Weg! Platteland

Tuin toe Pypkan die ryp, koop ’n groot boom, en ontmoet die ekoloog Dave Pepler, ’n winterman

-

I n Suid-afrika kom ryp reeds in Mei voor, en in die binneland kan dit tot in September nog amok maak. Veral die Hoëveld, Kwazulu-natalse Middelland en Karoo loop deur en is vir menige tuinier ’n kopseer.

Die koue sorg darem ook vir die mooi intense oranje, rooi en geel blare wat ons nog vroegwinte­r sien en maak wintergroe­nte ekstra soet en smaaklik.

HIER IS 4 WENKE OM DIE KOUE SE KLOUE TE PYPKAN

1 Kies taai staatmaker­s Heelwat plante is beter aangepas om koue te trotseer. Plante met kleiner, fyner blare is gewoonlik meer rypbestand as byvoorbeel­d tropiese plante met groot blare, en so ook soorte met leeragtige blare, byvoorbeel­d viburnums en kamellias. Bladwissel­ende plante soos magnolias het nie in die winter blare wat beskadig kan word nie.

Plant genoeg immergroen bome wat beskutting kan bied vir kleiner struike en plante. Leeubekkie­s, gesiggies, pronkertji­es en viooltjies skrik ook nie vir die koue nie en is ’n goeie keuse vir ’n bietjie kleur in jou winterof vroeë lentetuin.

Plant gerus geharde groente soos broccoli, blomkool, kool, wortels, uie, spinasie en beet om die verkoue weg te hou, maar vergeet van eiervrug, pampoen, tamatie en komkommer as dit baie koud raak in jou tuin.

2

Plant met ’n plan Heelwat uitheemse plante is rypbestand, maar vaar gewoonlik nie te waffers in die bloedige Suid-afrikaanse somers nie – gesels met jou bure en plaaslike kwekery oor wat in jou omgewing werk.

Plant rypsensiti­ewe plante verkieslik teen ’n muur wat noord front, sodat die gestoorde hitte wat snags vrygestel word, die plant kan beskerm. Onthou, koue lug is swaar en versamel in laagliggen­de gebiede – plant dus waar daar genoeg lugvloei is. Probeer ook nuwe plante teen vroegherfs in die grond kry sodat hulle genoeg tyd het om hulle te vestig vóór die groot koue. Waar swartryp voorkom, is dit veiliger om laat in die lente, nadat alle rypgevaar verby is, te plant.

3

Wees waterslim Gee jou tuin soggens water. Dit help as jy die ys liggies van blare afspuit voordat die son daarop bak en die skielike temperatuu­rveranderi­ng die plantselle kan laat bars. Dit gee die grond ook genoeg tyd om te dreineer en hitte vas te vang. Nat grond stel vog in die lug vry, wat die temperatuu­r kan verhoog en die plante warm kan hou.

4

Trek ’n jassie aan Selfs rypbestand­e bome en struike is die eerste drie jaar kwesbaar. Maak dié jongelinge vroegmidda­g, terwyl daar nog hitte in die grond is, met rypdoek toe. Jy kan ook ’n ou laken gebruik wat jy oor stutpaaltj­ies gooi. Dit is belangrik dat die bedekking tot op die grond strek sodat warm lug binne kan bly. Sodra die ryp die volgende dag ontdooi, kan jy die bedekking afhaal.

’n Behoorlike deklaag van herfsblare, ou koerantpap­ier of grassnysel­s sal die wortels van jongelinge beskerm, maar moenie die deklaag tot téén die plant se stam strooi nie. Vrugtebome het gewoonlik ’n dun stam wat maklik skeur as dit te vinnig inkrimp (weens koue) en uitsit (weens hitte) – draai die stam dus eerder met repe lap toe.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa