PAULA KINGWILL
Dramaterapeut en beesboer op The Rest
Paula Kingwill het altyd geweet sy sal eendag terugkeer na die familieplaas waar haar ouers, die derde geslag Kingwills, 40 jaar lank beesboere was, maar het gehoop as dramaterapeut sal sy die plaas nuut kan inspan as ’n toevlugsoord vir emosioneel voos stadsjapies.
In 2010 het sy en haar man, Iain, hulle loopbaan in die Kaapse teaterbedryf vaarwel gewuif en “gratis arbeid” geword vir haar ouers terwyl hulle elke aspek van die boerdery – ook die vuilwerk – onder die knie gekry en twee kinders, Callum en Kyla, gehad het.
“In die stad het ’n mens ’n bedrieglike gevoel van beheer, maar op ’n plaas besef jy gou jy het géén beheer oor die weer, vleispryse of die regering nie. Hier gaan alles oor lewe en dood: Jy jubel as iets oorleef, jy huil as iets vrek, en dan gaan jy weer aan. In die stad is mense baie beskermend oor hulle intellektuele eiendom, maar hier help almal mekaar: As jy ’n probleem het, sal die ander boere de laaste krieseltjie kennis deel wat hulle op die harde manier en oor baie jare geleer het.”
Paula-hulle slag nie self nie, maar verkoop die vleis plaaslik en op bestelling in Johannesburg, Kaapstad, Grahamstad en Port Elizabeth. Al is die Karoo bekend as skaapwêreld, is dit te arbeidsintensief, sê sy, en boonop het al hoe meer plase in die distrik oor die jare leefstyl- en wildsplase geword waar jakkalse floreer.”
Al is hulle nou boere, het Paula-hulle begin met dramaterapie-werksessies in The Space,
’n lieflike kleisteen-werkruimte wat hulle in September 2015 voltooi het. Verder is sy betrokke by ’n projek vir swanger tienerma’s op die dorp. “Dit is skokkend dat so baie bevoorregte mense snert glo soos dat tieners swanger raak om ’n staatstoelae te kry. Dié meisies word groot in huise waar aanneming of ’n aborsie vir hulle ma onaanvaarbaar is, en word ook nie touwys gemaak deur hulle ouers nie. Ons ontmoetings gaan dikwels oor die deel van hulpbronne: Hulle het byvoorbeeld geen idee wat hulle moet eet as hulle swanger is of hoe om sekere take te verrig nie. Armoede gaan net soveel oor wie jy is... hoe kan jy ’n ouer wees as jy nie jouself ken nie? My hoop is dat ek net één kind kan help om die bose siklus te breek.”