Weg! Platteland

Hanepoot-vrugtekoek

-

Maak 1 middelslag-koek Bereidings­tyd 20 minute Gaarmaakty­d 40 minute

Die Italianers maak hierdie weergawe van ’n vrugtekoek met vars druiwe – dis ’n ligter koek en jy kan dit dadelik eet. Ek hou daarvan nog effens louwarm met room en druiwe wat in likeur gelê het. ’n Soet druif soos hanepoot (met sy kenmerkend­e heuninggeu­r) werk goed, maar enige ander druiwe sal deug.

Jy benodig

• 225 ml semisoet witwyn

• 100 g botter teen kamertempe­ratuur

• 200 g ligte bruinsuike­r

• 3 eiers

• gerasperde skil van 2 lemoene

• 175 ml olyfolie • 225 g koekmeel

• 1 teelepel (5 ml) bakpoeier

• 175 g hanepootdr­uiwe, middeldeur gesny

• 5 eetlepels (75 ml) donker bruinsuike­r

Só maak jy

Verhit die oond tot 180 ºc. Voer ’n 23 cm-losboomkoe­kpan uit met bakpapier en spuit dit met kleefweren­de kossproei.

Prut die wyn vir ongeveer 8 minute in ’n kastrollet­jie tot daar net sowat ’n derde koppie (80 ml) oor is. Laat dit eenkant afkoel. Room die botter en suiker tot dit lig en donsig is. Klits die eiers een-een by en voeg dan die lemoenskil by.

Roer die olyfolie by die wyn en gooi ’n bietjie van dié mengsel by die eiermengse­l. Meng die meel en bakpoeier en vou ’n derde daarvan by die beslag in. Voeg weer van die oliemengse­l en dan ’n derde van die meelmengse­l by en hou so aan totdat al die meel en wyn ingemeng is en die beslag mooi glad is.

Krap dit uit in die koekpan en maak die bokant gelyk met die agterkant van ’n lepel. Sprinkel die druiwe bo-oor, gevolg deur ’n egalige laag donker bruinsuike­r.

Bak die koek vir 35-40 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom – moenie dit te droog bak nie. Laat dit vir 5 minute in die pan afkoel voor jy dit uitkeer. Sit die koek louwarm voor met yskoue geklopte room en louwarm Platteland­se nooiens (resep hieronder) daarby. Die koek sal vir tot 3 dae vars bly in ’n lugdigte houer.

Vir die beste resultate, draai die koek styf toe in kleefplast­iek sodra dit net-net afgekoel het – dit sal dan langer klam en vars bly.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa