Weg! Platteland

’n Vullisvrye lewe

Is jy een van daardie mense wat in alle ywer herwin, maar steeds elke jaar tonne vullis in die opvullings­terrein laat beland? Colleen Black, wat volgens die Zero Waste-filosofie leef, glo ons moet dit in die eerste plek vermy om vullis te skep.

- ILLUSTRASI­ES MONIQUE MOUISSIE FOTO’S COLLEEN BLACK

Hoe klink een Consol-fles vol vullis per jaar – vir vier mense? ’n Mens noem dit Zero Waste

Die meeste van ons sit klokslag een keer per week ons vullissakk­e op die sypaadjie en verwag die munisipali­teit moet dit wegtoor. Maar die harde werklikhei­d is ons vullis beland in opvullings­terreine, in ons oseane, in die lug wat ons inasem...

In Mei 2015 het ek afgekom op ’n aanlynarti­kel waarin Bea Johnson vertel hoe sy en haar gesin van vier met die Zero Waste-lewenstyl in een jaar slegs een Consol-fles vol vullis produseer. Ek was gefassinee­r en het dadelik “zero waste” gaan Google. ’n Uur later het ek die uitdaging aanvaar – al wat ek nog moes doen, was om my man, Erik, in te lig.

Zero Waste is nie net nog ’n mooi gonswoord vir kompulsiew­e herwinning nie, maar ’n filosofie wat daarop gemik is om vullis sover as moontlik te vermy. Die meeste van ons is vasgevang in ’n bose kringloop van die verbruiker­skultuur: Ons werk hard om nog goeters te koop wat ons nie regtig nodig het nie, en dan moet ons uiteindeli­k nóg goeters en ’n groter huis koop om al hierdie goeters in te bêre.

As jy jou vullis wil minder maak – selfs nog voor jy die Zero Waste-leefstyl probeer! – moet jy ’n slag mooi dink oor wat jy gebruik en hoeveel daarvan, maar ook aan die gevolge van jou daaglikse verbruik. Dink aan die verpakking­smateriaal en wat jy daarmee kan doen nadat jy die produk gebruik het. Ja, dis baie gerieflik om iets “weg” te gooi en

dan kom laai die vullislorr­ie dit op, maar ons dink selde presies waar “weg” is. Reg oor die wêreld raak opvullings­terreine veel vinniger vol as wat verwag is, en daarom is die minste wat ons kan doen om nié goed soontoe te stuur wat nie daar hoort nie – dinge soos herwinbare of komposteer­bare items. Ons moet verantwoor­delikheid neem vir ons vullis en ons bes doen om dit te vermy.

Die vyf R’e

Bea Johnson se leuse, in ’n spesifieke volgorde, is Refuse (Weier), Reduce (Verminder), Reuse (Hergebruik), Recycle (Herwin) en Rot (Verrot). Natuurlik is dit beter om te herwin as om al jou vullis na die stortingst­errein te stuur, maar nóg beter is om herwinning­sitems te verminder deur dit in die eerste plek te weier. Dan verminder jy jou aankope, hergebruik soveel as moontlik daarvan, en dán eers oorweeg jy herwinning.

‘Refuse’ WAT JY NIE NODIG HET NIE

Ons het kompulsiew­e verbruiker­s geword. Om jou vullis te verminder moet jy weer kyk na die kos wat jy koop en hoe jy dit koop, veral dié met verpakking­smateriaal wat nie herwin kan word nie. (Dit beteken min of meer alle verwerkte kosse is uit.) Deur in grootmaat te koop spaar jy nie net geld nie, maar jy sny ook verpakking­smateriaal uit én jy hoef minder heen en weer te ry winkel toe – jy spaar dus geld én tyd. ’n Goeie wegspringp­lek is om nee te sê vir weggooibar­e plastieksa­kke of verpakking­smateriaal wat net een keer gebruik word – dinge soos papierkopp­ies en waterbotte­ls. Sê nee vir geskenksak­kies vol goedkoop gemors wat jy nie nodig het nie, besigheids­kaartjies waarna jy nooit weer gaan kyk nie, strooibilj­ette, gemorspos, gratis hoteltoile­tware... Vat jou eie houers en sakke en weeg jou vrugte, vleis en ander kos self.

‘Reduce’ WAT JY WEL NODIG HET EN NIE KAN WEIER NIE

Hou op om so baie te koop! Leef eenvoudige­r, bevraagtek­en alles wat jy reeds besit, skenk of verkoop dít wat jy nog altyd geglo het jy móét hê. Moet nooit op die ingewing van die oomblik gaan inkopies doen nie en bring slegs goed huis toe wat jy regtig nodig het. Kies altyd gehalte wat jy kan herstel of herwin pleks van weggooigeh­alte.

’Reuse’ WAT JY VERBRUIK EN NIE KAN WEIER OF VERMINDER NIE

Volgens Bea verwar baie mense die begrippe “hergebruik” ( reuse) en “herwin” ( recycle). Eersgenoem­de gaan oor om die produk in sy oorspronkl­ike vorm te gebruik sodat die bruikbare leeftyd verleng word, terwyl herwinning beteken jy verwerk ’n produk om dit nuwe vorm te gee. Probeer die volgende hergebruik: Ziploc- en ander plastieksa­kkies, inkopiesak­ke, bakkies en blikkies, glasflesse en bottels, koeverte, eier- en ander houers, ou klere... Die lys is eindeloos!

‘Recycle’ WAT JY NIE KAN WEIER, VERMINDER OF HERGEBRUIK NIE

Die Zero Waste-leefstyl moet eintlik buite die huis begin deur verbruik hok te slaan – iets wat herwinning minder nodig maak. Kry dan ’n goeie manier om alles te bêre wat wel herwin moet word. (Bou ons herwinkas op bl. 67.)

Herwinning kan ’n uitdaging wees omdat baie dorpe nie herwinning­sprojekte óf munisipale dromme vir glas, blikke, papier en plastiek het nie. Dit hoef egter nie ’n verskoning te wees nie – ek het byvoorbeel­d ná ’n groot gesukkel ontdek die Heidelberg­se tak van die DBV samel herwinbare materiaal in wat dan deur Remade gehaal word om geld in te samel. Dalk is daar ’n liefdadigh­eidsorgani­sasie of skool in jou omgewing met ’n soortgelyk­e projek – of begin sommer self een!

’Rot’

DIE RES WORD KOMPOS

Gebruik ’n komposhoop, wurmplaas of binnenshui­se bokashi-komposteer­der om van jou kosafval ontslae te raak. >

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa