Weg! Platteland

Platteland­se geheim

-

Ontmoet Jan Elsenaar, Brandfort se orrelbouer

Een van Suid-afrika se beste pyporrelbo­uers – en een van net ’n handjie vol – woon op Brandfort in die Vrystaat. Hier noem die mense hom sommer “die Hollander” of “die orrelman”. Hy het vir Willem van der Berg vertel hoe sy pad uit Nederland tot hier geloop het.

s ’n klein seuntjie in Nederland het Jan Elsenaar gedink hy wil eendag ’n predikant word – hy het selfs vir hom ’n preekstoel­tjie gebou. Maar ironies genoeg was dit die eerste kerkdiens wat hy kan onthou wat sy planne verander het. “Dit was op ’n dorpie met die naam Zwijndrech­t…” Sy oë blink. “Voor in die kerk het ’n orrel losgetrek, en ek het dadelik begin beweeg.”

Op 9jarige ouderdom het hy begin orrellesse neem, en teen die tyd dat hy 16 was, het hy in die kerk gespeel. Teen 17 wou Jan ’n orrelbouer word en SuidAfrika toe kom.

“Ek het altyd ’n fantasie gehad oor die land. Ek het baie boeke gelees oor SuidAfrika, en ’n meester op skool het vir ons Afrikaanse musiek geleer – liedjies soos ‘Lamtietied­amtietie’ en allerhande ander snaakse goed.”

Sy ouers was in 1974 in die land omdat hulle dit sterk oorweeg het om te emigreer. Maar ’n man in ’n Pretoriase restaurant het hulle afgeraai. Hoewel hulle toe wel daarteen besluit het, het die 300 dias wat hulle in Suidafrika geneem het – dis fotoskyfie­s – hóm wel oortuig om die skuif te maak na die suidpunt van Afrika.

“Op 18 Mei 1985 toe staan ek op Johannesbu­rg se lughawe met net ’n koffer in my hand. Ek het nêrens boere op perde sien ry soos in my storieboek­e nie, en ek was nogal teleurgest­eld daaroor.”

JAN HET HOM IN BLOEMFONTE­IN aangesluit by Gerrit de Waard se Proteaorre­lbouers. “Gerrit was ’n baie swaarmoedi­ge man en het dikwels gesê elektronie­se orrels gaan pyporrels vervang,” onthou Jan. Maar ten spyte van dié verdoemend­e voorspelli­ngs het Jan sy vakleerlin­gskap in Johannesbu­rg gaan doen by Jan Roeleveld, en toe ’n hele ruk in Johannesbu­rg gewerk – dis hier waar hy sy vrou, Jacqueline, ontmoet het.

“Jackie het Hollandse ouers, maar het in Suidafrika grootgewor­d. Sy het dus ’n Hollandse opvoeding gehad – dís hoekom ek so met haar sukkel,” spot Jan.

Ná hulle troue is hulle terug Vrystaat toe om Gerrit se besigheid oor te neem nadat hy laat weet het hy wil aftree.

“Oom Gerrit het gesê ek moet eers my vrou bring dat sy kan kyk of sy op die Vrystaatse vlaktes sal kan bly. Ons het al twee van Brandfort gehou – dit was vir ons ’n mooi dorpie en naby Bloemfonte­in. Maar ons moes toe twee jaar in Theunissen bly voordat ons ’n huis op Brandfort kon kry.”

Die Elsenaars bly nou al 20 jaar op Brandfort en die gesin het aangegroei tot sewe: Vier dogters en ’n seun sorg dat daar altyd lewe is in die huis. Vir die plaaslike mense is hy “die Hollander” of “die orrelman”.

“Ek het ’n verskrikli­ke liefde vir die platteland. Die platteland gee ’n mens inspirasie. Dit is glad nie ongewoon dat orrelbouer­s in die platteland woon nie. In Nederland is hulle ateljees gewoonlik buite die stad.”

Agter sy huis het Jan ’n indrukwekk­ende werkswinke­l gebou. Dis ’n lang gebou met ’n paar vertrekke en al die nodige gereedskap. In een vertrek is stapels en stapels eikehout – die reuk hier is hemels, asof jy teen skemer in ’n digte woud stap. >

Onder die rakkie waarop ’n klomp boorpunte gebêre word, staan: “Do not burn wood and drill. Please check for correct speed! 750 rev/min.”

Op die oostelike punt van die gebou is ’n 8m hoë vertrek. Die toring van Babel, sê Jan. Hierbinne bou hy pyporrels van die vloer af op tot hulle soms een hele muur volstaan. Elke orrel word eers ontwerp en geteken. Dit word deur Jan self gedoen en dan word amper elke liewe onderdeelt­jie van só ’n orrel deur Jan en sy skrynwerke­r, Frans Segao, gemaak. Nadat die orrel “speelklaar” en getoets is, word dit weer heeltemal afgebreek, verpak en dan vervoer na waar dit ook al opgerig moet word. Daar bou Janhulle die orrel weer van voor af.

“Ons bou meganiese orrels, die orrel in sy oudste vorm. Die klawers laat die kleppe ooptrek – jy kan dit onder jou vingers vóél gebeur. Jy sweet ’n bietjie as jy speel, maar die fisieke kontak met jou instrument is ongeloofli­k belangrik.”

Gerrit de Waard se voorspelli­ng het nie heeltemal waar geword nie, sê Jan. Hy het nog nooit so baie nuwe orrels gebou soos nou nie – ’n hele paar van hulle vir private besit.

’n Man van Johannesbu­rg het byvoorbeel­d vir Jan gevra om ’n orrel te bou, waarna die man ’n huis laat bou het waarin die orrel sal pas. Nadat Jan die orrel ingesit het, moes hy vir die man en sy vriende ’n uitvoering kom lewer, want die man kan self glad nie speel nie.

“Die bedreiging vir orrels het uit ’n heel ander oord gekom. Die groeiende charismati­ese neiging in kerke veroorsaak dat orrels uitgegooi word. Hulle moet plek maak vir die bands, jy weet. Selfs in baie NG kerke waar orrels al jare gebruik word, is hulle uitgehaal.”

EEN MIDDAG KLIM EK SAAM met Jan Elsenaar in Philippoli­s se orrel. “Wanneer ek hier inklim, dan weet ek orrelbouer­s skarrel al meer as 100 jaar hierbinne,” sê Jan in die maag van die orrel waar ons omring word deur rye en rye pype. Dis ’n belewenis om hom dop te hou terwyl hy orrel stem. Iemand druk vir hom die klawers en hy luister hierbinne na die pype se klanke. Hy tik dan klein ysterpenne­tjies op die pype om die luginlate groter of kleiner te stel en sodoende die klank weer 100% te kry. Dit gebeur vinnig.

“Orrels is soos mense. Hulle kry koud of warm. Daarom stem ek gewoonlik rondom seisoensve­randerings. Die koue en hitte beïnvloed die lug wat deur die pype geblaas word; dit maak die lug dunner of dikker.”

Wanneer hy klaar gestem het, speel Jan eers ’n paar stukke. Philippoli­s se leë kerk word propvol klank geblaas en dit voel skielik soos ’n outydse stukkie Europa daarbinne. Orrelmusie­k is

‘Die klawers laat die kleppe ooptrek – jy kan dit onder jou vingers vóél gebeur. Jy sweet ’n bietjie as jy speel, maar die fisieke kontak met jou instrument is ongeloofli­k belangrik.’

nou nie almal se gunsteling nie, maar om ’n groot ou pyporrel en ’n fantasties­e orrelis saam in aksie te hoor is besonders. Dit moet darem een of twee armhare laat regop staan.

Jan sê hy speel amper altyd sonder bladmusiek. “Ek improvisee­r, speel my eie verwerking­s. Baie min orrelspele­rs kan sonder bladmusiek speel. Ons Hollanders is bekend daarvoor dat ons dit doen, en party mense kritiseer die styl.”

Jan is al gevra om in Europa, Kanada en Namibië uitvoering­s te lewer, en hy het al sewe CD’S laat opneem.

BY JAN SE HUIS VRA EK sy kinders of enige van hulle belang stel om in hulle pa se voetspore te volg. Blykbaar nie. Die oudste, Marianne, studeer tale en die tweede, Jacqueline, onderwys. Jan se seun, Marinus, sê hy het ook “ander belangstel­lings”. “Soos meisies,” spot Jacqueline. Nee, sê Marinus. Hy wil baie graag boer. Die twee jongstes, Gerda en Naomi, beplan albei om eendag iets in ’n mediese rigting te doen.

“Marianne het my darem vir ’n jaar ná skool gehelp,” sê Jan. “Dit was haar jubeljaar,” lag hy. “Maar dit was baie spesiaal. Dit het ons regtig baie na aan mekaar gebring.”

Jacqueline sr. doen al die reëlings vir haar man. “Jan is baie goed in sy werk, maar ek is beter met die admin.” Daarom hanteer sy al die bespreking­s, stel sy program op en sorg dat fakture en betalings op datum is.

“Ja-nee, eintlik hou sy ons aan die lewe,” sê Jan.

Jan is baie op die pad en dus weg van die huis af. Maar Jacqueline het al daarmee vrede gemaak, want vandat sy hom ken, doen hy wat hy doen.

“Dis die heel slegste van die werk. Ons sien hom eintlik maar net naweke.”

Daarom het sy al geleer om self dinge in die huis reg te maak en die gloeilampe te vervang as hulle stukkend is.

“Ai ja,” sê Jan, “my werk is my stokperdji­e. Daarom gesels ek altyd orrel. Ek kan sien dit kry soms my arme gesin ’n bietjie onder.”

Nee, sê Jacqueline en die kinders gelyk, hulle is baie trots op hom. Al luister hulle nie sy CD’S nie…

“Kyk, die goeie ding van my werk is dat ek nou amper elke dag in die kerk kom. As ek predikant geword het, sou dit net Sondae gebeur.”

 ??  ?? 1
1
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? 2
3
4
5
1 Die orrel in Philippoli­s se NG kerk is meer as ’n eeu oud en een van Jan se gunsteling­e in die land. 2 In die enjinkamer van Philippoli­s se ou orrel. Die pype wat ’n mens aan die buitekant sien, is maar die oortjies van die...
2 3 4 5 1 Die orrel in Philippoli­s se NG kerk is meer as ’n eeu oud en een van Jan se gunsteling­e in die land. 2 In die enjinkamer van Philippoli­s se ou orrel. Die pype wat ’n mens aan die buitekant sien, is maar die oortjies van die...

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa