Weg! Platteland

So is die lewe Darrel Bristow-bovey bibber diep in die Karoo

Kinders vir wie jy lief is, bewonder jou dikwels as ’n superheld, maar dan word hulle groot… Op ’n ysige sterrekyk-uitstappie na Sutherland diep in die Karoo is Darrel Bristow-bovey deur ’n paar harde feite koudgesit.

- ILLUSTRASI­E DIEK GROBLER

‘I s jy seker jy kry nie koud nie?” vra die meisietjie en loer bekommerd na my. “Jy lyk dan soos ’n Smurf...” Ek kyk af na my arms. Die kind het ’n punt beet. Sy is skaars 10 jaar oud, maar dít is duidelik oud genoeg om te weet wat die verskil is tussen ’n man en ’n Smurf. Smurfs is veronderst­el om blou te wees; uitgevrete mans nié.

“Ag nee wat,” sê ek en maak of ek waai vir die helder sterre in die inkblou naghemel (terwyl ek heimlik seker maak my bevrore lyf kan nog my brein se opdragte uitvoer). “Moenie oor my bekommerd wees nie. Ek het jou mos gesê: Ek kry nóóit koud nie.”

Die meisie knik ingedagte, te beleefd om vir ’n oomblik te dink ek jok, maar ek vermoed tog sy begin snuf in die neus kry dat grootmense soms ongeloofli­k onnosel kan wees.

Ons is op Sutherland. Almal het my vooraf gewaarsku oor hoe snerpend koud dit hier diep in die Karoo kan word. Dis nie koue soos ons dit in die stad ken nie, het hulle gesê. Wanneer jy daar op die hoë vlaktes staan, met niks behalwe myle en myle niks tussen jou en die ysige wind nie, sal jy wens

jy kan ’n bad vol stadskoue tap waarin jy kan gaan lê om warm te word.

Ja-ja, het ek gebrom, ek sal onthou om ’n trui in te pak. My vriende het geglimlag soos wat ’n mens glimlag as jy jou plig gedoen het om ’n stadsjapie te help wat steeds dink hy weet van beter. Niemand het afgehaak met “As jy nie wil hoor nie, dan moet jy maar voel” nie – in elk geval nie hard genoeg sodat ek dit kon hoor nie.

Natuurlik hét ek sommer gou gevóél. Toe ons verby die sneeubedek­te Matroosber­g ry, was dit koud. En toe ons by die Lord Milner-hotel op Matjiesfon­tein stilhou om die nag in kamer 14 – die spookvertr­ek – deur te bring, was dit ’n bietjie kouer. En toe ons die volgende oggend in Sutherland se rigting mik, het dit gevoel of ons ín ’n vrieskas is met die hemelruim soos ’n blou diamant of die onderkant van ’n ysberg. Met ons aankoms op Sutherland het ek die stuurwiel probeer los, maar my hande was vasgevries en my vingers kon eenvoudig nie beweeg nie. Ook my knieë was stokstyf bevrore. Ek het begin dink iemand sal die sitplek moet losskroef en my met sitplek en al na die kaggel dra sodat ek kan ontdooi.

Ek weet wat jy dink: “Hoekom trek die idioot nie iets warms aan en skakel die vervlakste verwarmer aan nie? Hoekom wil hy so graag ly?”

MY VROU WAS DIÉ YSIGE NAWEEK saam met my op Sutherland, maar ’n paar jaar voor ons troue het ek ’n verhouding gehad met ’n ander vrou met tweelingdo­gters. Deesdae is ons almal vriende, en nou was dit dié einste vriendekri­ng wat op pad Sutherland toe was om te gaan sterre kyk.

Die tweeling was strooimeis­ies by ons troue en ek is baie lief vir hulle. Dalk het jy self jong dogters wat lieflik en gaaf en die punt van jou hart is... ek wil jou regtig nie aanstoot gee nie, maar die tweeling waarvan ék praat, is beslis gawer en liewer en slimmer en mooier as jou dogters of enige ander meisies in die hele wye wêreld. Ek het altyd daaroor gedroom om eendag my eie kinders te hê – tot ek dié twee ontmoet het. Net daar het ek besef enige ander kind gaan ’n vreeslike teleurstel­ling en antiklimak­s wees.

Maar die heel grootste probleem is eintlik dat ek vreemd optree wan- neer die tweeling in die omtrek is: Ek probeer hulle gedurig beïndruk. Toe hulle vier was, het hulle gedink ek is die sterkste man ter wêreld. Hulle het nie só geglo omdat hulle klein was en nie van beter geweet het nie, maar omdat ek hulle knaend vertel het ek is die sterkste. Soos hulle ouer geword het, het hulle waarskynli­k agtergekom dis glad nie die geval nie – nie dat dít my enigsins keer om steeds dinge voor te gee wat ek glad nie is nie.

Toe die tweeling ses was, het ek byvoorbeel­d ’n by geëet om hulle te beïndruk. Hierop is ek glad nie trots nie. Ons het gaan piekniek hou toe ek ’n dooie by op die piekniekta­fel gewaar en sê: “Mmmm! Lekker! ’n By!” Ek het die insek onder my tong ingedruk en gemaak of ek dit insluk.

“Jy het dit nie regtig geëet nie!” het die een geskree. Om dit meer oortuigend te laat lyk het ek ’n slukkie Coke gevat terwyl ek die by versigtig onder my tong in plek gehou het. Ek is nie mooi seker nie, maar ek skat party bye kan maak of hulle dood is... of miskien slaap hulle net of hulle is in ’n diep koma – en al wat dit verg is ’n mond vol Coke om weer tot verhaal te kom.

Wanneer jy voel hoe ’n dooie by uit die dood uit opstaan en sy vlerke binne-in jou mond begin klap, is jou eerste instink om die verdomde ding uit te spoeg, maar dis natuurlik buite die kwessie as jy ’n swaap is wat twee meisies probeer beïndruk. Ek het my bes probeer om ongeërg te lyk en die gesprek voortgesit sonder dat iemand agterkom daar is ’n lewendige, nou goed befoeterde by in my mond, en uiteindeli­k, toe hy my onder die tong steek, moes ek op my tande byt sodat niemand my kermgeluid­e hoor nie.

“Waaroor ék wonder,” het hulle ma later die aand gesê terwyl ek steun en kreun en roggelgelu­ide maak omdat die binnekant van my mond te dik opgeswel was om selfs my eie spoeg te sluk, “is hoekom jy dink dit sal my dogters beïndruk as jy ’n by eet!”

Ek weet nie – net soos ek nie ’n idee het waarom ek dink dit sal ’n indruk op hulle maak as snerpende koue my kastig glad nie pla nie.

OP ONS EERSTE OGGEND op Sutherland het ek die tweeling gelei na die waterfonte­in voor die B&B waar ons tuisgegaan het. Ek het kaalvoet bo-op die water getrap om te wys dit het oornag gevries. Ja, my voetsole het gevries, maar dit was nie naastenby so koud soos die res van my lyf toe die ys breek en ek tot by my knieë in die yswater val nie.

Daardie nag het ons na die sterrewag gery om die hemelruim te bewonder en die lug was nóg ’n aks ysiger. Dit het kompleet gevoel of my neus en keel en ore verwyder en met aluminiump­ype vervang is. “Trek jou wolmus aan,” het my vrou gefluister, maar ek het hardkoppig verseg.

Terwyl ek na die naghemel staar, vergeet ek ’n vir ’n oomblik hoe koud dit is. Reg rondom my is die groot, oop ruimtes van die Karoo en bo my die breedste, diepste, donkerste dieptes van die heelal. Almal moet één keer in hulle lewe die stad agterlaat en platteland toe mik om ’n naghemel soos daardie te ervaar. Dit herinner ons wie ons is, hoe klein ons is en hoe vrekmin ons weet. Dit herinner ons dat ons oor amper alles verkeerd is.

Een van die meisies vat my hand. “Jy is yskoud,” sê sy, “ek kan dit deur my handskoen voel!”

Ek was op die punt om weer te begin redekawel, maar toe kyk ek na haar en besef sy is besig om groot te word. Een van die dae sal sy nie meer ’n kind wees nie; een van die dae gaan ons albei ewe groot en ewe klein wees. Daarom sug ek en sê: “Ja, ek kry nogal koud.” Sy gee my ’n drukkie om my warmer te maak, en die volgende oomblik is haar suster ook daar. En haar ma. En haar ma se kêrel. En my vrou. Daar staan ons toe in die middel van die heelal en lag en druk mekaar tot ons diep binne warm voel.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa