek op die dorp waar daar saans sewe dae per week musiek gemaak word. Mense kom hierheen om te ontspan, musiek te luister en iets te eet en drink. En hulle groet mekaar soos ou vriende met die hand of met ’n drukkie. Lee kom ook helder oordag hierheen, dan bestel sy ’n lang skemerkelkie en vul haar blokkiesraaisel in. “Op George kan jy as enkellopende vrou nie alleen in ’n restaurant gaan sit nie; mense kyk jou skeef aan. Maar hier gee niemand om nie.”
Die dorp is nie so welvarend as wat dit
‘Dis ’n ongelooflike chilled-out plek, en daar’s ’n erkende naam daarvoor: die Outeniqua-roes. Die mense drink graag, hulle kuier graag, maar dis ’n Allsorts-luckypacket.’
mag lyk nie, sê sy. “Party mense noem Wildernis ’n klein Knysna, maar die dorp het ná 2008 begin sukkel. Hier gaan alles maar oor toerisme en aftreeoorde; hier is nie eintlik corporate of geld nie. Hier is steeds baie swaeltjies – jy weet, dis nou die ouens wat in Johannesburg werk en naweke afvlieg hierheen waar die vrou en kinders bly.
“Hier is baie mense met geld, maar op Wildernis self én in die groter Tuinroete verdien werkende mense regtig min. Dis eintlik ’n geweldige diskrepansie: Jy kry massiewe huise wat baie geld werd is, maar die meeste locals is nie welvarend nie. Tog is hier baie wat ’n mens kan doen: Fietsry, stap... in die wonderlikste natuurskoon. En dis alles gratis.”
Cobus Meiring, ’n bewaringskundige van die Southern Cape Landowners Initiative (SCLI) wat ook vanaand Cocomo toe gekom het saam met sy vriend Tienie Botha, stem saam: “Ek het vyf jaar gelede uit Pretoria hierheen getrek, en dit was ’n groot aanpassing in my kop, want dit voel of hier baie min mense is wat werk – en ek bedoel nou wérk soos mense in die stad werk. Hier is nie angs nie; Wildernis is ’n vakansieplek met ’n vakansie- vibe…” Hy skud sy kop: “Dis ’n ongelooflike chilled-out plek, en daar’s ’n erkende naam daarvoor: die Outeniqua-roes. Die mense drink graag, hulle kuier graag, maar dis ’n Allsorts- luckypacket.”
Gelukkig, sê Cobus, is Wildernis se voetspoor as ’n dorpie verseker, want die plek kan nie juis uitbrei nie. “Ons het ook projekte wat mense keer om inheemse bome uit te haal – hier is twee melkhoutwoude waarvan een die grootste in die land is. Wildernis is die mooiste plek in die land wat natuurskoon betref – ons woon ín ’n nasionale park – hoewel die argitektuur nie eintlik iets is om oor huis toe te skryf nie.”
Hy onthou ook die tyd rondom 2008 toe die dorp “hard geslaan” is deur die ekonomiese insinking. “Die Wildernishotel moes byvoorbeeld sy deure sluit, hoewel dit nou weer oopgemaak het én baie goed doen. Dit was vir ’n tyd baie stil, meer seisoenaal, maar deesdae is >
dit besiger. Daar is steeds ’n hoogseisoen, hoewel die plek die res van die jaar allermins gevrek is. Een van die dorp se saving graces is die snelweg wat hierdeur loop, al jaag die meeste ouens net hierdeur. Diegene wat wel hier indraai, wil almal bly.
“Die grootste probleem is dat hier nie werk is nie en ook nie baie geld nie. Maar jy kan lewe soos ’n koning.”
MISDAAD IS IETS wat die mense van Wildernis nie ken nie. “Ons het ’n polisiekantoor, maar hier’s omtrent nie misdaad nie,” sê Cobus. “Die dorp het eintlik net een skelm wat inbreek, maar hy is toevallig tans agter tralies.”
Die skrywer Riana Scheepers, wat net meer as ’n jaar gelede saam met haar man, Johann Loubser, van Wellington af hierheen getrek het, beaam dit. “Nou die dag moet ek polisiestasie toe om dokumente te laat waarmerk, en toe ek daar instap, sit daar so ’n paar polisiemanne rond. Ek wou nog vra ‘moet julle nie skelms vang nie?’, toe onthou ek hier ís nie skelms nie!”
Riana, ’n boorling van Vryheid in Kwazulu-natal, en Johann, oorspronklik van die Tuinroete – “ek kom uit die wêreld van dekriet, aalwyn en heide, Albertinia” – is gaande oor hulle nuwe tuiste. As jy vra wat Wildernis dan ’n lekker plek maak, trek Riana los soos een van die loeries in haar tuin: “Die bome, die berge, die stilte, die skoonheid, die bosbokkie en haar lammetjie in my tuin, die mere, die geruis van die see, die netheid van die dorp, die interessante kombinasie van mense – kunstenaars en buitelanders, slimmes en eksentriekes – die restaurante, die walvisse, die arende, die loeries, die wandelpaaie, die visarende wat roep...”
En wat is minder lekker? “Álles is lekker!” Selfs die vakansieseisoen wanneer duisende mense op die plek toesak? Ons sorg net dat ons op Nuwejaarsdag tuis bly. Selfs op die besigste tyd is dit stil en ordelik. Dis ondenkbaar, maar dit is so.”
Hulle sal enigiemand aanraai om hier te kom aftree – oor die stilte, die ordelikheid, die netheid, die skoonheid. “Ons is naby ’n lughawe en álles wat ons nodig het – van winkels tot mediese personeel. Ons hoop net nie almal in die land kom tree hier af nie!”
Net om die hoek… Twee dinge wat Wildernis nié het nie, is ’n skool en ’n NG kerk. ( Dit diskwalifiseer amper die plek om“dorp”genoem
te word! – Reds.) Daarvoor moet jy minder as 10 km binneland in ry, oor die strandmeer en oor die eerste ronding van die Outeniquaberg. Hoekwil toe.
Hoekwil met sy vierrigtingstopmiddedorp. Met sy groot erwe, lowergroen tuine en plate watsonias. En sy entoesiastiese groenvingerbrigade.
Dalene Strauss en Jenny Smith is albei lid van Hoekwil se tuinklub, wat in November elke jaar die dorp se tuine oopgooi vir die Hoekwil Open Gardens. >
“Ek het 12 jaar gelede van Ermelo af hierheen gekom nadat my man sy prokureurstoga opgehang het,” vertel Dalene. “Ons het ’n plasie gesoek en uiteindelik een gekry hier by Touwsranten waar ons nou onder meer met druiwe boer. ’n Mens kan sê dis ’n leefstylplaas.”
Jenny en haar man, Terry, het sewe jaar gelede hulle tassies in Londen gepak en reguit Hoekwil toe getrek. “Ons het die tuinklub en die Open Gardens in 2014 gestig, om die dorp mooi te maak vir die eeufeesvieringe van daardie jaar. Die klub het 18 lede, onder wie een man, en dis ’n vreeslik informele storie: Ons ruil plante en steggies, doen onderhoud in sypaadjietuine en skenk bome. En so nou en dan reël ons uitstappies, byvoorbeeld na Plettenbergbaai se roosplaas.”
Op hulle erf van 3 ha het die Smiths nie minder nie as 4 000 inheemse bome geplant. Hulle eie woud. “Tuinmaak is fantasties hier, want die lug is vogtig en dit reën regdeur die jaar – ons gooi nooit tuin nat nie. Die plante blom maklik. En ons sit met interessante probleme – dinge soos ystervarke, bobbejane, bosbokkies wat mal is oor rose...”
Hoekwil, sê Jenny, is die besbewaarde geheim in Suid-afrika. “Eintlik wil ons dit so hou... Dis regtig so ’n vreedsame lewe, ’n interessante plek – ons dominee is ’n biker wat die banjo speel en vir huisbesoek daag hy op met sy bike en leathers. Hier gaan dit glad nie oor materiële dinge nie – ons maak altyd ’n grap en sê as jy op George ’n vrou in die mall sien wat deftig aangetrek is, dan weet jy sy’s nié van Hoekwil nie.”
Dalene: “Jy kry natuurlik baie sigeunertipe mense hier…”
“Hier’s nie baie mense nie,” gaan Jenny voort, “maar hier gebeur baie. Ons het wynproeë, vasvra-aande, ’n skool wat sedert 2009 ’n ekoskool is, ’n aftreeoord met ’n begraafplaas reg langsaan – dis waar P.W. en Elize Botha begrawe lê – ’n winkeltjie, ’n troppie beeste wat die pad oorsteek. Ons het selfs ’n afgetrede biskop op die dorp.”
OOM PAUL THERON woon op Hoekwil sedert hy 82 jaar gelede die lewenslig aanskou het. Op sy 1 morg aan die buitewyke van die dorp plant hy patats, aartappels, boontjies en tamaties. Net nou die dag het hulle 6 000 uieplantjies in die grond gedruk. Vir hom en sy vrou, Elsa, wat as jong onderwyser uit Villiersdorp hierheen gekom het. Maar ook om te verkoop. Veral die tamaties. “Hiérdie tamaties dra, hoor! Ek het die saad jare gelede by iemand gekry wat dit op hulle beurt êrens in die Karoo gekry het nadat hy ’n saadsmous met sy stukkende bakkie gehelp het.
“Die mense sê dit lyk of ek baie geil grond het hier op Hoekwil, maar jy moet maar jou kompos en kunsmis en goete insit, dan kan enigiemand geil grond hê.”
Oom Paul vertel die vorige dominee het gesê hierdie dorpie gaan nog eendag die aftreeplek van die rykes word. “Almal het gedink hy praat sommer nonsens, maar kyk nou: Hy was reg.”
Die dorp het oor die jare baie verander, sê hy. “Die Hoekwil van vandag en die Hoekwil van 40, 50 jaar gelede is twee totaal verskillende plekke. Jy weet, baie mense was destyds skaam om te sê hulle kom van Hoekwil af. Ek onthou daai bekende aktrise... wat is haar naam nou weer... Miems... Miems de Bruyn, sy’t eendag in ’n tydskrifstorie gesê sy kom van Wildernis af, maar dis nonsies, man! Haar pa was Charlie de Bruyn, wat hier op Hoekwil onderwys gegee het!
“Oor die jare het die ou Hoekwillers, die armer mense, hulle huisies verkoop aan ryk mense. Dis nou ’n gesogte plek – mense kom van die Transvaal, selfs van die buiteland, dan ry hulle oor Kersfees
‘Tuinmaak is fantasties hier, want die lug is vogtig en dit reën regdeur die jaar – ons gooi nooit tuin nat nie. Die plante blom maklik.’
en Nuwejaar hier rond en koop. Hier is seker nie eens vyf van die oorspronklike mense oor nie. Ag man, vroeër dae het jy geloop en oral was dit ‘môre Paul’, ‘middag Paul’, ‘naand Paul’. Nou kyk hulle jou aan of jy uit die Karoo of uit die Ark kom!”
AS JY VAN HOEKWIL AF dieper die binneland in ry, Karatara se kant toe, is daar ’n paar plekke waar ’n mens maar kan aftrek. Eers kry jy die bruin dorpie Touwsranten: Hou stil by die laaste huis aan die linkerkant, net voor die afdraai op die Sewepassepad George toe. Hier is ’n fraai tuin wat deel vorm van Hoekwil se Open Gardens – wees op die uitkyk vir die houtpaal waarop “Reap What You Sow” geverf is. Enkele kilometer verder kry jy aan die linkerkant die Groot Boom by Woodville, ’n geelhoutboom wat 850 jaar gelede ontkiem het. En dan, presies 10 km ná Touwsranten, draai jy af by die bordjie wat sê Bistro Celeiro.
’n Paar reëls geld as jy hierheen wil kom: 1 Bespreek, anders gaan jy met ’n honger maag moet omdraai – hier’s net plek vir 40 mense. 2 Sorg dat jy genoeg tyd het, want die kos is uit die boeke, die gashere gul en geselserig, en die omgewing lieflik. 3 Moenie laat wees nie, want as iets op die spyskaart op is, is dit op.
“Ons het die plasie van 4 ha vyftien jaar gelede gekoop toe dit eintlik maar net ’n wilde bos swartwattels was. Die oorspronklike huis was in ’n haglike toestand: Daar was geen toilet nie, geen elektrisiteit nie, geen water nie. En dit het gewemel van slange en dooie diere,” vertel Julio Agrella met die welige bos baard terwyl hy afkyk na die netjiese huis waar sy seun, Julio jr., deesdae woon. “Ons het glad ’n ou oom se ondergums in die huis ontdek,” – hy wys na die geraamde kunsgebit ten die muur – “én daar was vyf motorwrakke op die eiendom.”
In 2001 het die Agrellas uit Johannesburg Durbanville toe getrek en Julio >
moes elke ses weke na die kantoor op George kom. Hy was destyds bestuurder by Liberty Life en Susan, sy vrou, het sport afgerig by ’n skool in die stad. Toe, in 2006, het hulle die staalstruktuur opgerig vir wat deesdae hulle huis – en naweke die restaurant – is. ’n Netjiese skuurstyl gebou wat uitkyk oor die rollende heuwels van die SuidKaap. Hulle het ’n olyf- en granaatboord geplant, ’n groentetuin aangelê (probeer gerus die Celeiro Spring Salad – dis alles uit die tuin) en begin woeker met Julio jr. se talente.
“Ons seun is ’n opgeleide sjef, en my vrou het nog altyd gedink ons moet eendag ’n koffiewinkel of restaurant oopmaak. Ons het besluit nou of nooit, en in Desember 2013 het ons begin. Toe ons oopgemaak het, het ons gedink dis ’n coffee shop, maar toe begin die mense instap vir middagete. Die plaaslike ouens het begin kom... en in Desember gaste van oraloor. Hier was nog nooit ’n restaurant op die pad na Rheenendal nie.”
Vandag is hulle Vrydagmiddae en -aande oop vir pizzas, en Sondagmiddae vir middagete. In die seisoen – Desembermaande en skoolvakansies – is hulle van Woensdae tot Sondae oop vir middagete. Hier in hulle huis met die vier weimaraners, die vyf bergskilpaaie wat hulle geërf het, en Iggy, die iguana.
Susan, ’n verspreideskleroselyer wat as jong vrou in ’n rolstoel was en danksy deursettingsvermoë aan tweeen later vyfkamp deelgeneem het – en uiteindelik in die Springbok-skermspan opgeneem is – onthou die dag in Desember 1999 toe hulle hier deurgery het: “Dit was een van daai plekke waar ons dadelik gedink het: Hier kan ons aftree. En ons het dit hardop gesê, want ons glo as jy ’n droom het, moet jy dit vir ander mense sê – dit help om dit te laat waar word!”
Oom Paul Theron is reg: Die Hoekwil van vandag is anders as die Hoekwil van vyftig jaar gelede. En dit is nie noodwendig ’n slegte ding nie.