‘Ons het die skuif gemaak’
Twee chroniese avonturiers, byeboere en inheemseboombetotteldes, Ursula Peter en John Allen, het einde 2011 “afgetree” op De Vlugt, waar hulle nou die indringerplante in die Prins Alfredpas laat les opsê.
Op De Vlugt laat twee avontuurlustige byeboere nou indringerplante les opsê
De Vlugt is nie ’n dorp nie. Selfs “dorpie” of “gehuggie” klink te dik vir ’n daalder om die paar plase en ’n strooisel huise te beskryf wat jy raakry langs die R339, daar waar die Prins Alfredpas – SuidAfrika se langste bergpas én die oudste een wat steeds gebruik word – die Keurboomsriviervallei kruis.
Die stuk of 40 siele wat in die distrik woon, ken nie Eskom-elektrisiteit óf selfoonseine nie, en behalwe vir die padstal Die Plaaskind kan jy hier eintlik maar de laaste middelklas-“móét” op jou maag skryf – winkels, restaurante, skole, brandstof, kitsbanke.
Tog is dit na hierdie toevlugsoord “êrens tussen niks en nêrens” waarheen Ursula Peter, in haar vorige lewe ’n persoonlike assistent, en haar man, John Allen, ’n mariene bioloog en voormalige omgewingsbeampte vir Sanparke, in Desember 2011 uitgewyk het.
Aanvanklik téén hulle sin, keer hulle dadelik. “Ons het mekaar in Port Elizabeth by ’n byeenkoms van die Atalayatak van die Dendrologiese Vereniging ontmoet,” vertel Ursula, “en in die verlede het ons maar bra langtand aan hierdie beroemde pas van Thomas Bain tussen Knysna en Avontuur en Uniondale gery – laat staan nog om hier te kom wóón!”
John vat die storie verder: “Daardie tyd was die pas vir ons bloot ’n kortpad tussen die see en die binneland wat, skande by die skade, oortrek was met indringerplante wat die pragtige inheemse plantegroei, watervalle en poele verberg én die pas onveilig gemaak het. Voor ons hierheen verhuis het, het ons ook nie ’n idee gehad presies hoe gewild die pas is nie.”
Smôrens van ses tot smiddae vyfuur het Ursula en John hulle afgesloof om hulle kothuis uit die jaar 1884 te restoureer. Tussendeur het die twee tree
huggers, soos hulle tong in die kies na hulleself verwys, ontslae geraak van al die indringerplante op die 7 haeiendom (dit behoort aan ’n vriend wat meestal oorsee werk) en ’n “heuninghuisie” opgerig waar hulle vroeg Desember in die aande, wanneer die bye rus, die heuning uit hulle sowat 20 korwe uitswaai, bottel en onder die naam De Vlugt’s Finest Honey aan verbygangers verkoop. (Die “Honey for sale”-bordjie sit reg teen die pad, maar teen Maartmaand hang daar klaar weer ’n “Sold out” onderaan.)
In die nuwe tuin is slegs inheemse struike, bome, bolle en vetplante geplant – “en ’n paar skelm uitheemse dahlias vir die mooi,” erken Ursula. Behalwe vir Junie tot September, wanneer dit in dié geweste ryp, oes hulle die res van die jaar uit die groentetuin artisjokke, eiervrug, groenbone, soetrissies, murgpampoentjies, outydse komkommers, tamaties, kool, pampoen, soetmielies, botterskorsies, spanspek, rissies, sitrus en blaarslaai. >
“Ons het nog nooit so hard gewerk soos hier op De Vlugt nie, maar terselfdertyd ook nog nooit so min skete en pyne gehad nie,” lag Ursula, ’n voormalige langafstandatleet, wat, ironies genoeg, met Platteland se besoek met ’n staal-en-gipsspalk om haar linkervoorarm oor die weg moes kom. John, weer, was aangewese op ’n kierie omdat hy skaars twee weke voor sy vrou se ongeluk ’n knie-operasie ondergaan het.
“Hierdie beserings is verdomp irriterend,” sê John, want nou, amper ses jaar later, is hulle, hulle twee katte, Sandy en Tigger, en ’n bende hoenders verslaaf aan De Vlugt se vrede en natuurskoon. En dié pragtige omgewing is iets wat hulle die heel graagste óf met dapper en stapper óf op hulle fietse verken – en albei hierdie aktiwiteite is veel plesieriger sonder kieries of gips…
RAAI HOE WEET JY as John en Ursula die dag hulle fietse opgesaal het en op die oorlogspad is, wou Adri van Rooyen van die Die Plaaskind-padstal die vorige dag weet. Sy was ook dadelik gereed met die antwoord: “As jy op die stofpad verder die pas in oral klein
blackwattles sien lê!” Ursula en John lag self hieroor. Talle De Vlugtelinge het “om heel verstaanbare redes” gedink die twee is totaal van lotjie getik toe hulle in Julie 2014 besluit het om, nadat hulle al die indringers op hulle eie werf uitgeroei het, op eie koste ook die indringerbome – meestal swartwattels en denne- en bloekombome – in die Poortgedeelte van die pas te takel. “Dis maar die ou storie van fools
rush in,” sê John, “maar soos met enige oorweldigende taak wat soos ’n berg voor jou lê, moet jy maar net begin.”
De Vlugt is op ekologiese vlak ’n interessante plek omdat verskillende biome – fynbos, renosterveld, oewerbos en Albany-ruigte – hier ontmoet, sê Ursula, maar met verloop van tyd het dorstige rammetjie-uitnek uitlandse flora, wat meestal waterlangs versprei, die inheemse plantegroei oordonder en die sigbaarheid vir motoriste belemmer.
Met die hulp van bure en boere in die omgewing, onder andere Danie van Rooyen (Adri se pa), wat soms van hulle plaaswerkers beskikbaar gestel het om te help, het die uitroeiwerk begin: Die klein swartwattels kan byvoorbeeld met die hand uitgetrek word, maar die middelslag-bome moet geringeleer ( ringbark) en die grotes afgesaag en met Garlon behandel word – en dié kos meer as R2 000 per 5 ℓ-kan, maar word darem nou deur die bewaringsowerhede geborg. >
Ursula en John se aanvanklike plan was om net die stuk pas van die dorp tot by Bain’s Pillar, ’n majestueuse rotsbaken, skoon te maak, maar toe hulle by dié punt kom, kon hulle nie ophou nie. Nou is meer as 3 km van die Poort al skoongemaak en die volgende mikpunt is om te vorder tot by Die Kerf, ’n plek waar Thomas Bain ’n aansienlike hoeveelheid dinamiet moes gebruik om die pad te bou. Deesdae kom help kinders van die omgewing met die uitroeiwerk. Ursula en John beskou dit as ’n prettige projek wat ook opvoedkundige waarde het. Die jong klomp word nie betaal nie, maar kry wel elkeen ’n lekker bord kos.
Asof die pas nie intimiderend genoeg is nie, het John en Ursula sedertdien ’n klein begraafplasie naby hulle huis én die historiese Bain-uitspanplek oorkant die padstal skoongemaak. Danksy klein borgskappe van individue is verskeie inheemse bome by die uitspanplek, wat ideaal is vir pieknieks, geplant en rusbanke geïnstalleer.
“Dis seker maar in ons geaardheid om betrokke te raak in die gemeenskap,” antwoord Ursula as jy vra hoekom hulle so min van hulle energie vir eie gewin aanwend. Hulle neem byvoorbeeld elke maand so 10 inwoners wat sonder vervoer is Avontuur toe om administratiewe take en inkopies te doen en het intussen ’n klein “winkeltjie” by hulle huis begin waar basiese benodigdhede beskikbaar is.
“Vir baie mense sal De Vlugt waarskynlik te afgeleë wees, maar solank ’n mens besig en betrokke bly, raak jy nooit eensaam nie. En as jy regtig gelukkig is op die plek waar jy woon, kwyn daardie knaende behoefte om iewers heen te ontsnap.”
Of miskien het dit te doen met hoe mirakelagtig die twee uit al die windrigtings van die wêreld op hierdie speldekopgrootte plekkie beland het. John, wat ’n Ierse pa en Switserse ma gehad het, is aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog in Skotland gebore en was in Indië, Uganda en Kenia op skool voordat hy as
by die SA Citrus Exchange in Covent Garden, Londen, begin werk het. In 1966 is hy na die Kaapstadse hawe oorgeplaas, en nie lank nie of hy het mariene biologie aan die Universiteit van Kaapstad begin swot waar hy ’n dosent was voor hy as diamantduiker Port Nolloth toe is en daarna ’n beampte vir Sanparke – op Wildernis, Tsitsikamma en Stormsriviermond – geword het.
Ursula, ’n derdegeslag-duitser wat haar lewe lank as persoonlike assistent en vertaler gewerk het, het weer op ’n plaas naby Tsumeb in Namibië grootgeword. Ná John se kastige aftrede in 2005 het hulle tien “minder gelukkige” maande in Zambië gewoon en toe ’n walviskykonderneming in Algoabaai bestuur voordat hy as omgewingskonsultant by verskeie projekte in onder meer Nature’s Valley en Boksburg betrokke was. En op 19 Desember 2011 het die twee avonturiers op De Vlugt geland, ’n plek waar jy bedags hoenders, ganse, skape, bokke, duiwe en sonbesies hoor wat ’n oomblik stil raak as ’n stowwerige pasryer verbyskiet. Snags is dit die uile se beurt. En die supersoniese getjilp van vlermuise.
Maar bowe alles, altyd, die stilstiller-stilste stilte.