Vertel ons Die dae toe Riebeek nog in Fonteinstraat water geskep het
Die artikel “Vallei van die druif en olyf” in julle Herfsuitgawe het my ver laat dink. Ek is in 1927 op Riebeek gebore. Ons het in Fonteinstraat gewoon voor daar nog straatnommers was. Die straat is só genoem omdat daar vroeër fonteine was waar die water sommer bo die grond uitgekom het en waar inwoners dit met emmers vir daaglikse gebruik kon skep omdat daar geen munisipale waterverspreidingstelsel was nie.
Toe ek my verstand kry, was daar egter reeds water aangelê vanaf ’n bergfontein wat later met water uit boorgate aangevul is. Inwoners kon water koop in veelvoude van 100 gelling per dag – dié water is konstant gelewer, of dit nou nodig was of nie, en daar was ook geen watermeters nie.
Oom Willie Kirsten was die waterfiskaal wat by elke huis die beheerkraan gestel het om die gekontrakteerde volume water per dag teen ’n konstante vloei te lewer. Baie huise was só primitief dat hulle nie lopende water gehad het nie en emmers water is van die stoordrom of dammetjie af ingedra. In die water wat soms oorgeloop het, het watergras opgeslaan wat makoue of eende van weiding voorsien het. Die oorloopwater was dus nie heeltemal vermors nie.
In die oorlogsjare was daar nie voldoende metaal beskikbaar om die ysterpype te ver vang nie, en toe is houtpype gebruik. Die houtpype is gemaak deur lang houtpype skuins aan die kante te sny, soos die sye van ’n vat. Wanneer water by die pype ingelaat is, het dit die sye laat druk teen ’n stewige draad wat dit bymekaar gehou het, en dit het die pype dig gemaak.
• Na aanleiding van een van die briewe in dieselfde uitgawe wil ek sê ek het ook met ’n longdrop grootgeword wat 30 m van die huis af gestaan het. Nou vertel hulle die storie van Koos van der Merwe (nie van Swartdam nie, maar van die Karoo) wat hulle longdrop ná lang gebruik moes verskuif. Daar was ’n paar droë olieboorgate van meer as ’n duisend voet diep op die plaas, en om die moeite te spaar om ’n longdropgat te grawe skuif hy toe die longdrop tot boop so ’n droë gat.
Kort daarna kom sy neef van die dorp by hom kuier en hy moet die toilet gebruik. Hy het ingegaan, die deur toegemaak en nie weer te voorskyn gekom nie. Toe hulle hom later soek en die toiletdeur oopmaak, sit hy daar op die troon – morsdood. Daar was allerlei bespiegelinge oor wat sy dood kon veroorsaak het, totdat Koos sê: “Nee man, dis maklik. Ons Van der Merwes hou altyd ons asem op tot ons hom hoor val!” H.C. Pauw, STELLENBOSCH