Entrepreneur In die Koue Bokkeveld toor die oudste familiesaak in die land nou met witlof, die nuwe “wit goud”
Witlof is een van die veelsydigste en gesondste blaargroentes ter wêreld – en ook een van die moeilikstes om te kweek. Maar Bronaar, Suid-afrika se oudste familieonderneming in die snerpende Koue Bokkeveld, skrik nie vir ’n uitdaging nie.
Kom ons trek weg met die slegte nuus: Daardie welgeskape, duurderige, skaarserige roomwitengeelgroen torpedo’s wat jy straks al op supermarkgroenterakke in die stad onder die naam “witlof”, “witloof”, “(Belgian) endive” of “chicory” gewaar het, is nêrens op die Suidafrikaanse platteland te koop nie. Al lê Bronaar, die enigste plaas in die land waar ’n skrale 10 ha witlof verbou word, skaars 5 km buite Op die Berg, ’n speldekopgrootte nedersetting langs die R303 tussen Citrusdal en Ceres in die Weskaap.
Hier volg dan die laaste brokkie goor nuus: “Dis ’n uitgerekte, komplekse en arbeidsintensiewe storie om witlof te kweek,” sê Fanie van der Merwe, besturende direkteur van Bronaar, wat drie jaar gelede R7 miljoen betaal het vir die spesiale aanleg op die plaas waarmee hulle hoop om binne die volgende 510 jaar sowat 5 ton witlof per week aan die plaaslike mark te lewer (en 25% van die slaaimark oor te neem).
En hoe moedig ’n mens Platteland se lesers aan wat dalk witlof by die huis wil kweek? Fanie gee ’n verleë laggie, skud sy kop en kom vorendag met ’n sug wat lank en warm genoeg is om ’n ysberg te laat smelt: “Al wat ék kan sê, is good
luck. En Google. In daardie volgorde.” (Dis nie heeltemal onmoontlik nie – op bl. 94 deel ons ’n paar praktiese wenke.)
Want, sê Fanie, wat witlof so ’n deksels interessante, taamlik befoeterde bláárgroente maak, is die feit dat die wórtel álles is. Die alfa en omega. Die wortel van alle bittersoet.
Van wat en waar, Gehasi?
Belgiese witlof ( Cichorium intybus) is ’n lid van die sigoreifamilie, wat insluit
die blaargroentes rooilof ( radicchio), volhartandyvie ( escarole), krulblaarslaai ( frisée lettuce) en krulblaarandyvie ( curly endive) asook die meer bekende wortelsigorei wat as goedkoop koffieplaasvervanger gebruik word.
Die witlof (Vlaams vir “wit blare”) wat die Belge “wit goud” noem (Suidafrikaanse witgoud is natuurlik veel meer
werd as sy Belgiese eweknie. – Reds.) is in die 1830’s toevallig ontdek toe ’n Belgiese boer, ene Jan Lammers, vergeet het van die koffiesigoreiwortels wat hy in ’n donker skuur gegooi het. Dié wortels het ’n paar maande later met torpedovormige knoetse knarslekker, styfteenmekaar blare gespog: roomwit aan die onderkant met ’n geel tot heldergroen skynsel aan die bopunt van die blare. In 1846 is dié groente die eerste keer kommersieel bemark. • Die smaak is moeilik om te beskryf: soeterig en effe neutagtig met ’n subtiele sweem bitterheid soos dié van spinasie of sekere blaarslaaisoorte. Allermins onaangenaam!
• Veelsydig Witlof is kraaklekker rou, maar net so verruklik gestoom, gebak, gerooster, gekook, gebraai of gekaramelliseer in enigiets van sop tot slaai tot roerbraai. (Op bl. 96102 deel ons 7 resepte en ’n paar kitsplanne. As jy nog nooit witlof geëet het nie, is dit nou jou kans om dit te probeer.) • Gesondheidsvoordele Witlof word allerweë as ’n wonderkos beskou met