Juliet Olifant, wat saam met haar ma, Evelyne, ’n eetplek in Pienaarsig, Nieu-bethesda, bedryf.
In die klipdorre Karoo lyk en vóél Nieu-bethesda soos ’n fantasmagoriese groen oase – die soort plek wat, net soos ’n pelgrimstog na die ware Mekka, jou lewensuitkyk vir altyd op sy kop gaan keer.
Iewers in hierdie eens ordinêre platdakhuis waar beelde én rillings jou nou om elke hoek en draai bekruip, het Helen Martins op 5 Augustus 1976 ’n beker bytsoda gedrink en drie dae later in ’n vagevuur van pyn in die hospitaal op Graaff-reinet gesterf. Sy was 78.
Die “eksentrieke, mal” vrou van vlees en bloed het nie meer kans gesien vir die lewe nie, maar die dood was allermins die punt aan die einde van haar storie. Veertig jaar later lééf Miss Helen met oorgawe deur haar nalatenskap: die nou wêreldbekende Uilhuis-en-tuin wat sy en ’n paar mans van Pienaarsig, die plaaslike township, tussen 1945 en 1976 met fyngemaalde glas en draad-en-sementbeelde verander het in ’n private heelal waar sy geborge was.
Ironies genoeg is dié nalatenskap – ’n fisieke manifestasie van haar rebellie teen die sosiale, morele en godsdienswette van haar tyd – naas die eeue oue fossiele in die distrik waarskynlik die hoofrede waarom Nieu-bethesda (teen alle verwagtinge in) nooit sý laaste asem uitgeblaas het nie.
Tog voel dit in vele opsigte of tyd gestol het in die vrugbare vallei aan die voet van die Sneeuberge, waar Kompasberg – teen 2 502 m die naashoogste spits in die Oos-kaap – ’n oog hou oor die dorp: Nieu-bethesda het byvoorbeeld steeds stofstrate waar jy vroemôre hopies stomende bees- of perdemis of dalk ’n duwweltjiebos of drie sal gewaar; soos in vervloë dae het die inwoners steeds leiwaterbeurte danksy die oog wat oorvloedig borrel uit die berg bo die dorp; hier is steeds geen banke, kitsbanke, kredietkaart- geriewe, vulstasies of straatligte nie; en die stedelike vlugtelinge wat hier kom aanklop om asiel, resiteer deur die bank lofdigte waarin dieselfde vier s’e vir die nodige alliterasie sorg: stilte, sterre, stadig, stof. >
“AL WAT EINTLIK VERANDER HET op Bethesda,” bromlag oom Isak Kasper, wat hier gebore en getoë is, “is dat die hadidas ons nou smôrens wakker raas en nie meer die hoenderhane nie. Verder is dit stil en rustig hierso en jy ken elke mens op die naam. Bethesda is nie die tipe plek waar ’n man kan kwaaddoen en daarmee wegkom nie.”
Oom Isak – in dié geweste beter bekend as Vellies – sit in sy rolstoel op die hoek van Martin- en Hudsonstraat en bekyk die wêreld saam met sy honde, Soekie en Vlooi, terwyl hulle wag vir sy vrou, Kathleen, wat gou by die algemene handelaar ingedraf het om brood te koop.
Oom Vellies se skoot eindig stomp, maar hy laat heel behendig ’n bondel optelhout daarop rus.
In Junie, sê hy, sal dit vier jaar wees dat sy bene weg is.
“Dit was koud en ek en ’n paar vriende het vuurgemaak daar by die terrein oorkant Miss Helen se huis waar hulle die uiltjies en beeldjies verkoop. Maar ek is mos nie eintlik ’n sementman nie, ek is meer ’n draadman... >
“Vroeaand is my vriende daar weg, en toe kry ek ’n tipe aanval, so ’n epileptiese ding soos wat my pa ook mee gesukkel het, en toe val ek daar in die vuur.” Die probleem, sê hy, behalwe nou die epileptiese aanval self, was die dik denimbroek wat hy aangehad het en die paar snaakse skoene wat hy by ’n oorsese vrou present gekry het met veters wat “heeltemal anderster werk hier aan die bokant”.
“Toe ek daar wakker word, Meneer... álles was swart en gebrand. Ek kan tot vandag toe nie glo ek het met my eie twee bene daar opgestaan en van die Uilhuis af gestap, af in die straat, tot by ons ou sinkhokkietjie doer onder nie. My vrou het die ambulans gebel, en toe ek daar in die hospitaal wakker word, was my bene weg. Weg. Maar partykeer, vernaam in die nag, voel ek hulle weer, o herder, dan pyn daai voete van my nes of hulle nog in die kole lê.”
OP DIE PLEK waar oom Vellies sy bene verloor het, staan ’n tien stuks inwoners van Pienaarsig by lamlendige stellasies van pale, hout en wapperende plastiek met sementuile, meerminne, skapies, plante en kraleen draadwerk voor hulle uitgestal. (’n Hele paar van die inwoners het aan Platteland vertel daar gaan binnekort netjiese permanente stalletjies vir hulle gebou word.)
Een van die stalletjieeienaars is Boksie Malgas, dogter van wyle Koos Malgas wat in die jare voor Miss Helen se dood sementbeelde vir haar gemaak het. Hy was ook van 1991 tot met sy dood op 20 November 2000 verantwoordelik vir die restourasie van die beelde by die Uilhuis.
“My naam is eintlik Magdalena, maar hierso praat almal maar van Boksie. My pa vertel so twee, drie dae ná my
geboorte – dit was op 23 Oktober 1958 – het hy vir hom ’n paar nuwe skoene gekoop, en toe pas ek só mooi in daai skoenboks dat dit sommer my pram geword het. Van toe af is my naam maar Boksie.”
By Boksie se stalletjie staan die meeste en die mooiste en die grootste uile met lieflike veerpatrone. De laaste een is die handewerk van haar seun Justin, verklaar sy trots. “Hy het mos op 14 die skool gelos en toe het my pa hom touwys gemaak met die draad en die sement. In ’n goeie week maak hy 20 tot 30 van die uiltjies,” sê sy.
“Ek doen maar die sales, want hierdie is glad nie ’n maklike job nie. Ek hét al self probeer, want hier is maar weinig
jobs en vir onse mense is die beeldjies al manier om ’n kossie en ’n drinkdingetjie te koop. Maar sementwerk is niemand se speelmaat nie, en hy raak nou éérs moeilik wanneer jy met ’n gesig te doen het... Justin is baie goed daarmee, maar hy sê ook daai meerminne en die agteroormeisies is regtigwaar ’n moeilike storie.”
Boksie onthou nog vir Miss Helen. “Sy was ’n vreeslike klein, fyn vroutjie en sjym, sy het mos net die agt toontjies gehad; die kleintoontjies was mos afgesit... daai jare het almal maar gedink sy was ’n bietjie deurmekaar. Ek onthou ek het as kind altyd gewonder hoekom maak sy die snaakse beelde.
“Vir my pa was dit baie lekker om vir haar te werk. Hy het altyd gesê dis Miss Helen se blomtuin, sy het nie water om gras en goeters nat te maak nie. Meneer weet, daai Miss Helen was maar altyd, hoe sal ek sê, meer oor die bruin mense... ek dink dis hoekom sy naderhand nie meer kerk toe gegaan >
het nie. Sy het haar eie kerkie daar agter in die jaart gebou. Dis waar sy later jare gaan bid het.”
SOOS OP DIE MEESTE plattelandse plekke wat ’n soort renaissance in die kleine beleef wanneer die “inkommers” opdaag, meermaal gewapen met geld en grade, is dié opbloei ’n tweesnydende swaard. Min mense verstaan dit so goed soos Idil Sheard, ’n oudonderwyser, wat 30 jaar saam met haar man, Neil, in die distrik geboer het voordat hulle The Village Inn, die oudste eetplek op die dorp, begin het. Haar broer, wyle Egbert Gerryts, was van 1991 af aan die stuur van sake, en sedert sy dood in 2006 is Idil weer die voorvatter.
Idil sê sy wil nog eendag iets skryf oor die “twee lewens” van die dorp. “Mense vergeet Nieu-bethesda was vir die grootste deel van sy bestaan ’n kwynende plekkie vol bywoners, arm maar intelligente mense soos die fossielman James Kitching en Helen Martins. Dekades lank was die algemene opvatting dat daar uit Bethesda niks goeds kan kom nie, en eers nadat Athol Fugard se The Road to Mecca internasionaal opgevoer is, het vreemdelinge hier begin opdaag op soek na die Uilhuis.
“Ons het Athol lank terug ontmoet toe hy een aand by die restaurant kom >
eet het,” vertel sy. “Ek het besef baie van die karakters in sy toneelstukke is gegrond op mense in die vallei, en daarom wou ek dit in Afrikaans vertaal om dit vir die plaaslike inwoners toeganklik te maak.”
Só het Valley Song byvoorbeeld Lied van die vallei geword, en The Road to Mecca het sy as Met kerslig na Mekka vertaal. Vir dié werk het die ATKV haar in 2010 met ’n oorkonde vereer.
Dis ’n sekere soort mens – fynbesnaard, kreatief, soms emosioneel gekwes – wat aanklank vind by Helen se verhaal, wat volgens Idil ook glad nie so hartverskeurend en tragies is as wat dit soms uitgebeeld word nie.
“Ja, haar lewe was nie maklik nie, maar dit het volgens my meer te doen gehad met die feit dat sy in ’n ander tyd en ’n ander soort gemeenskap gelewe het. Vroue moes daardie jare na hulle mans luister, tee drink en kerk toe gaan – hulle het nie twee keer geskei, aborsies gehad, ’n verhouding met ’n getroude man aangeknoop of hulle huis en tuin met volksvreemde beelde en simbole uit die Ooste gevul nie.”
Vandag, sê sy, is alles anders. NieuBethesda is nou ’n kosmopolitaanse plek waar party mense planne maak om meer besoekers en geld te lok, >
terwyl ander glo onbeheerste groei sal die dorp se einde beteken.
Die groot saving grace, vertel baie jou, is die feit dat dit so afgeleë is – amper halfpad tussen Kaapstad en Johannesburg – en dit kan dus onmoontlik nog ’n Clarens of Riebeek of Greyton word. Of, soos een van die gereelde besoekers aan die gehuggie dit stel: “Nieu-bethesda is net te blerrie ver vir die meeste stadsmense om hulle
bad taste te kom uitleef.”
ONDANKS DIE OPBLOEI is daar op die dorp self steeds net 60-70 permanente inwoners, met nog sowat 800 mense wat in Pienaarsig woon. Een van hulle, die immer blymoedige Evelyne Olifant, en haar dogter, Juliet, doen ondanks die hoë werkloosheidsyfer alles in hulle vermoë sodat almal in die buurt minstens een goeie maaltyd per dag kry.
Sommer met die intrapslag by Kloofstraat 4, van waar sy haar huisrestaurant, Antie Evelyne se eetplek, en die God sal voorsien-sopkombuis bedryf, vertel Evelyne jou “hier begin al onse werk op onse knieë”.
“Kyk, ek trek nie my neus op vir mense wat drink nie, want ek was self ’n alkoholis... twee van my kinders het in een jaar gesterf – een is doodgesteek en die ander een is dood in ’n accident – en toe gaan soek ek mos my hulp by die bottel. Maar to God all the glory dat ek in ’87 opgehou het en dat die Here toe vir my nog ’n kind, ’n meisiekind, Juliet, gegee het.”
Evelyne het aanvanklik vir ’n ekstra inkomste vetkoek en gemmerbier verkoop en in 2000 met ’n skenking van R20 haar restaurant begin waar sy op bespreking “regte boerekos, niks fancy nie” voorsit.
In 2007 is die God sal voorsiensopkombuis gebore waar hulle uitsluitlik met skenkings – geld óf bestanddele – elke dag vir 60 kinders en ’n groep volwassenes sop en brood gee. Die kinders bring ook smiddae hulle kosblikke saam waarin Evelyne-hulle toebroodjies pak wat hulle die volgende oggend voor skool weer kom optel.
“Maar jy kan nie sommer net kom aansit nie,” sê Evelyne. “Die kinders moet kan bewys hulle was in die skool, en die grootmense mag nie vuil of dronk wees nie, hulle mag nie stokke of ander wapens by hulle hê nie en hulle moet betyds wees, want voor >
ons eet, sing ons eers, ek lees uit die Bybel en dan seën ons die kos. En ná die tyd ‘betaal’ die adults vir hulle bord kos deur te help om die volgende dag se groente te skil, skottelgoed te was, potte te skrop, skoon te maak, hout te kap, die tuin te versorg of die kinders met hulle huiswerk te help.”
Verlede jaar in die winter het die barmhartige ma en dogter ook ’n brei-hekel-en-naaldwerkprojek vir werklose vroue begin en deesdae kan die kinders op Saterdagoggende aanmeld vir kunsklasse.
Evelyne en Juliet lag en sê daar is seker nie baie plekke in Suid-afrika waar die township die bodorp met die
view is en die ghrênd dorp die onderdorp nie.
“Wat saak maak, is dat Nieu-bethesda ’n community is,” sê Evelyne, “en in ’n regte community help mense mekaar uit. Lift yourself up, sê ek altyd. Jy kan nie vir die government of ander mense wag om goete vir jou uit te sorteer nie. Jy moet wérk, en jy begin op jou knieë.”