Weg! Platteland

Grenadella­smeer

-

Maak 500 ml Bereidings­tyd 5 minute Gaarmaakty­d 30 minute

As jy lief is vir suurlemoen­smeer – dis nou lemon curd – sal jy mal wees oor dié veelsydige smeer. Boonop kan jy dit vir tot drie weke in die yskas hou én dis ’n lekker geskenk om saam te vat as jy by die bure gaan eet. Gebruik hierdie een presies soos wat jy sy suurlemoen­boetie sou gebruik: saam met roomys en skons; as vulsel vir tertdoppie­s, koeke of pannekoek; of kikker ’n pavlova met room en vars bessies daarmee op.

Jy benodig

• 1 koppie (250 ml) grenadella­pulp • sap van 2 suurlemoen­e • 1 koppie (250 ml of 220 g) witsuiker • ½ koppie (125 ml of 125 g) yskoue

botter, in blokkies gesny • 6 eiergele (of 4 heel eiers), geklits

Só maak jy

Pols die pulp vinnig in ’n voedselver­werker om die vesels en sap te skei. Sit ’n glas- of metaalbak oor ’n kastrol met water wat liggies prut, maar maak seker die bak raak nie aan die water nie.

Gooi die pulp, suurlemoen­sap (sien die wenk hieronder) en suiker in die bak en roer dit tot die suiker opgelos het en die mengsel louwarm is. Hou aan roer terwyl jy die botterblok­kies een-een bygooi – roer elkeen tot dit smelt voor jy die volgende een byvoeg (dit sal so 10 minute neem).

Gebruik dan ’n ballonklit­ser en klits die eiergele by die warm mengsel in. Jy sal geduldig moet wees en dit vir omtrent 15-20 minute aanhoudend klits tot die mengsel verdik – dit is gereed sodra dit die tekstuur van loperige vla het en die agterkant van ’n houtlepel bedek.

Skep die smeer dadelik in warm gesterilis­eerde flesse, sit ’n stukkie waspapier bo-op en draai die deksels styf op sodra dit heeltemal afgekoel het. Bêre die smeer in die yskas en gebruik dit binne drie weke. Sodra jy een van die flessies oopgemaak het, moet jy dit binne ’n week gebruik.

WENK

Hierdie smeer is taamlik suur – as jy skrikkerig is daarvoor, moet jy nie al die suurlemoen­sap aan die begin byvoeg nie. Wag eerder tot nadat jy die vla geklits het – proe en gooi die een suurlemoen se sap dan eers by indien jy dit suurder verkies.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa