Wat is die beste brandhout?
• VIR HITTE Per gewig bevat alle hout min of meer dieselfde hoeveelheid energie. ’n Hoop digte, swaar hardehout soos sekelbos sal 1½ tot 2 keer soveel hitte-eenhede afgee as dieselfde volume sagte hout soos wattel – én dit sal langer brand. Maar dit sal ook waarskynlik twee keer so duur wees. • VIR SKONER LUG
Die verskil in besoedeling stowwe wat verskillende soorte hout afgee, is ignoreerbaar klein vergeleke met die uitwerking van houtvog en die soort vuurherd. Selfs dennehout? Ja, ondanks dié hout se reputasie as een wat dik aanpaksels in skoorstene vorm, brand mense in Amerika en Europa dit sonder enige probleme. Die gom in dennehout brand trouens warm en skoon, en droë dennehout veroorsaak net soveel koolstof en kaggelneerslag as ander houtsoorte. Die rede hoekom dié hout so deurloop, is omdat die einste hoogs vlambare gom die hout in staat stel om te brand terwyl dit sopnat is. Nat dennehout sal beslis sorg vir neerslae op stoof glase n swaar teer kreosootkondensasie in die skoorsteen, wat tot probleme – en selfs die risiko van ’n skoorsteenbrand – kan lei. • VIR VOLHOUBARE HOUTVERSAMELING EN DIE HERSTEL VAN DIE OMGEWING Die soort hout wat jy koop, kan ’n groot verskil maak in die omgewing. Suid-afrika het nie ’n naspoorbaarheid-en sertifiseringstelsel soos in Amerika en Europa nie. Gelukkig kan jy uit die soort hout al baie wys word oor die omgewingsvolhoubaarheid daarvan. Vir die moeiliker keuses kan jy verskaffers peper met vrae en aandring dat hulle begin naspeur watter spesies hulle het en waar en hoe die hout verkry is. INDRINGERS
Enige hout wat deur die uitwissing van indringerbome verkry is, sal waarskynlik die beste keuse wees vir die omgewing. Die risiko om natuurlike ekostelsels te beskadig is die kleinste; vuurmaakhout wat verkry is uit opruimingsprojekte wat behoorlik bestuur word, ondersteun die herstel van ekostelsels; en sulke projekte is gewoonlik plaaslik, wat die vervoervoetspoor verklein. Maar die insameling van indringerhout help weinig as slegs die groot stukke geneem word en nuwe uitloopsels dan inmeng met behoorlike opruiming. Vra vrae en koop liefs hout van projekte wat goed bestuur word.
Prosopis ( suidwesdoring en ander Prosopis- spesies) Brandtyd 5/5 Omgewingsvriendelike insameling 5/5
Die meeste Prosopis-spesies het die hoë hittewaarde van die hardste vuurmaakhout en brand daarom baie lank – én vorm die minimum as. Dis ’n nare uitheemse indringer in die droër dele van Suider-afrika wat oop savanne inneem en riviere verstop. Teen die tyd dat dit by verskaffers kom, is dit gewoonlik al goed droog – en daarom ’n uitstekende keuse.
Swartwattel (Acacia mearnsii) Brandtyd 3/5 Omgewingsvriendelike insameling 5/5
Hierdie hout is wyd beskikbaar en ’n uitstekende keuse vir ’n wintervuur. Dit steek maklik aan, brand vir ’n skaflike tyd en word maklik tot fynhout gekap. Omdat dit ’n mediumdigte hout is, sal stukke wat in gewone vuurmaakhout gekap word, vinniger uitdroog as digter houtsoorte. Dis een van die ergste indringers in Suid-afrika wat weiding versmoor en veral rivieroewers inneem. Digte ruigtes hiervan gebruik enorme hoeveelhede water en dompel beskermende oewerplantegroei in skaduwee – en die gevolg is erge erosie en skade aan die rivieroewer as daar vloede is. Die enigste goeie swartwattel is ’n dooie – of ’n brandende – een.
Rooikrans (Acacia cyclops) Brandtyd 4/5 Omgewingsvriendelike insameling 5/5
Dié kort boom bedek groot dele naby die Kaapse kus – van Namibië regdeur tot in die Oos-kaap. Hulle vorm digte enkelspesieruigtes wat diverse natuurlike plantegroei vervang. Rooikrans groei stadiger en vorm digte vuurmaakhout wat lank brand.
Australiese swarthout (Acacia melanoxylon) Brandtyd 5/5 Omgewingsvriendelike insameling 5/5
Dié donker kernhout is dig en brand lank. Dis ’n groot boom wat woude en hoëreënval-fynbos en grasveld inneem en oorneem. Dis nie so algemeen soos die ander hout wat in hierdie artikel bespreek word nie, maar ’n puik keuse om vuur te maak.
Wattels Brandtyd 2/5 Omgewingsvriendelike insameling 5/5
Portjacksons ( Acacia saligna) en langblaarwattels ( Acacia longifolia) is indringers aan die Kaapse kus, terwyl silwerwattels ( Acacia dealbata) ’n probleem is in Kwazulu-natal en die Vrystaat. Hulle groei omtrent ewe vinnig en staan ’n paar meter hoog, en die hout is dikwels sag en brand vinnig. Dit word nie so wyd bymekaargemaak en verkoop soos rooikrans nie, maar brand goed in ’n doeltreffende geslote stofie. >