Laat ’n mens dink Kospryse bly styg, maar verbruikers kán iets daaraan doen
Daar is ’n groter prentjie agter stygende kospryse, skryf dr. Tracy Ledger. Dit begin by boere wat nie regverdig vergoed word nie, maar as verbruikers het óns die mag om die bordjies te verhang.
Boer is nie kinderspeletjies nie – die meeste van ons weet dit. Maar wat ons meestal nié weet nie, is waarom dit so moeilik is om ’n boer te wees. Dit het bittermin met kommandowurms of droogtes te doen, en álles met landboumarkte. Ons dink selde aan dié markte wanneer ons oor boerdery praat, terwyl dit in werklikheid ’n kritieke rol speel.
Die doel met boerdery is nie net om iets te produseer nie, maar om iets te produseer wat jy teen ’n prys kan verkoop wat jou koste dek én sodat daar ’n bietjie wins oor is. Maar om ’n wins te maak raak by die dag ’n groter uitdaging.
As jy jou maandelikse kruideniersrekening dophou, dink jy waarskynlik boere vaar nie te sleg nie – kospryse het die laaste jare immers die hoogte ingeskiet. Ongelukkig is daar ’n enorme verskil tussen die prys wat ek en jy vir kos betaal en wat die boer vir sy produkte kry. Die gaping tussen die plaashekprys (dít wat die boer kry) en die kleinhandelprys (dít wat ek en jy betaal) vir dieselfde kos het die afgelope 20 jaar enorm gerek.
Melk is ’n goeie voorbeeld. Die plaashekprys staan tans op sowat R4,70 per liter, en die kleinhandelsprys is R9 tot R10 hoër. Twintig jaar gelede het die twee net R2 verskil. Die huidige plaashekprys dek skaars die produksiekoste. Van 1998 tot 2006 het sowat 5 300 suiwelboere bankrot gespeel en nagenoeg 55 000 mense het hulle werk verloor met verwoestende gevolge, veral op die platteland. Kleinskaalse suiwelboere is ’n spesie wat op die rand van uitwissing staan, en ondanks die fantastiese voedingswaarde van vars melk word dit amper glad nie meer in arm huishoudings gebruik nie omdat dit gewoon onbekostigbaar geword het.
In teenstelling hiermee maak groot melkverwerkers en -handelaars ’n goeie wins danksy hulle groot invloed in die mark. Die meeste van ons koop nie ons kos direk by ’n boer nie – ons gaan supermark toe. Net twee maatskappye – Clover en Pick n Pay – beheer tans meer as 40% van die mark vir gebottelde vars melk. Dit beteken suiwelboere het baie min opsies oor waar hulle hulle melk verkoop en ook baie min bedingingsmag wat die vergoeding betref.
Verlede jaar moes ons hoor die kleinhandelsprys van melk styg “weens die droogte”, maar al het die boere wel ’n klein verhoginkie gekry, was die styging in die kleinhandelsprys drie keer hoër! As suiwelboere die totale verhoging in die kleinhandelsprys gekry het, sou baie meer van hulle die droogte oorleef het. Hierdie is nie net slegte nuus vir boere nie, maar vir ons almal. Hoe duurder kos word, hoe minder Suid-afrikaners kan dit bekostig om ’n gebalanseerde, voedsame dieet te volg – iets wat net sowat 20% van alle Suid-afrikaanse huishoudings tans regkry. Die langtermynimplikasies is skrikwekkend: kinders wat nie in die skool kan konsentreer nie, ál ernstiger gesondheidsprobleme waarvoor ons almal uiteindelik opdok en, die ergste van alles, ál meer bewyse dat ondervoede kinders gewelddadige volwassenes word.
Waar gaan ons kos vandaan kom as al ons boere in die stof byt? Dit gaan rampspoedig wees as ons besluit om meer kos in te voer en die rand verswak om die een of ander rede weer. En as al ons boere soos mis voor die son verdwyn, gaan die platteland daarmee saam.
Wat kan ons doen? Die eerste stap is om te besef hoeveel op die spel is. Tweedens moet ons die mag gebrúík wat ons binne die kosstelsel het. Ons is immers almal deelnemers in dié stelsel – party as kosprodusente, maar de laaste een as ’n verbruiker. As ons die plaaslike suiwelbedryf wil red, moet ons ons voet neersit vir verwerkers en handelaars wat ons boere doodwurg en kos onbekostigbaar maak. Dit is presies wat in Australië en Brittanje gebeur: Verbruikers weier om melk by maatskappye te koop wat boere nie regverdig vergoed nie. Ons kan nie meer bekostig om op die draad te sit nie. Dit is óns kosstelsel en óns moet dit red.
Dr. Tracy Ledger is ’n onafhanklike konsultant wat in plaaslike ekonomiese ontwikkeling en voedselsekerheid spesialiseer. Sy
is die skrywer van An Empty Plate – Why We Are Losing the Battle for Our Food System, Why It Matters, and How We Can Win It Back (Jacana).
‘Ons moet die mag gebrúík wat ons binne die kosstelsel het. Ons is immers almal deelnemers in dié stelsel – party as produsente, maar de laaste een as ’n verbruiker.’