Droom op eie stoom
Op Kleinplasie, ’n hanetree buite Vanwyksdorp, leef Pieter en Sally Louwrens soos in die jaar toet: Hulle kweek self 99,9% van die kos wat hulle eet, bodder glad nie met Eskom of die munisipaliteit nie, en gaan net winkel toe as hulle kerse, vuurhoutjies, suiker of koffie nodig het...
Vir ’n man wat dag in en dag uit klipharde handearbeid verrig (darem met ’n hoed), lyk Pieter Louwrens nie naastenby soos iemand wat in 2017 sy 70ste verjaardag sal vier nie.
Sy vel is byna plooiloos, sy oë blink soos dié van ’n jong kêrel en hy stap vinnig en doelgerig soos een met ’n plan. Of eerder: planne.
Pieter was tot 1992 ’n bosbouer by die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad ( WNNR), maar wou nie na die ou Oos-transvaal skuif ná ’n besluit om die Saasveld-navorsingstasie naby George te sluit nie. Hy het bedank en toe ’n jaar lank sonder sukses werk gesoek in die bosbou- en landboubedryf. Vriende van hom het in daardie stadium op Vanwyksdorp kom aftree, en ná ’n besoek aan die omgewing het allerlei moontlikhede soos vrugte- en groenteverbouing in sy agterkop begin draai.
Pieter het Kleinplasie in 1993 gekoop omdat dit daardie tyd bekostigbaar was. Hy het ook gehou van die vreedsame, onbesoedelde, relatief misdaadvrye omgewing, die klimaat en grond was geskik om ’n wye verskeidenheid voedselgewasse te kweek, besproeiingswater uit Die Oog was bekostigbaar, dit was nie te ver van dorpe en noodsaaklike dienste nie, én hy het mos reeds vriende op die dorp gehad...
Hy moes van voor af begin en leer om met beperkte fondse sy eie potjie te krap – so eenvoudig en goedkoop as moontlik, en dít op ’n vervalle plaas waar daar vir ’n kwarteeu g’n mens gewoon het nie.
In Julie 2004 het hy vir Sally, ’n weduwee van Milnerton, deur ’n korrespondensieklub ontmoet en in Februarie 2005 is hulle getroud en het sy na die plaas getrek.
“Ek het op ’n plaas in Jonkershoek grootgeword,” sê Sally, “en Pieter het my oog gevang omdat hy die enigste man was wat gesê het hy hou van organiese boerdery, bouwerk, fisieke werk en musiek.”
Letterlik alles wat jy om jou sien, is die twee se handewerk: Hulle het die oorspronklike vervalle kothuis dramaties uitgebrei met hulle eie hande en sonder enige arbeid, en Sally, wat baie kunstig is en steeds kunsterapieklasse vir die kinders van die dorp aanbied, het al die lieflike klipwerk én die pleisterwerk gedoen.
Die Louwrense het lank met kerse en lampe en sonder ’n yskas, televisie of wasmasjien oor die weg gekom, maar nou is daar verskeie sonpanele, ’n windlaaier, omsetters, batterye en ook ’n kragopwekker (om die batterye te herlaai, wanneer nodig, maar ook sterk genoeg om te sweis) wat in al hulle energiebehoeftes voldoen.
Behalwe vir organiese vleis (verkieslik wild) wat hulle vir Pieter koop, ruil of present kry (Sally is ’n vegetariër), en koring wat hulle by vriende kry en self maal vir meel, kweek hulle de laaste ding wat hulle eet op Kleinplasie se 0,6 ha bewerkbare grond: aarbeie, aartappels, amandels, appelkose, appels, avokado’s, beet, bloekombome
‘Wat te veel is, word óf gedroog óf ingemaak vir later óf weggegee óf geruil vir iets anders.’