VAN TOEKA TOT MANDELA
Die mooi omgewing teenaan die Suikerbosrand en Blesbokspruit was in die middel negentiende eeu al ’n gewilde bymekaarkomplek vir smouse en transportryers wat tussen Pretoria, Potchefstroom, Bloemfontein en Durban (in daardie jare Port Natal) gereis het.
Die Duitse handelaar Heinrich Ueckermann het die potensiaal raakgesien en in 1860 ’n handelspos aan die oewer van die spruit op die plaas Langlaagte gebou. Hier het dit naderhand só besig geword dat Ueckerman en die eienaars van Langlaagte aansoek gedoen het om ’n dorp te stig. Op 28 Maart 1866 is Heidelberg geproklameer en genoem na die universiteitsdorp in Duitsland waar Ueckermann gestudeer het.
Tydens die Eerste Vryheidsoorlog (18801881) tussen die Boere en die Britse magte was Heidelberg die hoofstad van die destydse ZuidAfrikaansche Republiek (ZAR). Dis ook hier waar die driemanskap bestaande uit Paul Kruger, Piet Joubert en M.W. Pretorius die nuus gekry het van die oorwinning by Majuba, wat die einde van die oorlog beteken het. Die vredesverdrag is op 21 Maart 1881 op Heidelberg onderteken.
Ná die ontdekking van goud in die Witwatersrand het die dorp verder gegroei en was hier in ’n stadium glo 18 hotelle. Die Afrikaanse digter A.G. Visser was van 1916 tot met sy dood in 1929 die mediese dokter op die dorp en een van sy pasiënte, die digter en skrywer Eugène Marais, die prokureur. Hulle het boesemvriende geraak en Visser het Marais met sy morfienverslawing gehelp.
In 1958 was H.F. Verwoerd die Nasionale Party se kandidaat vir Heidelberg en het hy die verkiesing gewen. Die Afrikanerweerstandsbeweging (AWB) is in 1973 deur sewe jong mans in ’n motorhuis op Heidelberg gestig. Een van hulle was wyle Eugène Terre’blanche.
Op 29 November 1996 het Heidelberg ereburgerskap toegeken aan oudpres. Nelson Mandela, wat op dié geleentheid gesê het die omgewing was amper 200 jaar “’n teater van die stryd om vryheid en onafhanklikheid”.