Volhoubare vuurmaakhout Ons toets die 9 beste opsies... en laat liefs die kameeldoring staan
Ons sit met massas indringerbome, en duisende werkgeleenthede word geskep om dit uit te roei. Daarom maak ’n houtvuurtjie sin in Suid-afrika. Die botanis Donovan Kirkwood toets 9 soorte hout om vas te stel wat die omgewingsvriendelikste keuse is wat ook d
Ek het nog net een keer in my lewe op die internet gaan vlerksleep, en al wat ek eintlik wys geword het, is dat almal mal is oor ’n glasie rooiwyn voor ’n kaggelvuur. Ek het grootgeword met ’n houtvuur – van ’n outydse kaggel in my kinderjare tot die moderne gietysterstofie met die glasdeur wat tans in die sitkamer staan en in die wintermaande die ysige trek deur ons huis tem. Omdat ek ’n botanis is, is die dansende vlamme vir my nóg meer betowerend, want waarna jy eintlik kyk, is sonlig wat vrygelaat word nadat dit oor baie jare deur bome vasgevang is.
In Suidafrika dra baie faktore daar toe by dat verhitting met hout die meer volhoubare keuse is. Meer as 100 000 km2 van ons land is deur indringerbome ingeneem. Selfs veranderinge in inheemse ekostelsels is problematies, want Suiderafrika se ikoniese oop grasvlaktes word deur bebosting bedreig en verander in ondeurdringbare ruigtes. Boonop help die insameling van brandhout indringers uitroei én skep dit duisende werkgeleenthede. Hout is fundamenteel ’n hernubare hulpbron wat deur plante vervaardig word en omtrent uitsluitlik bestaan uit koolstofdioksied en sonlig. Daarom is die algemene siening dat die koolstofdioksied wat vrygestel word wanneer jy volhoubaar >
versamelde of indringerhout brand, nie bydra tot verhoogde koolstofdioksiedvlakke of aardverwarming nie.
Die alternatiewe hittebronne in SuidAfrika laat veel te wense oor. Ons het nie soos die Britte ’n gasstelsel nie, en ons elektrisiteit – die toeganklikste en gerieflikste alternatief vir hout – is afkomstig van ’n nasionale kragnetwerk wat nog nie eintlik hernubare bronne gebruik nie. Ondanks ons beskeie lewenstandaard dra Suidafrikaners volgens die WNNR reeds dubbel die gemiddelde wêreldwye koolstof vrystelling per per soon by. Byna al ons elektrisiteit – 90% – is van fossielbrandstof afkomstig; ’n skrikwekkende 90 miljoen ton vuil, laegehaltesteenkool word elke jaar in kragstasies verbrand sonder voldoende beheer oor vrystellings.
Houtverhitting word gereeld as die heel beste laetegnologiegroen oplossing uitgebeeld, maar natuurlik is niks heeltemal só eenvoudig nie. Daar is ’n paar werklikhede wat ’n uitdaging bly: Min mense hou daarvan om houtas skoon te maak; ’n ondoeltreffende vuur is glad nie romanties nie en dit hou gesondheidsrisiko’s in; en omgewingskwessies kan verwarrend wees omdat die meeste aanlyninligting uit ander lande kom. Wat moet jy dus alles weet oor houtvure en vuurmaakhout?
Eerstens hou houtvure wesenlike gesondheidsrisiko’s in wat deur tientalle studies bevestig is, en ’n mens moet ’n paar basiese dinge verstaan om dit te vermy. ’n Bietjie houtrook ruik heerlik en is natuurlik, maar dit bevat verskeie giftige chemikalieë met skrikwekkende name en selfs skrikwekkender gevolge vir jou gesondheid: benseen, akroleïen >