Weg! Platteland

Hier kan ’n mens méns wees

-

Wie sou kon dink toe ek in 2011 die korporatie­we lewe vir ’n lewe op die platteland verruil, dat ek besiger sou wees en in vyf jaar meer avonture sou hê as in vyftig jaar in die stad?

Wie sou kon dink toe ek in Februarie 2014 die tweede uitgawe van Platteland aanskaf, ek die tydskrif maande (hopelik word dit jare!) daarna steeds slaafs sou lees? Wie sou kon dink toe ons – dis nou ek, my vrou, Susan, en vriend Willem – in Desember ’n bistro op die min berese Sewepassep­ad in die Tuinroete oopmaak, ons twee jaar later nie net steeds in bedryf sou wees nie, maar sowaar ook in julle Wildernis-en-hoekwil-artikel in Platteland #9 sou verskyn?

Wie sou kon dink dat vele Platteland­lesers van reg oor die land by Bistro Celeiro sou aankom en eet en ontspan? Dat hulle, soos ou vriende, ons op die naam sal noem, ’n hond uit ’n bos uit gesels en nuwe vriende word? Ons innige dank aan julle (wat, vir die lesers wat wonder oor joernalist­e en freebies, inderdaad vir julle eie kos betaal het met julle besoek op 11 Oktober).

En aan Platteland se lesers wat droom en wonder oor ’n lewe in die “stadiger” baan: Neem die besluit, beplan en werk hard om dit ’n werklikhei­d te maak. Die platteland is nie noodwendig ’n stedeling se maat nie en ’n mens kan gou uitgekuier raak: Daar is klieks (en die gelykklink­ende winkel kan dalk honderde myle ver wees); dorpe is ver en jy kan nie noodwendig vinnig uitdraf vir ’n melk en brood nie; en as jy soos ons op ’n plaas woon (ons noem dit ’n “plos” – ’n kruising tussen ’n plaas en ’n plot), kan jy maklik vereensaam. Maar as jy jou hart én jou kop oopmaak, is dít wat jy wen, oneindig meer as dít waarmee jy dalk gaan sukkel.

Die pas is dalk stadiger – met die klem op dálk – maar ons het nog nooit so hard gewerk nie: Ons moes selfs ons seun, Julio jr., en sy meisie, Jana, ’n nooi van Carnavon, uit Kaapstad teruglok om hier te kom help!

Die vreugde van ’n sonsopkoms met ’n koppie vars koffie of ’n sonsonderg­ang met ’n yskoue bier ná ’n dag se harde werk is sonder prys. Die oop lug, die wag vir reën en jou damme dophou wat ál laer sak, die mense wat jy ontmoet en die stories wat jy hoor – dit gee ’n nuwe dimensie aan werklik menswees! Julio (x 2) en Susan Agrella

en Willem Smith, BISTRO CELEIRO, OP DIE HOEKWILPAD

Die foto hieronder het Julio saamgestuu­r – dis van hulle spotgoedko­op nuwe groente-en-kruiebokse waarvoor jy uitskotlaa­iborde en ou plastieksk­adunet gebruik. – Reds.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa