Bestemming
Mooi netjies in die middel van Suid-afrika, neffens die besige N1 wat die Kaap en Gauteng by mekaar uitbring, lê ons grootste mensgemaakte watermassa: die Gariepdam, omsoom deur drie provinsies. Kom maak kennis met die dam se mense.
Een watermassa, drie provinsies... kom maak kennis met die mense rondom die Gariepdam
Die Gariepdam is ’n waarlik ontsagwekkende oase. Maar ondanks die oorvloed water is dit geen paradys nie. Dis harde wêreld, boerderywêreld. Noord-kaapse stof, Vrystaatse vlaktes en Oos-kaapse koppies vloei almal saam in ’n ryk aar wat die gees van die mense hierlangs – plaasjapies, dorpenaars én toeriste – voed. Dis ’n streek wat soms swaar dra aan ’n droewige verlede, maar hande vat in die hede.
Die dam was voorheen bekend as die H.F. Verwoerddam en is twee jaar ná Suid-afrika se eerste demokratiese verkiesing herdoop tot die Gariep, ’n San-woord wat “groot water” beteken. En groot is dié dam inderdaad: Dit beslaan ’n volle 370 km2 en die blaaie daarvan span wyd oor die grense van die Noord-kaap, OosKaap en Vrystaat. Die nuwe naam is dieselfde een wat die San oorspronklik aan die Oranjerivier gegee het wat vandag die dam voed.
Die Gariep se hoofdoel is om besproeiing te voorsien aan die land se droër landboustreke, én die dam speel ’n groot rol in plaaslike kragopwekking. Dis ’n indrukwekkende Suid-afrikaanse suksesverhaal, en as ’n mens hierdie wêreld verken (en in die proses oor ’n paar provinsiale grense ry), raak jy gou bewus van die groter damstreek se besonderse karakter. Hier staan almal met hulle voete stewig op die aarde. Al raak dit soms modderig.
Gariepdam
Waar mense sélf inspring
Knus teen die westeroewer van die dam lê die gelyknamige dorpie. Dié Vrystaatse nedersetting het in die laat jare sestig sy ontstaan gehad as tydelike werkerskamp vir die ingenieurs en werkers wat die dam gebou het. Dit verklaar Gariepdam se vreemde uitleg: Hier’s geen tradisionele hoofstraat óf skeiding tussen die sakegebied en woonbuurte nie. Alles vloei sommer so in mekaar.
Die vierduisend siele wat vandag hier woon, bly meestal in die asbeshuise – darem van die meer omgewingsvriendelike Franse soort – wat destyds vir die mense van die departement van waterwese opgerig is.
“As jy ’n paar spanners het en weet wat jy doen, dan haal jy sommer self jou huis uitmekaar en vat hom saam as jy trek,” gesels Nic du Toit, die plaaslike landdros wat Gariepdam en Philippolis bedien. Ons kruie deur die stofpaaie rondom die dorp, in ’n Hiluxbakkie wat al meer as ’n miljoen kilometer op die klok het. Omdat die
starter al weer lol, moet die enjin maar luier oral waar Nic uitklim.
Die uitsigte oor die dam en die vlaktes is skilderagtig. Bo die dieselenjin se moedige gebrom hoor ons ’n visarend.
“Niemand hier wil trek nie,” sê Nic. Hy steek nog ’n Winston aan, beduie oor die wêreld rondom ons. “Kyk net. As jy ongelukkig is op dié plek, dan is dit net jou eie skuld.”
Nic is ’n veteraan op die dorp en sê sy pligte as landdros hou hom op Phillipolis veel besiger as hier. “Ons hou darem so een keer per week hier hof,” antwoord hy droogweg as ’n mens hom uitvra oor misdaad op die dorp.
Die bakkie se spoedmeter werk ook nie. Is dit nie dalk teen die wet nie? “Ag,” sug hy, “ons ry hom maar so op die rev counter.”
’n Mens kom gou agter die dorpenaars bly lekker. Die strate is skoon, die huise netjies. Die veilige, rustige atmosfeer, tesame met die natuurskoon en die dam, werk vir die mense. En dit lok besoekers van heinde en ver. Watersport, damkyk en visvang – ’n mens kan heeljaar karp, baber en modderbek uittrek – is die groot attraksies, en boonop lê die dorp op ’n deurryroete langs die N1. Toerisme hou dié plek aan die gang.
“Ons kyk na ons dorp, want ons is trots op hom,” sê Lorraine Rogers, wat die Johnlaine- algemene handelaar besit. “En ons kyk na ons toeriste. Dit is ons behoud.”
Gariepdam het in 2011 met die toekenning as die Vrystaat se Dorp van die Jaar weggestap. Lorraine voel die inwoners se raakvathouding is wat hulle onderskei van ’n paar van die kleiner dorpies om die dam, waar agteruitgang ’n hartseer werklikheid is.
“Die munisipale dienste kan lol, en daarom spring ons self in om dinge vas te vat.” En dinge is daar wel: gebarste waterpype, veldbrande, vernielde paaie. Die meeste inwoners hou reënwatertenks op hulle erf aan, daar’s ’n vrywilligersgroep wat brande monitor, en Johnny, Lorraine se man, maak gereeld slaggate reg met gereedskap wat hy oorgehou het uit sy dae as kontrakteur. “Hier mors ons nie met water nie, hoor! Die dam is vir ons kosbaar; dis wat mense hierheen bring.”
Ironies genoeg is water hier te duur om te mors. Die plaaslike Kopanongmunisipaliteit sit tans in ’n finansiële penarie, met die gevolg dat Gariepdam (wie se damwater met ’n ellelange ompad deur waterverskaffers en -suiweraars weer by die dorpenaars uitkom) se munisipale gebruikstariewe onlangs die hoogte ingeskiet het.
Tog verkies die inwoners om die spreekwoordelike glas as halfvol te beskou. “Ons bly op ’n lekker plek. Hier’s ’n ordentlike winkel en alles wat ’n mens nodig het,” sê Susan Heinrich, wat ’n rits gastehuise op die dorp bestuur. “Vir dinge soos ’n hospitaal, bank en skole moet jy nou wel ry, maar ek sal hierdie mense en die omgewing vir niks verruil nie. Teen skemer loop hier nog ribbokke tussen die huise rond!” >
Colesberg is darem skaars ’n driekwartier weg, Bloemfontein net onder twee uur. “Dis baie sentraal,” sê Susan. Sy het onlangs hulle asbeshuis se mure om die buitekant met stene laat toebou, soos baie van die dorpenaars doen. “Mense begin nou van oraloor eiendomme opkoop, maar hier’s nog ’n hele paar bargains.”
Hier praat mense nie van inkommers nie, maar van inkomelinge. En hier’s ’n gesegde wat lui: van inko meling tot dorpenaar binne ’n week. Adriaan Harper, bestuurder van die Forever Gariepvakansieoord, kan hiervan getuig. Dié oord, wat teen die water sit en tot ’n duisend mense kan huisves, dien ook as basis vir die Vrystaatse seiljagklub. “Ek het vier jaar gelede hier aangekom – en onmiddellik welkom gevoel. Dis nie iets wat ’n mens oral teëkom nie.”
Adriaan het al reg oor die land by ander Foreveroorde gewerk, en hy behoort te weet. “Maar hierdie plek kan bésig raak, man. Oor Desember sal jy hom nie herken nie.”
In vakansietye word daar ongetwyfeld geskep terwyl dit pap reën. Maar hoe maak mense in die stiller tye?
Waterwese, die Eskomkragstasie en die vakansieoord doen almal hulle deel vir gesonde werkverskaffing, en só bly die basiese ekonomie darem aan die gang. Verder is daar die jaarlikse Quennafees in Februarie en die Gariepbonanza, ’n groot visvangkompetisie, in Augustus.
Intussen kuier die locals maar so onder mekaar en geniet die saligheid. Wilden skaapboere uit die distrik doen ook gereeld hier aan. “Met al die water kan jy nooit verveeld wees nie,” se Hentie du Toit, Nic se seun en nutsman op die dorp. Sy hande staan vir niks verkeerd nie. Hy en sy meisie, Roxzanne Hatton, tel onder die ylgesaaide jong klomp op die dorp, en hulle is gek oor avontuursport. “Daar’s te veel te doen om én op die dam.”
Laatmiddag, ná die uitstappie, staan ons voor die OK Minimark en gesels. Pa en seun soengroet mekaar... en dan is daar konsternasie: Nic het per ongeluk die Hilux laat vrek. Ons moet stoot. Ná ’n paar pogings en instruksies van Hentie – “derde, Pa, ons is op gruis!” – kry ons hom wel aan die brand.
Die son trek water, maar Nic en Hentie maak hulle reg vir nog láng sake gesels, sommer so deur die bakkie se ruit. Daar’s duidelik nie veel haas nie. Hier rond, lyk dit, loop die lewe ook maar op die rev counter.
Norvalspont Die seer van die verlede
Wanneer ’n mens ’n entjie hiervandaan in Colesberg se rigting die magtige Oranjerivier oorsteek, ry jy die Noordkaap binne, en ’n paar honderd meter verder en jy’s op Norvalspont – of liewer wat oor is daarvan. Hier gaan jy inderdaad die dorp misry as jy vir die hoender uitswaai.
Norvalspont het sy naam te danke aan die pont wat die Skot John Norval in 1848 oor die Oranje gebou het om die roete vir trekkers en fortuinsoekers na die pasontdekte goudveld in die noorde te vergemaklik. Later jare is dit met ’n treinbrug vervang, wat dit ’n belangrike strategiese punt gemaak het in die jare van die AngloBoereoorlog. Ná die oorlog is ’n nuwe treinbrug gebou, met die staalbrug wat motoriste nou nog hierlangs oorsteek, daarnaas.
Vandag is dié eertydse dorp ’n volslae gehuggie. Verstedeliking, verwaarlosing, verarming... noem maar op. Al die gewone sondaars het die werk voltooi. En dis asof die landskap steeds swaar dra aan die seer van die verlede: Norvalspont het een van die Angloboereoorlog se grootste konsentrasiekampe gehuisves.
Maar as Joe Starke van die Glasgow Ponthotel op ’n Saterdagoggend vir jou ’n bier oor die kroegtoonbank aanskuif, lyk die wêreld dadelik beter. Die All Blacks het pas ’n drie gedruk in die laaste toets teen die Leeus – blykbaar ’n teken dat die Boeing pas oor is.
Buite op die stoep beduie Elmien, Joe se vrou wat saam met hom deeltyds dié geskiedkundige hotel bestuur, straataf na die toe kafeetjie op die hoek, die moedige motorwerkswinkel langsaan, die velaf townshippie met sy konkavure teen die koue. “Jong, jy kan mos sien, hier gaan boggherol aan.” >
Dít maak die hotel die onbetwiste kern van die dorpie. En dit mag maar: die Glasgow Pont is ’n geskiedkundige juweel. Die plek het reeds in 1857 sy deure geopen en kreun vandag behoorlik onder die gewig van ouwêreldse nostalgie. Stokou foto’s, briewe en advertensies hang skeef teen die kroegmure; die lang, donker gange wat na die beskeie kamers lei, fluister verwese onder jou voete. Selfs pres. M.T. Steyn van die destydse Vrystaatse Republiek het toeka se dae hier kop neergelê. Vandag dien dit ook as plaaslike poskantoor, en die een syvleuel is in ’n winkeltjie en offsales omskep. Elmien bied elke jaar ’n groot Valentynsdagopskop hier aan, wat al goed beroemd – én berug – is.
“Vroeër het min mense van die hotel geweet, maar deesdae is dit nogal gewild,” sê sy. “Ons kry baie bikers hier wat sommer die hele hotel bespreek. Dan gaan dit rof. Verder is dit meestal besoekers aan die dam. En dan is daar mos Gariepdam se dart club wat hier bymekaarkom... en die boere in die omgewing is altyd lus vir ’n dop.”
Norvalspont is deesdae ’n soort satellietbuurt van Gariepdam, skaars 7 km hiervandaan. Dit huisves baie van die werkersklas wat daar hulle brood verdien, en reisigers skiet gereeld kortpad hierdeur van die R58 af dam toe. “Hierdie is nou nie Gariepdam nie,” se Elmien, wat self op dié dorp bly as hulle nie by die hotel diens doen nie. “Maar niemand hier het probleme met mekaar nie. En die mense wat hier aankom, maak dit lekker.”
Die spoorlyn loop reg agter die hotel verby. Kom hier nog treine deur? “Ja,” sê sy. “Elke oggend vyfuur kom die goederewaens hierlangs.” Sy maak grootoog. “Dis ons opwinding vir die dag!”
Voor ek die grootpad vat, draai ek by die konsentrasiekamp se begraafplaas, net duskant die R58, in. Hier’s ’n monument opgerig vir die kinders wat in Norvalspont se kamp gesterf het. Daar’s bekende vanne op die gedenkplaat: Botha, Brits, Coetzee, De Beer, Ferreira... Die ysige wind hier laat ’n mens se oë traan.
Burgersdorp Van Boeredorp tot boeredorp
As jy van Norvalspont af oos op die R58 voet neersit, is jy gou oor die Ooskaapse grens. Die pad neem jou mettertyd tussen vlaktes, heuwels en roesrooi miershope deur nóg dieper die geskiedenis in, tot jy so 100 km later Burgersdorp binnery.
Die dorp is genoem na die vryburgers wat in 1846 reeds hier hakke in die grond geslaan het. In 1869 het die Gereformeerde Kerk ’n kweekskool gestig, wat in 1905 na Potchefstroom geskuif is en gelei het tot die Universiteit van Potchefstroom, vandag die Universiteit van Noordwes. Dis ook op Burgersdorp waar die Afrikanerbroederbond in 1881 op die been gebring is. Die Broeders het in 1893 die land se eerste taalmonument hier opgerig
ter viering van die Hollandse (lees: Afrikaanse) taal wat in die parlement erken is. Met die aanbreek van die Anglo-boereoorlog het die beneukte burghers op ’n ongekende skaal die roers teen die Britte opgeneem, soveel so dat die dorp onder die Kakies as “that rebel’s nest” bekend gestaan het.
Vandag nog hou twee Britse blokhuise van strategiese koppies af wag oor Burgersdorp se doen en late, maar op ’n fisieke vlak kan die dorp nie losgemaak word van sy AfrikanerNasionalistiese geskiedenis nie: Die statige torings van die historiese NG en Gereformeerde kerk troon streng bo die dakke uit, en Burgerplein, waar onder meer die taal- en oorlogsmonument geplant staan, is die bekendste baken hier.
Vandag is Burgersdorp, wat by die 15 000 mense huisves, ’n tipiese boeredorp: vriendelik, funksioneel en sonder pretensie. Dis merino- en wildwêreld. Jy weet jy’s in die Oos-kaap, want die dieselbakkies wat deur die strate >
dreun, moet nou en dan uitswaai vir ’n slaggat of twee óf ’n spannetjie boerbokke wat die pad oorsteek.
“Die dorp se geskiedenis is belangrik; dis deel van ons identiteit,” gesels Dalene Bredenkamp, bestuurder van die indrukwekkende museum. “En dít dra ons toerisme. Baie mense ry deesdae van die Gariepdam af hierlangs om die museum en monumente te bekyk. Maar toeka se politiek... nee wat, dis nie meer relevant nie. Nou geniet ons net ons dorp. Dis skoon, netjies, en veilig. En hier’s alles wat ’n mens nodig het.”
Inderdaad is hier goeie geriewe: ordentlike winkels, behoorlike infrastruktuur en ’n puik provinsiale hospi taal. En dit lok boere en besoekers van kleiner omliggende dorpe, wat beteken dinge kan bedrywig raak.
As ’n mens rondvra, kom jy gou agter dat dit op Burgersdorp nie net oor ’n belegging in die verlede gaan nie, maar ook ’n belegging in die toekoms. Baie inwoners beskou die Laeren Hoërskool Burgersdorp as die trots van hulle dorp. Die roem van dié twee skole, wat dieselfde terrein deel en saam sowat 500 leerders van gr. 1 tot gr. 12 sterk is, strek wyd in die distrik; gevolglik is hier ’n seunsen meisieskoshuis wat heeljaar stampvol is. Leerlinge van so ver as Steynsburg, Molteno, Zastron, Bethulie en Gariepdam kom hier skool toe. En elke jaar in
‘Die dorp se geskiedenis is belangrik; dis deel van ons identiteit. Maar toeka se politiek... nee wat, dis nie meer relevant nie. Nou geniet ons net ons dorp. Dis skoon, netjies en veilig. En hier’s alles wat ’n mens nodig het.’
Oktober word ’n Somerfees gehou – dis nie net ’n manier om geld vir die skole in te samel nie, maar dien ook sommer as ’n skoolreünie.
“GOED EN MET JOU,” groet Pieter Mostert op die dorpenaars se gebruiklike manier. Ons staan in wat hy noem die “stoutgatgang” van die meisieskoshuis, waar van die jonger kinders in gedeelde kamers bly. Mossie, soos hy bekend staan, is sedert 2009 koshuisvader; hy en sy gesin bly in ’n ruim woonstel op die onderste verdieping.
Wat is die suksesresep van die skool en koshuis? “Ek dink dis ’n kombinasie van akademie, dissipline en sport,” sê hy. “En nie net die skool nie, maar ook die dorp het oor die jare ’n goeie naam opgebou. In die stad jaag almal mos verby mekaar. Hier werk dit nie so nie. Dis ’n besonderse gemeenskap dié, die mense gee om vir mekaar.”
Mossie meen die skool, en veral die twee koshuise, het in die laat jare sestig en vroeg sewentig ’n groot hup stoot gekry toe baie van die mense wat by die dam se bouwerk betrokke was, hulle kinders hierheen gestuur het.
“Maar jy weet, deesdae is daar baie mense wat sukkel en nie altyd die koshuisgeld kan bybring nie.” Die skool het darem drie busse om kinders uit die distrik hierheen te karwei, anders ry die ouers maar self.”
Soos met die meeste boeregemeenskappe is die mense nie skaam om agter die stuur in te skuif nie. “Ons skiet sommer gou op ’n Sondag deur Gariepdam toe vir ’n sundowner,” sê Maretha Smit, eienaar van die Kingsmanboetiekhotel wat ’n jaar gelede sy deure geopen het. “Ons het nou dalk nie die mooi uitsigte van die dam hier nie, maar hierdie plek se mense, jong, dis baie spesiaal.” Maretha besit ook die Zetanagastehuis op die dorp, wat in 2015 ’n provinsiale wenner was in die Lilizelatoerismetoekennings.
“Toerisme is besig om aan die gang te kom hier. Baie mense ry deesdae hier deur van die dam se kant af. >
Maar baiemaal as ek iets aanlyn probeer bestel, weet mense nie waar Burgersdorp is nie.” Sy lag. “Maar dis mos nou nie iets om oor te kla nie.”
Ja, kla is nie juis iets wat Burgersdorp se mense doen nie, al hoor jy af en toe ’n halfhartige gemor oor swak dienslewering, slegte paaie en sporadiese misdaad. Mense weet wat hulle in dié plek het. En ja, hulle maak grappies daaroor: In Februarie kla die boere glo die heel minste, want dit is die kortste maand van die jaar...
“Ons is baie gelukkig om hier te kan woon,” som Jacques van der Linde, eienaar van die restaurant Nunu’s in die middedorp, dit op. “Alles werk, dis lekker mense, die skole is great. En die laaities speel kwaai rugby hier. Het jy geweet die Springbok-losskakel Johan Goosen was hier op skool?”
Jacques en ’n paar ander manne van die bodorp het onlangs ’n buurtwag begin. “Maar daar’s nie veel vir ons om te doen nie,” sug hy. Gelukkig bly mense op ander maniere besig: Hier’s ’n aktiewe rolbal-, tennis- en gholfklub. En die boereverenigings in dié geweste staan ook sterk.
Laatmiddag vertel Thandokazi Makhuthu voor Unique FM se ateljee in Van der Waltstraat sy bestuur al meer as ’n jaar lank dié gemeenskapsradiostasie waar jong mense die kans kry om programme aan te bied. Hulle speel enigiets van jazz tot kwaito en bespreek gemeenskapkwessies in Xhosa, Afrikaans en Engels.
Hoe ervaar die jong klomp die dorp se apartheidsverlede? Weet hulle die Broederbond is hier gestig? Thandokazi se oë vernou vir ’n oomblik, dink sy word geterg. Dan bars sy uit van die lag. “Nee man, waarvan praat jy nou? Daai dinge is mos lankal verby!”
Ek stap vir oulaas ’n draai by die kerk verby. Hier duskant die pad dorp uit, sien ek nou, vir die eerste keer, staan nog ’n sleg verroeste ou padwyser met ’n pyltjie wat lui: Verwoerddam. Dis seker maar ’n glips aan die munisipaliteit se kant.
Wie weet, dalk gee dít die mense iets om oor te kla.