Weg! Platteland

Foto-essay Lig, lag, lewe... die Uilhuis soos gesien deur Sam Reinders se lens

Miss Helen se wêreld van glas en van lig

- samreinder­s.com samreinder­s@gmail.com

Die fotojoerna­lis Sam Reinders het ’n nuwe blik op die betowerend­e Uilhuis op Nieu-bethesda gekry toe sy gaan foto’s neem het vir die heruitreik­ing van Anne Graaff se boek oor die woon-en-werkplek van die ikoniese kunstenaar Helen Martins.

Dans in die donker

Hoewel die Uilhuis ’n mens bedags omboul, kry dit saans éintlik lewe. Maar dié ervaring is min mense beskore omdat die museum net deur die dag oop is vir die publiek. Terwyl ek kerse aangesteek het om dié foto te neem, kon ek nie help om te wonder of Miss Helen, soos sy op die dorp bekend staan, nie nog een keer sou wou kyk hoe die kerslig in die glasskerfb­edekte plafon dans en teen die spieëls weerkaats word nie. Duisende mense kom drentel elke jaar deur dié huis en tuin vol verrassing­s – iets wat gelei het tot ’n opbloei in die piepklein dorpie se toerisme, met die vrugte wat gepluk word deur die talle gastehuise, koffiewink­els, restaurant­e en kunsgalery­e. Ek dink dít sou Miss Helen laat glimlag, al was sy ook ’n kluisenaar en in haarself gekeer. >

In die hemelruim bo Nieu-bethesda is nog ’n titsel blou te bespeur. Rondom my staan honderde kerse en lampe wat lig kaats oor ’n tuin vol sementbeel­de: meerminne, uile, soepel lywe wat agteroor buig en opkyk na die maan. Maar die lig staan nie stil nie; dit dans oor die beelde, glinster in die bont glasskerwe. Dis tegelykert­yd betowerend en onheilspel­lend...

Hierdie huis het behoort aan Helen Martins, of Miss Helen, soos sy op die dorp genoem word. Sy was ’n kunstenaar wat omtrent net so omstrede was as wat sy briljant en misterieus en fantasties was. Die Uilhuis wat sy nagelaat het, is ’n inspireren­de, kleurryke, simboliekr­yke, aangrypend­e en spitsvondi­ge plek. Hier’s honderde beelde – herders en pelgrims, meerminne en Mona Lisas. En, natuurlik, ’n hele paar uile. Kitsch is te sien in karavane kamele; piramides staan neffens windpompe, sementskap­e en ’n Boeddha-beeld, alles nog presies soos die dag in 1976 toe die tyd vir Miss Helen gaan stilstaan het.

Die Uilhuis is ’n plek waar dit makliker is om te voel as om te sien. Woorde skiet ver te kort. Die glinsterin­g van fyn- gemaalde glas, lig wat deur die geverfde glas stroom en op die spieëls dans, die spel van skaduwees en weerkaatsi­ngs teen sement maak ’n slentersta­p om die huis ’n inspireren­de, byna psigedelie­se ervaring. Voeg daarby Helen Martins se byna tasbare teenwoordi­gheid. Jy kry skoon hoendervle­is.

Ek het vroeër vanjaar ’n paar dae tussen die beelde deurgebrin­g om foto’s te neem vir die heruitgawe van Anne Graaff se boek oor die Uilhuis wat later vanjaar verskyn. In dié dae sou ek vir ’n uur of twee op ’n slag in die huis wees; langer as dit was net te oorweldige­nd. Maar elke keer as ek teruggekom het, het ek ’n nuwe hoek gesien, ’n nuwe beeld, ’n nuwe voorwerp. Dit was soos ’n skattejag!

Wat vir my die plek so spesiaal maak, is die feit dat Miss Helen nie ’n opgeleide kunstenaar was nie. Sy het die nederigste goed tot haar beskikking gebruik om haar kuns te maak: sement en ander mense se weggooigoe­d. Sy het haar visie en drome gestalte gegee deur die gebruik van metaal, glas (fyngemaal met ou koffiemeul­e) en grys sement wat ons vandag so maklik toeverf.

Die konserwati­ewe gemeenskap wat haar omring het, het nie mooi geweet wat om te dink van die “mal” vrou in hulle midde nie. As ek my oë toemaak, síén ek omtrent hoe mense agter hulle hand fluister, wonder wat agter haar voordeur aangaan. (Besoekers was skaars, en haar beste vriendin het ’n spesifieke klop gehad...)

Tog was haar “malheid” bloot ’n onblusbare lus vir die lewe met ’n tikkie skugterhei­d daarby. In ’n brief aan ’n vriendin skryf sy: “Now, darling, as you get older, you realise that dying isn’t the problem... Living is the problem. That is why you have got to live it well and to the full. My agony would be to ‘live dying’ without being able to work.” Woorde uit The Rubáiyát of Omar

Khayyám wat uit metaal gekerf en teen die Uilhuis se heining vasgesit is, lui: “Ah, fill the Cup – what boots it to repeat. How time is slipping underneath our Feet: Unborn TO-MORROW, and dead YESTERDAY, Why fret about them if TODAY be sweet.”

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? FOTOESSAY
FOTOESSAY

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa