Vrywillige offer?
Kos is veronderstel om te streel en vertroos, maar dis met gemengde gevoelens dat ek julle moet vertel van ons Paasfees-voorgereg: sop met ’n dubbelskop.
Kôkô was ’n wees swart-en-wit kuikentjie wat gou deel van die groter familie op die plaaswerf geword het, maar nie lank nie of hy het in ’n haan van formaat verander, een met ’n veghoender-instink waarmee hy selfs volstruise ’n ding of twee kon wys.
Toe ons ons oë uitvee, het Kôkô sowaar die boonste sport op die werfhiërargie beklee en almal – ek inkluis – lelik laat les opsê met sy skopboksvaardighede. Sy besonderse voorliefde vir my rissietuin het my egter laat kopkrap, en daar was naderhand bittermin oor van my rooi-, pikant-, jalapeño- en soetrissies wat vir ekstra skop kon sorg in die kombuis.
En toe skiet die gedagte my te binne: Dalk verstaan Kôkô iets van die Paasboodskap en die “vrywillige offer”. Miskien was sy vreemde manewales maar sy manier om gestalte te gee aan ’n fynuitgewerkte plan: sop met ’n dubbelskop?