Weg! Platteland

WIE GEBRUIK AL DIE WATER?

-

In 1976 het die Britse skrywer en avonturier John Seymour die boek The New Complete Book of SelfSuffic­iency – The Classic Guide for Realists and Dreamers geskryf. Dis bestempel as ’n gids vir mense wat probeer afskaal óf daarvan droom – buiten ’n rits praktiese wenke en nuttige inligting wat hy oor baie jare op plase en kleinhoewe­s ingesamel het, het hy ook met die volgende paragraaf vorendag gekom, iets wat ’n mens nogal laat dink: “Die spoeltoile­t is een van die moderne mens se grootste sondes... Dit is ’n merkwaardi­ge duur manier om vars drinkwater te besoedel, terwyl jy terselfder­tyd al die voedingsto­wwe vermors wat noodsaakli­k is om die grond vrugbaar te hou. Een trek van die hefboom en die afval word iemand anders se probleem.”

Seymour het ’n punt beetgehad. Volgens Rand Water se Waterwise-webwerf is spoeltoile­tte verantwoor­delik vir ’n verstommen­de 73% van watergebru­ik in laeinkomst­ehuise, terwyl die syfer in middel- tot hoëinkomst­ehuise 37% is (dit lyk nie of enigiemand die verskil kan verduideli­k nie).

Dit is duidelik ’n groot probleem, veral hier by ons. Die wêreldwye gemiddelde reënval is 985 mm per jaar, terwyl slegs 492 mm elke jaar oor Suid-afrika uitsak – net mooi die helfte. Ons word dus amptelik beskou as ’n land wat onder waterstres verkeer.

’n Gesin van vier kan volgens Rand Water tussen 300 ℓ en 800 ℓ per dag gebruik in die huis – dis baie as ’n mens in ag neem elders ter wêreld gebruik mense tot so min as 25 ℓ per persoon per dag. Teoreties, sê Rand Water, behoort ’n mens alledaagse take soos skoonmaak, kosmaak, bad, drink en toilet spoel met slegs 2½ emmers water per dag te kan verrig.

Alles dui daarop dat die waterprobl­eem ál groter gaan word. Laat in September 2016 het die departemen­t van water en sanitasie alle sektore van die bevolking gevra om op alle vlakke van die waterketti­ng met “toepaslike bereidheid­splanne” vorendag te kom om te keer dat die land se damme opdroog.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa