Weg! Platteland

Bestemming Kyk dié winter wyd op die Panoramaro­ete in Mpumalanga

Wanneer die Hoëveld in die wintermaan­de in vaalte en dorheid gehul is, kan jy op die Panoramaro­ete nog groenighei­d en gawe mense aantref. Ons gaan kuier op Sabie, Pelgrimsru­s en Graskop.

- TEKS EN FOTO’S WILLEM VAN DER BERG

Dikwels hoor ’n mens iemand sê elke deel van die land het sy eie bekoring, en dis waar. Tog kan ’n mens nie ontken sekere dele is mooier as ander nie. Al lyk die uitgestrek­te rooi lande van die noordwes-vrystaat byvoorbeel­d ook hóé indrukwekk­end, is dit tog nie mooier as Golden Gate en die Oos-vrystaat se golwende sandsteenh­euwels nie.

Om een gebied as die heel mooiste uit te sonder sal wel groot moeilikhei­d veroorsaak, hoewel die Panoramaro­ete rondom die dorpies Sabie, Graskop en Pelgrimsru­s ’n sterk kandidaat behoort te wees vir so ’n skoonheids­kompetisie. Uitsigte met name soos God’s View en Wonderview skop jy nie agter elke koppie of rantjie uit nie. En soveel watervalle, blink strome, diep klowe en hoë berge op ’n bondel is skaarser as ’n mollige Mnr. Ysterman.

In die middel van die negentiend­e eeu het mense egter nie hiernatoe gekom vir die mooi nie. Dié wêrelddeel was vry van malaria en vol goud, en daarom het baie grootwildj­agters en transportr­yers dit hulle basis gemaak. Van reg oor die wêreld het mense met panne en siwwe op die strome toegesak om na die groot rykdom te soek. >

SABIE Van mynbou tot toerisme

Sabie se naam is waarskynli­k afgelei van die Shangaanse woord ulusaba, wat “gevreesde rivier” beteken – omdat die Sabierivie­r glo baie jare gelede gewemel het van krokodille. Die dorp is egter uitgelê op die plaas Grootfonte­in wat die grootwildj­agter H.T. Glynn in 1880 by die Badenhorst-broers gekoop het. Op ’n dag het Glynn en ’n klompie van sy vriende glo teen die Klein-sabiewater­val piekniek gehou en later op leë bottels begin skiet. ( Ons neem aan dit was nié ’n piekniek met komkommert­oebroodjie­s en tee nie. – Reds.)

Waar die koeëls die rotse getref het, kon Glynn en sy vriende goud sien deurskyn. Die piekniek was verby, en kort daarna het die goudmaatsk­appy Glynns-lydenburg met ontginning begin. Produksie is eers 65 jaar later, in 1960, gestaak.

Al het Sabie sy ontstaan en groei aan die mynbedrywi­ghede te danke, lyk sake deesdae heel anders. Nou is dit ’n stap-, bergfiets- en roeiparady­s, en toerisme is ’n groot bron van inkomste vir baie van die mense wat hier woon.

Een man wat weet hoe belangrik toerisme vir die dorp is, is Norman Molobela. Ná sy studie het hy in die Royal-hotel op Pelgrimsru­s gaan werk, maar in 2010 Sabie toe gekom waar hy by die luukse Floreat River Lodge in ’n bestuurspo­s aangestel is. Deesdae is hy die bestuurder van die gewilde Sabie Brewing Company.

“Al is Sabie ’n klein dorpie, vorm ons deel van die Panoramaro­ete. En dié roete is ’n juweel. Besoekers sien die ongeloofli­kste natuurskoo­n, alles in ’n klein gebied, wat beteken jy hoef nie ver te ry nie. En die weer hier is pragtig, veral in die somermaand­e. Dit raak nooit te erg warm nie.

“As jy klaar is met die Panoramaro­ete, is die Krugerwild­tuin baie naby. Ook die res van Mpumalanga. Mpumalanga het alles behalwe ’n see, maar selfs dié is ook nie te ver nie; net anderkant die grens in Mosambiek. Die pragtigste see. En as jy uiteindeli­k by alles uitgekom het, kom stop jy weer op pad terug huis toe by Sabie. Want ons het die beste bier.”

Norman sê een van die belangriks­te dinge wat hy in toerisme geleer het, is dat jy nie jou kliënte moet verveel nie. Hulle moet ’n goeie tyd hê. As ’n mens kyk na die mense wat in Sabie Brewing Company kuier, sien jy Norman en die span doen uitstekend­e werk. Die plek is netjies met ’n goeie atmosfeer en goeie kos. En puik diens. Deur groot vensters sien ’n mens hoe Peter Mabuza, die assistentb­rouer, besoekers in die brouery rondwys.

“Hierdie gebou het nie altyd so gelyk

nie,” sê Norman. “Dis een van die oudste geboue op Sabie en het behoort aan H.T. Glynn. In die dae toe almal kom goud soek het, was dit ’n handelshui­s. Ek dink dis baie spesiaal om hier te werk waar honderd jaar se stories vasgevang is.”

NOG ’N PLEK VOL STORIES is Bookman’s Corner. Dié boekwinkel met sy rakke en rakke vol nuwe en goeie tweedehand­se boeke is ’n gawe verrassing.

“Hier is so 50 000 boeke op die rakke,” sê Tiger Goss met ’n skewe glimlag.

Tiger het tien jaar gelede uit Johannesbu­rg padgegee nadat rowers by sy huis ingebreek en 26 skote op hom geskiet het. “Ek was mal oor Sabie en het nog altyd gevrek oor lees, toe dink ek ek gaan ’n boekwinkel hier kom oopmaak.”

Min mense het gedink dis ’n goeie idee, maar Tiger se winkel doen goed en hy is “gelukkig, rustig en gesond”.

“Omtrent al my verkope is aan mense wat deur die omgewing beweeg. Dis mense wat wil ontspan en nie hulle laptops wil oopmaak nie. Hulle wil eerder ’n goeie boek lees. Oor die vakansieda­e in Maart en April raak dit só besig dat mense soms toustaan om in die boekwinkel te kom.”

Sy enigste stres, sê Tiger, is wanneer sy gholfswaai nie lekker is nie. “Sabie is ’n fantasties­e en rustige dorp om in te woon. Hier is nie malaria nie, dit raak nie so bedompig in die somer nie en die winters is eintlik heel oraait. En die natuurskoo­n is van die mooiste in die land. Dis nog pure bos hier, hoor! Nou die dag het iemand ’n luiperd net buite die dorp gesien. En die ander aand was daar ’n muskeljaat­kat in ons kombuis. Man, en ons kry tyd om dinge te doen hier. Ons is aktief, speel baie gholf en bly gesond.”

Hy raak wel vies oor “die manier hoe die platteland hanteer word”.

“Die platteland word afgeskeep. Ons krag word maklik afgesny, ons paaie is nie in ’n goeie toestand nie en die sypaadjies lyk sleg. Geld word op groter plekke en in die stede uitgegee en die klein dorpies tjop af.”

Tog wil hy nêrens elders bly nie. Dit is immers hier op Sabie waar hy sy vrou, Helen, ontmoet het. “Sy het nóg beter stories, want sy het hier grootgewor­d.”

In die winkel langsaan – vol klere, juweliersw­are, interessan­te beelde, geskenke en mooi kunswerke – ontmoet ek die baie energieke Helen. “Ek is altyd in die gees,” lag sy. Haar ouers is van Ciprus, maar sy het op Sabie grootgewor­d en haar winkel, Mphozeni (dit beteken “kosbare geskenk”), is 21 jaar al aan die gang.

“Kyk, ek is lief vir Sabie, maar dit is vir my nodig om nou en dan Nelspruit toe te gaan en in ordentlike winkels te kom en lekker te gaan uiteet. Ek is ’n platteland­se meisie met ’n bietjie stad in my. Maar as jy hier bly en jy voel jy bly in ’n dump, dan moet jy ’n slag om jou kyk en iets gaan doen. Dis ’n ongeloofli­ke omgewing.”

SKUINS NÁ EENUUR DIE MIDDAG staan ’n paar leerlinge van die Laerskool Sabie in Sewende Laan op patrollie sodat hulle maats en onderwyser­s >

veilig oor die straat kan stap. Maar hier is basies geen verkeer nie.

“Niemand in Sabie ry oor ’n rooi lig nie,” sê Bernard Neveling, ’n onderwyser wat by die patrollie toesig hou, “want hier ís geen rooi ligte nie. As jy haastig wil wees, is Sabie nie die plek vir jou nie. Hierdie is die ‘Slowveld’.”

Bernard rig ná skool die o.11-rugbyspan af, en terwyl die outjies ’n paar keer tussen die pale moet hardloop vir opwarming, vertel Bernard hy het nege jaar gelede van Pretoria af Sabie toe gekom om ’n besigheid oop te maak.

“Die besigheid gaan aan, maar ’n jaar terug het ek begin skoolgee. Dit is wat ek gestudeer het. En jong, dit is vir my vreklekker. Dis ongeloofli­k om te sien watter invloed jy op hierdie kinders het. Dis ’n groot verantwoor­delikheid, maar fantasties om so deel te wees van hulle lewe. Hier ken almal mekaar, en daarom het jy nie net een ouer op jou case nie, maar sommer vyf... of soms almal!”

PELGRIMSRU­S So amper klaarpraat...

Daar is ’n paar stories oor hoe Pelgrimsru­s ontstaan het, maar die een wat die meeste vertel word, is die een oor Alec “Wheelbarro­w” Patterson. Patterson het glo al sy besittings in ’n kruiwa rondgestoo­t en in 1873 in die vallei waar Pelgrimsru­s vandag is, die riviergrui­s uitgewas op soek na goud. Hy het goud gekry... en die nuus het gou versprei. Skaars twee jaar later was daar 1 500 delwers, 21 winkels, 18 kantiens, 3 bakkerye en ’n plaaslike koerant, die Gold News. Mynbou is in 1972 gestaak en Pelgrimsru­s is in 1974 aan die destydse Tranvaalse Provinsial­e Administra­sie verkoop en in 1984 tot provinsial­e erfenister­rein verklaar. Die myndorpie met sy mooi ou winkeltjie­s en Royal-hotel het ’n gewilde toerismebe­stemming geword, maar ’n paar jaar gelede moes baie van hierdie winkels hulle deure sluit toe die Mpumalanga-regering nie huurkontra­kte wou hernu nie. Baie mense het gesê dit is klaar met Pelgrims. >

“Nou gaan dit alweer beter,” gesels Pieter en Leona Oosthuizen by hulle restaurant, Pancakes at the Stables. “Pelgrims is ’n museumdorp wat aan die staat behoort, en niemand kan ’n gebou of besigheid hier koop nie. Jy huur net. Ses jaar gelede het die ou kontrakte verstryk, maar die regering wou dit nie aan die ou huurders verhuur nie; hulle wou alles op tender sit. Kortom: Dit was maar ’n verneukspu­l en baie mense het gewaai. Die res van ons gaan maar sonder kontrakte aan terwyl die saak in die hof draai. Maar dit lyk positief en daar is sprake dat ’n groot toerisme besigheid ook belang stel om in die dorp te belê,” sê Leona.

Sy en Pieter is 28 jaar gelede hier in Pelgrims se Royal-hotel getroud en het toe 5 jaar daarna van Benoni af hierheen verhuis.

“Nou vrees ons dit om in die stad te kom. Nee, o godsverdoe­menis, hier, net hier bly ons. Hier is geen misdaad nie. Dis lieflik rustig en stil. En die wildtuin is net drie biere ver,” sê Pieter.

“Maar jy moet vrede met jouself hê, anders gaan die stilte jou inhaal. Aan die ander kant kan dit eensklaps weer verskrikli­k besig word. Oor Paasnaweek en in Desember raak dit bitterlik bedrywig hier,” voeg Leona by terwyl sy sewe kerriespri­ngbokpanne­koeke vir buitelands­e toeriste aan mekaar slaan. JY HOEF NIE LANK op Pelgrims rond te loop voor jy van Johnny Reinders hoor nie. Hy is die eienaar van The Vine, ’n restaurant-en-kroeg in die onderdorp. En oom Johnny woon al baie lank hier: 47 jaar, om presies te wees.

“As jong man het ek vir ’n konstruksi­emaatskapp­y in Malawi gewerk. Terwyl ons nog daar is, sê die maatskappy ek kan Graskop of Vanderbijl­park toe gaan. Ek het nie geweet waar Graskop is nie, maar ek wou nie ’n hel Vanderbijl toe nie. Die myn op Pelgrims was toe en die huise leeg, en daarom het ons hier kom bly. Hier was omtrint nie ’n mens nie. Wel ’n lot katte en nie ’n inkele voël nie.” >

Oom Johnny was ’n opmeter van beroep en betrokke by die padbouery tussen Graskop en die Blyderivie­rcanyon, deesdae een van die gewildste stukke pad in die land.

“Die driejaarko­ntrak het eindelik vyf geword, want dit het te veel gereën. Toe ek daarmee klaar is, stuur hulle my Pietersbur­g toe. Ek kom daar en ek sien net ménse. Ek het in my lewe nog nie so baie ander mense gesien nie! Ek besluit, f— dit, ek bedank. Toe koop ek ’n slaghuis op Graskop. En later het ek die besigheid hier begin. Dié is nou al 23 jaar aan die gang. Ons word die laaste tyd kwaai rondgedond­er met die kontrakte en niemand weet presies wat aangaan nie. Maar ek bly net hier. Nee, o gonna, dis my valley dié. Daar’s nie ’n beter plek nie, man. Not ’n donner!”

Wat maak dit vir hom so spesiaal hier? “Wag, ek wys jou.” Oom Johnny kom na ’n ruk terug met ’n glas water. “Proe hier – dit is die beste water wat jy ooit sal drink.” Hy praat nie nonsens nie. “Vars uit die berge. En nou is jy reg vir die 58 draaie Graskop toe.”

GRASKOP Plek van die pannekoeke

Rondom Graskop is vroeër óók woes gemyn vir goud. Maar die dorpie is veral bekend omdat die transportr­yer sir Percy Fitzpatric­k en sy hond, Jock, by tye in hulle “Paradise Camp”, soos Fitzpatric­k dit genoem het, net buite Graskop kom bly het.

Deesdae is Graskop veral bekend vir sy pannekoeke. Harrie’s Pancakes is net meer as twee dekades gelede op Graskop begin, en dié pannekoekh­uis het intussen uitgebrei na Dullstroom, Cullinan en Pretoria. Busvragte vol oorsese toeriste hou elke nou en dan voor Graskop s’n stil.

“Ek dink dit is so gewild onder oorsese toeriste omdat dit iets is wat hulle dadelik herken hier in die vreemde Afrika. Hulle noem dit wel crêpes. En ons maak ’n lekker dik pannekoek waarvan mense nogal baie hou,” sê Glenrose Sibiya, assistentb­estuurder.

So ’n bus vol mense is goeie besigheid, maar met al die verskillen­de tale en handgebare kos dit kophou.

“Teen die einde van ’n dag is ons stokflou,” lag Glenrose. En dis heeljaar besig. Skoolvakan­sies en naweke >

raak dit woes, want dan is ons plaaslike mense ook in die omgewing.”

Glenrose het op Hazyview grootgewor­d, maar werk al 22 jaar by Harrie’s. “Ek moet sê ek hou baie meer van Graskop. Hier is min misdaad, die weer is beter en die natuur pragtig. En die wildtuin is steeds baie naby as jy gou soontoe wil gaan. Ja, daar is dinge wat pla: As ek sien hoe lyk ons paaie en die lelike vullishoop teen die dorp – en dan dink hoeveel toeriste dit ook sien! – kry ek so skaam.”

IN GRASKOP SE INLIGTINGS­KANTOOR reg langs die Graskop-hotel deel Tilla Coetzer pamflette en kaarte van die Panoramaro­ete uit. Sy moet kort-kort verduideli­k hoe ver die Krugerwild­tuin is. Tilla het in die Vrystaatse Goudveld grootgewor­d, toe by ’n saagmeule in die omgewing kom werk, lank by die kragstasie op Kriel gewerk, en toe weer teruggetre­k Graskop toe.

“Min mense sal my seker glo, maar ek het lekker gebly op Kriel. Ons bly darem ook lekker hier op Graskop; dis bitterlik mooi en ek geniet die werk by die inligtings­kantoor. Die mense is vir my so interessan­t; ek vra graag uit, jong.

“Nou die dag het ’n paartjie van Switserlan­d my vertel hoe hulle vyf jaar lank klippe moes verwyder voor hulle kon huis bou. En ’n Duitser op sy fiets kom vertel my hoe hy in die bos buite Hoedspruit moes kamp toe dit donker raak. Hy sê daar het heelnag iets aan sy tent gekrap. Hy het maar net tjoepstil bly lê... die volgende oggend kon hy naelmerke aan sy tent sien.”

Tilla reken Graskop bied al klaar genoeg aan die besoekers, maar daar word ’n groot toerisme-ontwikkeli­ng beplan by die skouspelag­tige kloof net suid van die dorp.

“Die Paradise Rally was altyd ’n groot bedryf hier op die dorp, maar van die inwoners het begin kla dat die motorfiets­ryers te rof is. Een ou het ’n slag ’n bad met ’n kaal vrou daarin agter sy motorfiets aangesleep. Die byeenkoms is dus gestaak, maar groot groepe op fietse kom steeds oor naweke kuier.”

RIAAN LÖTTER EN SY GESIN is redelik nuwe inwoners op Graskop. Hulle het in 2014 van die Kwazulu-natalse Suidkus af hierheen getrek. “Ons het geskuif oor die rustigheid en minder stres. Dit was ’n groot stap. ’n Mens los alles

waaraan jy gewoond is en jy lol met jou pensioen en jou kinders word ontwrig. Maar ons is beter mense hier, en dít is die heel belangriks­te.”

Riaan, wat al die jare in bosbou gewerk het, kom koop toe die Diggers Hut Re-enactment Studio in Graskop se besige Louis Trichardts­traat. Hier kan mense allerhande ou klere aantrek, ’n hoed op hulle kop sit en ’n geweer vashou terwyl Riaan ’n sepiafoto van hulle neem.

“Dis nou nie ’n besigheid wat ek ooit gedink het ek betrokke by sal raak nie, maar ek bly verbaas oor hoeveel mense foto’s kom neem. Selfs Leon van Nierop was al hier.”

Snaaks genoeg het Riaan en sy vrou op hulle wittebrood net so ’n foto van hulle laat neem – op Pelgrimsru­s.

AS JY VIR GUSTAV PEACH VRA waar hy grootgewor­d het, antwoord hy: “SuidAfrika.” Sy pa was ’n bankbestuu­rder en hulle het die hele land vol gebly. Later het hy self ook ’n bankbestuu­rder geword en die ritueel met sy gesin voortgesit. Maar dit lyk asof hy op Graskop kom vasskop het, want hier bly hulle al 17 jaar.

“My hart is nog iewers in die Vrystaat, maar hier gaan ek nie weg nie.”

Gustav was op Graskop ook bankbestuu­rder, maar in 1999 het hy ’n winkel oopgemaak waar hy “iets van alles” kon verkoop. Hy het dit The Window genoem, en vandag is dit seker een van die dorp se grootste winkels met steeds iets van alles. “Hier ontmoet ek elke dag mense van reg oor die wêreld. Ek geniet nogal daai vloei van mense.”

Gustav is ’n positiewe ou wat uit ’n ander hoek na sy dorp en omgewing se probleme kyk.

“Hierdie paaie waaroor die mense so kla, is oorspronkl­ik slegs vir toerisme gebou. Vandag bly ons in een van die wêreld se grootste mensgemaak­te woude en hier ry honderde vragmotors vol hout op daardie paaie. Die ander ding wat ’n mens hier moet onthou, is dat ons die hoogste reënval in die land het – dit het hierdie seisoen 1,3 m gereën in drie maande! Die paaie kan dus nie hou nie. Ek dink ons munisipali­teit doen hulle bes. Ek kla ook nie oor die krag wat nou en dan afgaan nie. Hoekom moet ek my nou bekommer en vervies oor iets wat so selde gebeur?”

Op sy groot sakrekenaa­r werk Gustav ’n lang som uit. Soveel uur in ’n dag, soveel in ’n jaar, en soveel uur is die krag af. Dit werk uit op minder as 1% van die tyd.

“Jy sien, moet ek my nou oor so ’n kleinighei­d bekommer? Dit terwyl hier pragtige watervalle, die mooiste uitsigte, ’n reënwoud by God’s Window en ’n kloof met die naam Whiskey Creek om my is? Die krag kan op enige plek afgaan, maar jy bly nie oral in die paradys nie.”

 ??  ??
 ??  ?? Wanneer groot dele van die land vaal raak in die winter, sorg die Panoramaro­ete se immergroen mensgemaak­te woude vir welkome kleur. Hierdie foto is geneem noord van Graskop, op die gewilde Blyderivie­rcanyonroe­te, die R532.
Wanneer groot dele van die land vaal raak in die winter, sorg die Panoramaro­ete se immergroen mensgemaak­te woude vir welkome kleur. Hierdie foto is geneem noord van Graskop, op die gewilde Blyderivie­rcanyonroe­te, die R532.
 ??  ??
 ??  ?? 1 Norman Molobela se reël is besoekers moet ’n goeie tyd hê – daarvan maak hy by Sabie Brewing Company doodseker. 2 Helen Goss is ’n joviale mens, maar haat dit om afgeneem te word. 3 Tiger Goss se Bookman’s Corner is ’n paradys vir boekwurms. 4...
1 Norman Molobela se reël is besoekers moet ’n goeie tyd hê – daarvan maak hy by Sabie Brewing Company doodseker. 2 Helen Goss is ’n joviale mens, maar haat dit om afgeneem te word. 3 Tiger Goss se Bookman’s Corner is ’n paradys vir boekwurms. 4...
 ??  ?? 1
1
 ??  ?? 2
2
 ??  ?? 3
3
 ??  ??
 ??  ?? 1 In Pancakes at the Stables lyk Leona en Pieter Oosthuizen altyd soos museumkara­kters. By hulle is hulle regterhand, Jessica Mokoena. 2 Die ou Handelshui­s-museum op Pelgrimsru­s. 3 In The Vine se kroeg op Pelgrimsru­s is oom Johnny Reinders baas van die...
1 In Pancakes at the Stables lyk Leona en Pieter Oosthuizen altyd soos museumkara­kters. By hulle is hulle regterhand, Jessica Mokoena. 2 Die ou Handelshui­s-museum op Pelgrimsru­s. 3 In The Vine se kroeg op Pelgrimsru­s is oom Johnny Reinders baas van die...
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ?? 1 Harrie’s Pancakes is nie meer die enigste plek op Graskop wat pannekoeke maak nie; Silverspoo­n doen ook ’n goeie joppie. 2 Constance Thabete aan die sy spin buite Africa Silks se winkel op Graskop. Alle produkte hier word van sywurmkoko­nne gemaak. 3...
1 Harrie’s Pancakes is nie meer die enigste plek op Graskop wat pannekoeke maak nie; Silverspoo­n doen ook ’n goeie joppie. 2 Constance Thabete aan die sy spin buite Africa Silks se winkel op Graskop. Alle produkte hier word van sywurmkoko­nne gemaak. 3...
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa