Versteekte geheim Die plaaswinkel Steunmekaar doen al meer as ’n eeu sake op die Vrystaatse stofvlaktes
Halfpad tussen Bloemfontein en Fauresmith in die Vrystaat skuur die stofpad verby Steunmekaar, ’n plaaswinkeltjie waar al langer as ’n eeu met basiese benodigdhede – én met stories – gesmous word.
Dis middel Desember. Boosaardig warm. Die suidweste van die Vrystaat haal vlak asem. Die veld is doodwit. Die horison bewe benoud in die lugspieëlings. En saam met die gehyg van die westewind dwarrel rooibruin stofwolke.
Hoe bly ’n nederige plaaswinkel tussen Bloemfontein en Fauresmith se rantjies al meer as 100 jaar in dié ongenaakbaarheid staande? Is dit omdat hier altyd iets van alles te kope is? Omdat dit die enigste winkel in ’n groot gebied is? Of is dit omdat die kontrei se mense die winkel se naam gestand doen en op mekaar moet steun?
Op die winkelstoep skreeu ’n groep kinders: “Kersvaaader! Kersvaaaaader!” Maar nes jy begin dink dis die versengende hitte wat die kleinspan laat gesigte sien, hou Kersvader met ’n perdekar voor die winkel stil. Hy het sy dik rooi jas aan. Die man kry duidelik warm, maar hy lag en gesels en trek ’n koffer vol geskenke nader. Van die kinders begin huil. Dit is die eerste keer dat Vader Krismis by Steunmekaar stilhou.
IN DIE KOMBUIS op Helpmekaar, sy plaas enkele kilometer weg van die winkel, gesels Herman van der Merwe ’n hond uit ’n bos. “Hier het al tussen >
BO LINKS “Hier’s nie meer petrol nie, maar hierdie pêrrekarre van ons is mos lig op die sous,” spot Nelson Mathetha. REGS In die drankwinkeltjie is twee kaarte: een met al die plase in die omgewing en dié een wat die Voortrekkerroetes van 1836 se dae wys. OORKANT,
KLOKSGEWYS VAN LINKS BO Uitgevat vir winkeldag; Op weekdae is die radio Tanja en Jakkie se enigste geselskap; Steunmekaar is die naaste plek waar plaasmense kruideniersware kan koop; Houers vol lekkergoed op die toonbank; By Steunmekaar is net een kasregister – jy wag dus geduldig en maak geselsies; Hier het kleingeld nog ’n waarde; Kersvader se koms is behoorlik gevier; Dinge soos los kerse en gis herinner jou hierdie is pure plaaswinkel; Jakkie in die drankwinkel waar die reël is: “Koop en loop.”
1800 en 1830 mense in hierdie omgewing kom woon,” sê hy. “Die Van der Merwes was van die eerstes. Hulle het koffie aangebied vir die Voortrekkers toe hulle hier verbykom.
“Die plaas se naam was oorspronklik Hulp Makaar, en dis ook waar Steunmekaar se dinge begin het. Hier teen die einde van die negentiende eeu, begin van die twintigste eeu, het dit ’n bymekaarkomplek geword vir die mense van die omgewing. Naderhand was dit só besig dat daai tyd se eienaar van die plaas, Tobias de Villiers, ’n stuk van sy grond gegee het sodat ’n winkeltjie, poskantoor, polisiekantoor, smidswinkel en skooltjie beginne kon word. Die gemeenskapsentrum, soos die mense dit genoem het, is Steunmekaar gedoop omdat daar reeds ’n Helpmekaar naby Winburg was, maar die skooltjie se naam het Helpmekaar gebly.”
Herman vertel hy het op Steenbokfontein grootgeword – “so 6 myl en 9 hekke van die skool af”. “Die hoof en sy vrou het al die klasse gegee: juffrou Du Toit van sub A tot st. 2, en meneer Du Toit van st. 3 tot 5. Ons was altyd maar so tussen 20 en 30 kinders. Jy kon klavierles neem by sers. Nel se vrou in die polisiestasie, en as ons die slag rugby gespeel het, was sers. Nel ook sommer die skeidsregter. Ons het die meeste van die kere met ’n tennisbal gespeel en hier was nooit rugbypale nie – as jy pale toe moes skop, het twee ouens so met hulle arms die pale vir jou gehou.
“Die skool het ’n verhoog gehad, en end van die jaar, as die skool sluit, het ons konsert gehou en Kersgeskenke gekry. Kersvader het ons nie met ’n oog gesien nie. Ek dink nie daai jare het die mense hierlangs in enigiets anders as die Bybel geglo nie.”
KERSVADER SE PRESENTEKOFFER is dolleeg. Terwyl die kinders hulle bruin kardoessakkies vol lekkers en speelgoed uitpak, slaan die man in die warm rooi pak ’n koue Coke weg in die winkel se kombuis.
“Vandag wil die son ’n mens vermoor,” sê hy en steek sy hand uit: “Jacob Kamele. Ek werk hier naby op die plaas Frances Home. Die eienaars van die winkel het my gevra om vandag ’n bietjie Kersvader te speel sodat ons vir die plaaskinders van die omgewing ’n Kerspartytjie kan hou.”
Tanja Marx en haar man, Jakkie, het onlangs die Steunmekaar-winkel oorgeneem by Marietjie Pieters wat dit jare lank besit het.
“Ons het nooit eens geweet van die winkel nie,” vertel Tanja. “Ons het op ’n plaas naby Fauresmith gewerk, maar weens die droogte en taai tye moes die boer mense laat gaan... vir ons ook. Daar is geskarrel en planne beraam, maar dinge wou nie uitwerk nie. Intussen het die Fauresmithgemeenskap ons so mooi ondersteun, en toe bel tannie Marietjie op ’n dag en vra of ons nie Steunmekaar se winkel wil oorneem nie. Ek was skepties oor ’n plaaswinkel hier, maar toe ons kom kyk, het ek agtergekom die winkel én tannie Marietjie is legendaries.
“Die winkel is baie belangrik vir die plaasgemeenskap, want dit is die enigste plek waar hulle kan koop. Fauresmith en Bloemfontein is ver en die meeste mense kom net nou en daar uit. Ons gaan nie ryk word uit die winkel nie, maar dit was ’n uitkoms toe die nood hoog was. Die winkel hou ons aan die lewe én dit voel of ons iets beteken.”
Jakkie sê hulle bly deesdae op ’n plaas naby Steunmekaar. “Dit is vir ons lekker hier, want ons is nie stadsmense nie. Ons geniet die mense wat hier stop, soos regter Faan Hancke wat hier naby boer. As hy instap, kan ek solank sy koejawelsappie uithaal. Hy vat altyd een. Ons moes ook die plaasmense se taal aanleer. ’n Liter drank is byvoorbeeld ’n ‘bom’, 750 ml ’n ‘straight’ en klein botteltjies ’n ‘nippie’. Vir ’n quart bier word daar sommer ’n ‘ten tripple one’ gesê. En enige roll-on is ‘Mum-roll’.”
By die Mum-roll staan Minoraskeermeslemmetjies, tandepasta, toiletspuitgoed, toiletpapier, Zam-buk, gloeilampe, potjies Vaseline, seep, >
‘As oudregter Faan Hancke instap, kan ek solank sy koejawelsappie uithaal. Hy vat altyd een.’
tamatiesous, blatjang, kookolie, soppoeier, blikkieskos, vlapoeier, asyn, ingelegde beet, Boxer- en Bb-twak, Superglue, tee, koffie, suiker, speserye, kerse, vuurhoutjies, tjips, aanmaakkoeldrank, kasterolie en Grandpapoeier op die houtrakke uitgepak. Verder is daar ’n rak met nuwe klere en skoene; op die toonbank staan groot flesse vol lekkergoed – van toffies teen 20c elk tot Chappies vir 30c; en langs die winkel is die klein bottelstoor.
Die plek ruik na ’n mengsel van dít alles plus 100 jaar van leun teen die houttoonbank, beduie wat gesoek word, uitvra hoe dit gaan, geselsies oor die weer, jakkalse en grootuierooie. ’n Konstabel van die polisiestasie net ’n paar honderd meter weg kom koop twee los sigarette en ’n tweeliter Iron Brew. Plaaswerkers kom koop rolletjies polonie, Omo, Black Label en Mum-roll. Herman van der Merwe (nog een), ’n jong boer van die omgewing, kom koop ’n heel hoender, russians, ’n pakkie twak, vuurhoutjies en Coke. Hy praat oor die droogte en lyk moeg van die aanhoudende gevoerdery.
Juandi Jacobs, ’n boervrou van die distrik, en haar twee dogters, Marizanne en Ansophie, kom groet en vertel van die jong boer naby Steunmekaar wat onlangs met ’n vrou uit die stad getrou het. “Hy het vir haar gesê daar is ’n mall sommer naby die plaas.”
Dan kom oudregter Faan Hancke in en, ja, koop sy koejawelsappie. Kersvader het intussen afgekoel en moet weer in die pad val. Hy waai en die perde vat die draai in Fauresmith se rigting. Een van die seuntjies bly kyk tot die rooi jas verdwyn in die vaalte.
“Ek kan nie glo hy het geweet ons is hier by Steunmekaar nie.”
LANGS DIE KOMBUISTAFEL op Helpmekaar gesels Herman van der Merwe nog eenstryk deur: “Nee kyk, dinge het darem al baie geverander, maar daar staan Steunmekaar se winkel nog altyd. Dit is ’n bietjie soos ’n monument en ’n bietjie soos ’n kerk. Daar op daai stoep het die Natte en Sappe mekaar geslaan met stoele. En daar is al baie gebid vir reën. Toe was oom Apie van der Merwe die eienaar van die winkel.
“Oom Apie was die groot koning hier en jy kon alles by die winkel koop, maar die drankgedeelte was sy kantoor. Hy het drank verafsku. Met sy dood het oom Apie glo erge pyn gehad en die dokter het gesê hy moet so ’n lepel brandewyn vat – dit sal die pyn minder maak. Oom Apie het geweier en glo vir die dokter gesê: ‘Ek wil nie as dronkaard sterf nie.’
“Oom Eli Bitzer het die smidswinkel langsaan gehad en sy seun Willem het al die Climax-windpompe hierlangs opgesit. Steunmekaar se winkel is die enigste oorblyfsel van daai ou tye. As die winkel tot niet moet gaan, sal ons stories seker ook maar saam met hom stof word. Ag jong, maar ons moet ons nie so bekommer oor toekomstige dinge nie. Jy weet, toe petrol in die jare 70 van 7c na 9c gespring het, was daar groot amok. Toe het ons gesê: ‘Nee, in hierdie land kan ons nie meer bly nie.’ Nou ja, hier is ons nog.”
‘As die winkel tot niet moet gaan, sal ons stories seker ook maar saam met hom stof word.’