Foto-essay
Sowat 50 km van Hermanus af, tussen die meer spoggerige uitspanplekke De Kelders en Franskraal, lê Gansbaai ingedruk soos ’n grimmige ou seeman. Jac Kritzinger wys die vele fasette van dié legendariese vissersdorp.
Kom kyk na Gansbaai se haaie, vissermanne en wilde kroeë
Gansbaai is veral vir één ding bekend: witdoodshaaie. Die waters tussen dié Weskaapse kusdorp en Dyereiland staan hoeka bekend as Shark Alley, en besoekers van reg oor die wêreld stroom jaarliks hierheen om dié gevreesde roofvisse van bote of uit onderwaterhokke te bekyk.
Die dorp het lekker in die volksmond kom sit met wyle Worsie Visser se liedjie oor wie die plek nou éintlik lekker maak, en Anton Goosen het meer as dertig jaar gelede ’n skurwe hak hier in die grond kom slaan. Maar as jy verder kyk as haaie en liedjieboere – en jou natpak vir ’n stel droë klere verruil – kom jy gou agter daar steek heelwat meer in dié Strandveldse dorp aan die Kaapse suidkus. Dinge beweeg stadiger hier, met ’n gelatenheid oor die see en sy buie.
Gansbaai is een van die min oorblywende kommersiële vissersdorpies in die Weskaap, en byna alles draai om die waters se gebulder en gesus. Min het verander sedert dié bedryf in die vroeë twintigste eeu hier posgevat het. Die weergelooide hawe, wat wemel van skuite en omring word deur fabrieke waar die blinklywe verwerk word, vorm steeds die ware hartklop van die dorp.
Karakters is volop hier: goedhartige, taai siele wat geslagte lank al uitgelewer is aan ’n rustelose see wat gee én neem. En al het die moderne wêreld so met die jare hier ingesypel – jy kry die snuisterye, winkeltjies, eetplekke en florerende toerismebedryf eie aan bykans elke Kaapse dorpie – is daar steeds iets unieks aan die plek.
Dalk stu die bloed van die dorpsvaders nog sterk hier – ’n handjie vol hardkoppige, skuinsbeneukte vissers wat in die laat negentiende eeu hier wortelgeskiet het omdat hulle onafhanklik wou wees.
Toe het die plek nog Gansgat geheet, genoem na die varswaterfontein langs die hawe waar wildeganse destyds saamgedrom het. Eers later is die naam na die meer respektabele Gansbaai verander.
Hoe ook al: Gat of Baai, visserman of veearts, blokman of bouer, wetsman of winkelier... Daar’s ’n diepe krag en hartlikheid in hierdie plek se mense, wat nes die dorp self al vele storms getrotseer het. En op ’n Saterdagaand in die kroeë loop die stories soos ’n skool blink harders. Spookstories en smokkelstories.
Sééstories.