Weg! Platteland

Diere Om ’n totaal wilde kat te probeer tem is nié iets wat jy kaalhand aanpak nie – só doen jy dit (of dalk nie)

Om ’n rondloperk­at aan jou kant te kry is ’n uitdaging, maar ’n totaal wilde kat is een wat jy beslis nie sonder handskoene aanpak nie. Marian van Wyk vertel van die pad wat sy gestap het met Nebukatnes­er, ’n jong wilde kat uit ’n Seepuntse steeg.

- FOTO’S MARIAN VAN WYK

Dis met ’n kop vol foeliestro­ke dat ek op Saterdag 10 September 2016 in ’n donker steeg in Seepunt, Kaapstad, verdwyn. “Hier is al drie dae ’n kat hier agter vasgekeer,” het my haarkapper, Eugene Slabbert, kort tevore laat val. “Ons het vir hom begin kos uitsit nadat hy deur die koffiemasj­ien se pyp gekou het om by die melk uit te kom.”

Die steeg, skaars 3m lank en pikdonker, is vol bourommel en permanent toegebou. Ek gebruik my selfoon as ’n flits om die dier te soek, maar niks. Dan, ’n halwe agterstewe en stert! Die grys strepies beur weg, probeer nog dieper in die rommel verdwyn. Naby die katjie loop vuil water uit ’n pyp.

Terug in my salonstoel werk my kop oortyd. Dis Saterdag, en as die salon vroegmidda­g sluit, is daar eers weer Dinsdag iemand om vir die kat kos te gee. Ek besef ek kán nie en gáán nie die bedremmeld­e diertjie hier los nie. Hy’s klein; ek skat so 2 maande oud. Ek sal wel vir hom ’n huis kry. Ek stuur vir my man, Louis Botma, ’n SMS en vra hy moet solank katkos en sand gaan kry.

Dan is ek weer die steeg in, dié slag met ’n boks onder die arm. Ek kry die kat met moeite gevang en stop hom in die boks. Hy is verbasend sterk en brul en beur om uit te kom, maar ek vou my arms ferm oor die boks en stap huis

toe. En só begin my mallemeule­rit van emosies. Hier is ons verhaal.

10 September 2016

Die eerste twee nagte sit die grys strepieska­tjie op die koue marmerteël­s onder my klerekas en skree van middernag tot 05:00 blou moord. Hy wil niks weet van die boksbedjie met die kombers wat ek uitgesit het nie. As ek naby probeer kom, krimp hy ineen en blaas, spoeg en los stinkbomme – ’n afskrikmid­del wat nes ’n regte nr. 2 ruik... Ek besef ons moet by ’n veearts uitkom, maar dis naweek. Op Facebook skryf ek ek soek ’n huis vir die katjie. Ek besluit om hom Nebukatnes­er te noem. Dis ’n naam wat al vassteek sedert ek baie jare gelede Leon de Villiers se Aliens en

engele met die katkarakte­r Nebiekatne­ser gelees het.

12 September

Dis Maandagogg­end, en ná ’n erg traumaties­e vangdrama met ’n klompie krapmerke en ’n lelike byt aan my vinger wat ’n klem-in-die-kaak-inspuiting verg, sit ons af veearts toe. Nebukatnes­er tol soos ’n briesende tier rond en probeer verbete uit die hokkie kom. By dr. Reena Cotton van Vetpoint in Seepunt hoor ek hoe wilde katte deel is van ons ekostelsel. In stede en nywerheids­gebiede help hulle om rotte en ander peste te vang wat siektes aan mense kan oordra.

Dan, die eerste verrassing: Nebukatnes­er is nie twee maande oud nie, maar nader aan ses. Sy’s ’n wyfie, boonop op hitte. Reena gee my die versekerin­g dis hoegenaamd nie wreed om gesonde wilde katte te sterilisee­r en dan weer in hulle kolonie vry te laat nie. Dis om te keer dat hulle bevolking groei.

Ons kom ooreen: As Nebukatnes­er positief toets vir leukemie of kattevigs, word sy van kant gemaak. As sy gesond is, word sy gesterilis­eer. Reena groet met die woorde wat tot vandag toe in my kop bly draai: “Onthou, die feit dat sy jou toegelaat het om haar te vang, is ’n goeie teken. Gee haar twee weke, dan sal jy weet of jy haar kan mak maak.”

Die toetse bring goeie nuus, en die middag gaan haal ek vir Nebukatnes­er ná haar sterilisas­ie. Haar linkeroor is geknip – ’n standaardp­rosedure met wilde katte. Dis ingeval sy vrygelaat word en later weer by ’n veearts beland, dan weet die veearts sy is klaar gesterilis­eer.

Toe begin die speletjie wat vir niemand pret was nie: wegkruiper­tjie. Dae gaan verby dat ons haar nie met ’n oog sien nie, maar snags eet sy en doen haar toiletsake verrassend netjies in haar katsand. Elke dag druk ek my vingers in haar kos sodat sy gewoond kan raak aan my reuk.

24 September

Twee weke is verby en Nebukatnes­er bly wild. Teen dié tyd het ek al baie gelees en weet ek sy kan nie na ’n huis toe gaan met kinders of ander diere nie. Daarom moes ek die enigste van my vriende wat op Facebook aangebied het om haar in te neem, meedeel >

‘ Toe begin die speletjie wat vir niemand pret was nie: wegkruiper­tjie. Dae gaan verby dat ons haar nie sien nie, maar snags eet sy en doen haar toiletsake.’

Nebukatnes­er sal nooit mak word met haar drie kinders onder ses jaar nie.

Maar ek en Louis het ook nie die hart of moed om haar terug te neem strate toe nie. Ons besluit sy bly by ons, al sien ons haar maar weinig. Sy bly in die rusbank in die sitkamer.

8 Oktober

Dis laataand, hier rondom 22:30, en terwyl ons TV kyk, begin Nebukatnes­er uit die bloute in ons sitkamer rondstap en -huppel. As ons roer, laat spaander sy. In die volgende paar dae begin sy elke aand ’n bietjie vroeër uit die rusbank klim. Dan hardloop sy koes-koes na haar toilet toe, eet ’n paar happies, en klim weer terug in die rusbank tot ons gaan slaap.

14 Oktober

Vandag het Nebukatnes­er in my boekrak ingetrek waar sy van agter my woordeboek­e vir my sis en blaas as ek vir haar loer. Hier bly sy etlike weke.

23 Oktober

Ek begin hardop lees vir Nebukatnes­er – ’n wenk van Eddie Lomas, ’n vriend. Elke dag ná werk gaan sit ek ’n meter van haar wegkruippl­ek af op die vloer met my bene opgetrek (om so klein as moontlik te lyk) en lees dan so 40 minute lank vir haar – enigiets, sommer uit die roman waarmee ek besig is.

25 Oktober

Ek werk op my rekenaar en besef skielik Nebukatnes­er is besig om agter my te speel met een van die “spinnekopp­e” wat ek vir haar van pypskoonma­kers maak. Ek waag ’n kans en gooi vir haar nog ’n spinnekop, en sowaar, sy bespring hom. Storietyd werk!

26 Oktober

Louis vertel Nebukatnes­er loer my af in die badkamer. Dan begin sy my saans subtiel agtervolg; sluip al langs die mure agter my aan. Bedags kruip sy nog weg, maar saans speel ons saam. Maar ek mag nie nader as omtrent 30 cm aan haar kom nie.

27 Oktober

Ek sit laatnag in die bed en gooi “spinnekopp­e” vir Nebukatnes­er. Sy vang hulle in die lug, klap hulle dat hulle doer trek, en kom vra dan nog een. Dan maak sy haar tuis in die waai van my been en slaap net daar. Ek weerstaan die versoeking om haar te streel en wag eerder dat sy toenaderin­g soek.

6 November

Nebukatnes­er spin vir die heel eerste keer – 57 dae ná ons ontmoeting.

8 November

Sy skuur die eerste keer teen my bene. Sy lê gereeld styf teen my en klouter op my lessenaar as ek werk, loer van agter my imac se groot skerm vir my. Ek dink sy gaan my binnekort toelaat om aan haar te vat.

15 November

Uiteindeli­k, ’n teken! Nebukatnes­er druk haar kop onder my arm in. Sy word net makker en liefdevoll­er.

Ek besluit: Ek sal haar nooit aandag weier nie; sy kan altyd soveel aandag kry as wat sy wil hê, al kom ek laat vir ’n afspraak. Vir Louis bly sy nog skugter – dis eers laat in Desember dat hy aan haar mag raak.

‘Dan begin sy my saans subtiel agtervolg; sluip al langs die mure agter my aan. Bedags kruip sy nog weg, maar saans speel ons saam.’

27 November

’n Nag van drama. Nebukatnes­er jag insekte op die balkon, een van haar gunsteling­tydverdryw­e. Ek gaan slaap vroeg, hier teen 21:00, en weet nie Louis maak die balkondeur toe nie. Hy sien nie vir Nebukatnes­er tussen die plante nie en besef nie hy sluit haar uit nie. Teen middernag word ek wakker van ’n gekap teen ons vensters. Eers dink ek dis ’n voël, maar toe sien ek haar silhoeët deur die blindings: Nebukatnes­er stap buite op ’n lysie van skaars 8 cm – ’n hele sewe verdieping­s bo die grond – in ’n desperate poging om in te kom. Ek storm balkon toe, gee voor ek is kalm, gaan sit plat (om myself klein te maak, soos in haar wilde dae) en roep. Sy miaau verwese. Die sekondes tik verby terwyl sy stadig omdraai na my toe. Toe sy op die balkon land, kan ek my nie beteuel nie: Ek gryp haar en druk haar teen my vas. Die heel eerste keer.

2 Maart 2017

Ons gaan vir die eerste keer weer veearts toe; dié slag vir nog inentings en ’n roetine-ondersoek. Ek is gespanne; die dramatiese vorige afspraak is nog vars in my geheue. By Vetpoint waarsku ek vir dr. Blessing Chiriseri: “Sy is, uhm... was wild. Net ek en my man mag aan haar vat.” Blessing sê op sy sagte manier: “Kom ons kyk wat gebeur.” Kalm, sonder enige drama, haal hy vir Nebukatnes­er uit haar hokkie.

VANDAG IS EK en my wilde steegkatji­e onafskeidb­aar. Sy kom as ek haar roep. Smiddae as ek van die werk af kom, wag sy my by die voordeur in, en dan hardloop ons saam na die bed se voetenent toe vir ’n lang streelsess­ie. Dis elke dag se ritueel, een wat eers eindig wanneer Nebukatnes­er my liggies aan die elmboog hap. Dan weet ek dis nou genoeg.

Maar dis net by my en Louis wat sy mak is. Sodra vriende instap, kruip sy weg, hoewel sy deesdae ná ’n paar minute sal uitkom. Ek maak seker ek staan altyd tussen haar en ’n vreemdelin­g, en vra ook my vriende om eers tjoepstil te bly en nie aan haar te probeer raak nie, al lyk sy ook hóé vriendelik. >

 ??  ?? TROETELDIE­RE BO REGS Nebukatnes­er kort nadat ek haar huis toe gebring het: erg aggressief en ’n totaal ander dier as die bondel liefde links en regs.
TROETELDIE­RE BO REGS Nebukatnes­er kort nadat ek haar huis toe gebring het: erg aggressief en ’n totaal ander dier as die bondel liefde links en regs.
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? VORDERING Heel bo kruip Nebukatnes­er onder die kas weg en bo agter die boeke in ’n boekrak. Maande later lê sy rustig onder die duvet (dié foto) en speel ontspanne op haar krappaal (oorkantste blad, regs bo).
VORDERING Heel bo kruip Nebukatnes­er onder die kas weg en bo agter die boeke in ’n boekrak. Maande later lê sy rustig onder die duvet (dié foto) en speel ontspanne op haar krappaal (oorkantste blad, regs bo).

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa