A, B, huisie by die see
’n Goudstadse beroepsvrou het oor ’n lang afstand ’n nuwe huis laat bou op Pringlebaai – en toe die betonoerwoud vir ’n sandduin met bobbejane en ’n trop ander uitdagings verruil. Annamarie Viviers se dogter vertel die storie.
As oud-puk – deesdae die Universiteit van Noordwes – het my ma gesorg dat ons nooit die jaarlikse optrede van die Alabama-studentegeselskap in die Etienne Rousseauteater op Sasolburg misloop nie. In 1989 was ek ’n agtjarige ballerina, en dié singende-dansende studente het my só begeester dat ek vir hulle ’n bewonderaarsbrief geskryf het. Twee weke later was daar ’n pakkie in die pos: die groep se nuutste langspeelplaat, Pitkos.
Ek het die woorde van elke liedjie uit my kop geleer. Op die tweede snit van die album besing hulle die lof van Pringlebaai: “Pringlebaai jy lok uit / met seebamboes opgewas om ’n gebroke skuit / jou kalkwithuise jou blou-blou see / op Pringlebaai.”
Vandag is daar op dié kusdorp natuurlik nie sprake van die fraai eenvormige witgekalkte vissershuisies waarvoor ’n plek soos Paternoster so bekend is nie. Die huise op Pringlebaai is’ nargitektoniese mengelmoes–jy kry voorafvervaardigde koepel huise wat lyk of dit op Mars hoort; replikas van Centurion se Toskaanse paleise; houtspaander huise so eie aan C ape Cod; geel siersteenhuis e wat sou kon instaan as ’n NG kerksaal; klein vakansiepondokkie s wat netso groot soos die motorhuis is; en kolossale kontemporêre ontwerpershuise van beton en staal.
En tog is dié aardige versameling boustyle juis een van die redes waarom my ma mal is oor Pringlebaai.
“Om en by die tyd toe ons begin kyk het na die moontlikheid om ’n erf êrens langs die Kaapse kus te koop, het ek Ivan Vladislavic´ se boek Double Nega
tive gelees,” vertel Annamarie. “Hierin word die verhaal vertel van ’n jong man wat die dag deurbring saam met ’n gesoute fotograaf wat portrette van gewone mense in hulle huise neem.
“Die fotograaf glo elke huis en elke mens het ’n storie om te vertel, en sê in ’n stadium: ‘If I try to imagine the lives going on in all these houses, the domestic dramas, the family sagas, it seems impossibly complicated. How could you ever do justice to something so rich in detail?’ Ek hou daarvan om te dink aan al die stories wat opgesluit is in die huise op Pringlebaai... dit laat die eenderse wit huisies van Paternoster maar bra vervelig lyk!”
ANNAMARIE VIVIERS het nog altyd aan haarself as ’n stadsmens gedink, al is sy gebore op Oudtshoorn en al het sy as plaas- en koshuiskind op Ottosdal in Noordwes grootgeword voordat sy vir haar studie Potchefstroom toe is.
“As jong maatskaplike werker wou ek so gou as moontlik die plaasstof afskud en na die groot ‘bose’ stad trek. Ek het die geleenthede, die mense, die energie en die anonimiteit van Johannesburg opwindend gevind.”
Ná vyf jaar in die Goudstad het sy as jonggetroude na die Vaaldriehoek verhuis waar sy kinders grootgemaak het, geskei is en met verloop van tyd as menslike hulpbron bestuurder begin werk het. Danksy ’n werksgeleentheid is sy in 2000 terug Johannesburg toe, na ’n meenthuis in die gevestigde woonbuurt Little Falls in die weste van die stad, waar sy geglo het sy eendag sou aftree.
“Destyds was daar nog iets amper landeliks aan Little Falls, maar die omgewing i smet verloop van tyd verswelg deur‘ L ego land-behuising s ontwikkelings’ met ry een rye huisies sonder ’n boom in sig en ’n swetterjoel winkelsentrums. Daarmee saam was daar al hoe meer karre op die pad,” vertel Annamarie.
“Soos ’n mens ouer word, raak jy nostalgies oor jou grootwordjare. Ek het begin hunker na ’n eenvoudiger, stiller lewe nader aan die natuur, maar het gedink ek sal dit nooit kan bekostig om so ’n groot skuif te maak nie.”
In ’n gesprek met die jong argitek Etienne Britz het sy besef dat ’n alternatief dalk tog moontlik was. “As ons ’n bekostigbare erf kon opspoor en self ’n eenvoudige huis bou, was die plattelandse lewe dalk tog binne my bereik.”
Die soektog het gestrek van Velddrif en Paternoster aan die Weskus tot Waenhuiskrans, Struisbaai, Hermanus en uiteindelik Pringlebaai, waar ’n erf in die regte prysklas beskikbaar was.
’n Hele paar dinge het in Pringlebaai se guns getel: Dit is net ’n uur se ry van die Kaapstadse internasionale lughawe af (as konsultant werk Annamarie nog as persoonlik een leierskap s afrigter en -fasiliteerder, al het sy reeds aftreeouderdom bereik); die ontwikkeling van die dorp word deur die Hottentots-Holland-bergreeks, die R44-pad, die see en die Brodie Link-natuurreservaat >
ingeperk; en daar is net een toegangspad, geen straatligte nie en die mooiste ongerepte strand wat deur spierwit duine omring word.
Nietemin het sy die lap grond “taamlik impulsief” gekoop, en ’n hele vyf jaar het verloop voordat die eerste steen gelê is. In dié tyd het Etienne en Annamarie aan die huisontwerp geskaaf.
“Sy was van die begin af baie duidelik oor wat sy wou hê,” sê Etienne. “’n Eenvoudige huis, moontlik in die vorm van ’n plaasskuur, wat min onderhoud verg. Geen trappe nie – dit is waar sy wil oud word. ’n Vuurherd om kos te maak. En ’n lekker stoep.”
Hulle het die moontlikheid ondersoek om’ n standaard staal skuur struktuur te gebruik omdat dit ’n maklike en vinnige manier is om die dak op te kry, maar staalpryse het dié idee gekelder. Daarna het die ontwerp verander in ’n baksteenskuur en oor tyd van ’n dubbelna ’n enkelstaandakhuis met ’n meer Modernistiese aanslag ontwikkel.
“As argitek was Etienne besonder goed daarmee om al my behoeftes in ag te neem, ondanks my beperkte begroting. Ek het dit in ’n stadium selfs oorweeg om ’n visserskothuis van ’n bestaande plan af te bou, maar om saam met ’n argitek te werk wat jou behoeftes kan interpreteer en dit dan kan versoen met wat moontlik is op die erf, sorg vir ’n beter en meer persoonlike huis... ek was ook baie gelukkig om hierdie diens gratis te kry!”
DIE EINDPRODUK is ’n eenvoudige reghoek met ’n slaapkamer aan albei punte van ’n ruim leefvertrek, wat ook die kombuis bevat.
“Omdat die erf ’n vreemde driehoekige vorm het, was daar eintlik net een plek waar die huis kon staan,” verduidelik Etienne. “Maar dié posisie was fantas ties, want dit het’ n noord-noordwes -oriëntasie tot gevolg gehad, wat beteken ons kon die meeste van die natuurlike noordelig maak en die huis sy rug laat draai op die ergste suidooster.”
Klein“skietgat venstertjies” in die suidelike fasade sorg verder vir passiewe klimaatbeheer en kruisventilasie. Met die groot houtskuurdeure kan jy die hele leefvertrek oopmaak, terwyl die diep dakoorhang die ergste westeson afweer.
Die materiale en afwerkings is ook so eenvoudig as moontlik gehou: vlakvoeg baksteen werk wat geverf is, sementvloere wat met Coprox behandel is, blootgestel de houtbalke en gegalvaniseerde staalraam vensterrame en deure in standaardgroottes.
Die bouproses het ongeveer ses
‘Soos ’n mens ouer word, raak jy nostalgies oor jou grootwordjare. Ek het begin hunker na ’n eenvoudiger, stiller lewe nader aan die natuur, maar het gedink ek sal dit nooit kan bekostig om so ’n groot skuif te maak nie.’
maande geduur met Annamarie wat in Johannesburg was en Etienne in Kaapstad. Die bouer het daagliks foto’s van die vordering op ’n Flickr-rekening gelaai en Etienne het ongeveer een keer per maand die bouterrein besoek.
“Vir iemand wat daarvan hou om in beheer te wees, was dit swaar om so verwyder te wees van die proses. Ek het die foto’s dopgehou, maar het nie regtig genoeg kennis om dit te oordeel nie,” sê Annamarie, wat net een keer op die bouterrein was.
Aan uitdagings was daar ook geen tekort nie. “Pringlebaai is taamlik vleiagtig en ons moes dieper fondamente grawe,” verduidelik Etienne. “Die staking in die staalbedryf het ons ’n lelike knou toegedien en die bouwerk het omtrent ’n maand en ’n half stilgestaan. Meer tyd op die terrein beteken natuurlik ’n duurder huis, en ons moes slim te werk gaan om die huis klaar te kry.”
Maar toe die treklorrie op Saterdag 6 Desember 2014 uit Johannesburg in Pringlebaai aankom, was die huis min of meer klaar. IN DIE BYNA ’N JAAR sedertdien het Annamarie haar behoorlik ingeburger in haar nuwe omgewing, en sy mis glad nie die stadslewe nie.
“As ek toevallig die verkeersverslag vir Johannesburg oor die radio hoor, kry ek sommer ’n beklemming om my hart vir die arme mense wat daardeur moet sukkel,” sê sy. “’n Verkeersknoop op Pringlebaai is iemand wat in die middel van die verkeersirkel stop om ’n geselsie met ’n buurman aan te knoop.”
Dis ook asof sy dieper kan asemhaal hier. Die alomteenwoordige paranoia oor veiligheid in Gauteng het stelselmatig begin verdwyn en sy is nou meer bekommerd oor Pringlebaai se berugte bobbejane as oor boewe.
“Mense waarsku jou oor die verwoesting wat hulle kan saai, maar tot dusver was ek gelukkig. My eerste bobbejaanvoorval was eintlik skreeusnaaks. Ek was besig in die tuin, en toe ek terugkom in die huis, sien ek die pakkie droëperskes waaraan ek gepeusel het, is leeg. Ek het by myself gedink: ‘Het ek dit tog opgeëet?’ Niks anders was uit plek nie... tot ek Kees se stofspoor op my wit beddegoed gewaar waar hy deur my oop slaapkamervenster koers gekies het.”
Annamarie se verhouding met hulpbronne soos water en elektrisiteit het ook verander. Die koopkragmeter maak haar baie meer bewus van haar verbruik, en sy probeer ook die water meer spaarsaam gebruik aangesien die afvoerwater in ’n bergingstenk loop wat gereeld leeggetap moet word. Dié einste bergingstenk het vir manewales gesorg die eerste Kersfees toe die hele gesin die dak kom natmaak. Die tenk was eensklaps vol en die diens wat dit moes kom leegmaak, was druk besig...
Annamarie is ook al onkant betrap deur ’n leë melkbottel of koskas omdat daar geen gerieflike deurnag-kitswinkels op die dorp is nie.
“Maar my grootste stryd is teen die sand! Ons het gedurende die bouproses probeer om soveel as moontlik van die inheemse plantegroei op die erf te behou, maar daar is wel ’n deel om die huis waar ek nou weer moet tuinmaak. Ek wil graag ’n wilde inheemse tuin >
hê, maar fynbos vat lank om te groei. Intussen plant ek vygies en suurvye om die sand te bedek terwyl die boegoe, proteas en spekbome groei.
“Ek het dit al lankal aangevoel, maar byna ’n jaar hier op Pringlebaai het dit weer bevestig: Of dit nou is om meer bewus en blootgestel te wees aan die weer – in die stad beweeg jy dikwels van jou huis na jou lugversorgde motor na jou lugversorgde kantoor of inkopiesentrum – of omdat daar letterlik ’n slang in die gras skuil en jy op jou hoede moet wees vir die bobbejane... om nader aan die natuur te leef is gesonder vir ’n mens op fisieke én geestelike vlak.
“Richard Branson het dalk sy eie eiland, maar party oggende as ek gaan stap, is ek stoksielalleen op die strand, en dan voel ek skatryk. Hier het ek ’n lewe van eenvoudige oorvloed.”
Etienne Britz, Boukuns Architecture & Design boukuns.co.za