Laat ’n mens dink
Plaasmoorde is ’n tragedie wat besig is om die platteland voor ons oë verswelg. Uiteindelik is daar net een oplossing vir dié probleem, sê Chris Burgess.
Saamstaan is ál uitweg vir Suid-afrika se plaasmoordtragedie, skryf Chris Burgess
Die mees onlangse slagoffer van ’n plaasmoord wat ek geken het, was Ruben Gouws, ’n onbaatsugtige alleenloper en 65-jarige skoolhoof van die piepklein Hoërskool Ida in die noorde van die Oos-kaap. Hier, in die voetheuwels van die Drakensberg, het hy in sy loopbaan van 40 jaar die lewens van honderde kinders geraak. Net af in die pad het hy op die familieplaas gewoon saam met sy ma, die 88-jarige tant Hermien. Hier het hy sy skouhoenders vertroetel, antiekmeubels versamel en Sondagaande met ’n glasie rooiwyn na die klassiekemusiekprogram op RSG geluister.
Ruben se ander groot bydrae in dié afgeleë gemeenskap was die winkeltjie wat hy bedryf het. Dit was ’n noodsaaklike diens, en die mense van die kontrei, wat hom liefderik Tshutsu genoem het, het staatgemaak op hom.
Een Saterdagmiddag terwyl hy besig was om die winkel te sluit nadat hy ’n gogo gehelp het wat tee en suiker nodig gehad het, het drie jong mans op die stofpad verbygekom. Hulle het gesien hoe Ruben by die plaashuis se agterdeur vroetel. ’n Halfuur later was Ruben en sy ma dood.
Hulle buurman Trevor Stotter het op hulle afgekom. Hy het gaan ondersoek instel nadat Ruben nie die aand op die radionetwerk van hom laat hoor het nie. Voor 20:00 is al drie verdagtes aangekeer deur die woedende swart gemeenskap – die polisie het net betyds hulle lewe kom red. Twee van hulle was voorheen leerlinge van Ruben.
RUBEN IS EEN VAN 12 MENSE wat ek persoonlik geken het – wit én swart – wat die afgelope 15 jaar wreed op plase gesterf het. Die redes, stories agter die stories en verduidelikings daarvoor wissel. Maar almal het plaasgevind op ons lieflike dog gebrutaliseerde platteland, waar townships aan die buitewyke van klein dorpies steeds danksy belastingbetalers se vrygewigheid groei. Rondom die dorpies is die boere aan die afneem omdat hulle in ’n wêreld van papierdun winsmarges sukkel om kop bo water te hou, en heel dikwels is die enigste manier maar om jou bure uit te koop en op groter skaal te boer.
In dié landskap is Ruben se naam net nóg een in ’n golf van hartverskeurende aanslae op plaasgemeenskappe, ’n golf wat die eggo’s demp van tragedies oor die eeue heen. Die eerste stelselmatige uitwissing van Khoikhoi-veeboere deur die vroeë Hollandse beesstropers wat opdrag gehad het om kos te voorsien aan verbygaande handelskepe. Die gruwel van die Mfecane, wat groot dele van die land laat brand het. Die uitwissing van Boesmangesinne wat deur swart én wit gejag is, totdat die laaste paar oorlewendes as gebroke mense na onherbergsame woestyne teruggetrek het.
Die Brit kol. John Graham se volskaalse oorlog teen die Xhosas waarin nie net mans hulle lewe verloor het nie, maar ook vir die eerste keer huise, oeste en lewende hawe verwoes is. ’n Voorsmaak van die apokaliptiese verwoesting wat gevolg het op die tienerprofetes Nongqawuse se opdrag dat die Xhosas al hulle beeste slag – ’n daad van selfopoffering wat die voorvaders glo sou beloon deur die wit mense in die see te jaag.
Daarna is die bordjies verhang toe ’n gefrustreerde lord Kitchener, wat net nie die Boerekommando’s kon neutrali- seer en ’n einde bring aan die verlammende oorlog nie, met sy hartelose verskroeideaardebeleid vorendag gekom het. Tienduisende vroue en kinders het in konsentrasiekampe omgekom, en die mans het ná jare se oorlogvoering teruggekeer na totaal verwoeste plase – en geslagte van skaarste en woede.
Twee geslagte later het dié erfgename van lord Kitchener se onreg op hulle beurt die erosie van miljoene plattelandse lewens voortgesit met die lankgevestigde burokrasie van trekarbeid. Gesinne is uitmekaar geruk, iets wat gelei het tot die huidige gruwel in SuidAfrika waar die meeste kinders sonder ’n pa in die huis grootword.
Ná al dié hartverskeurende gebeure is die vlaag van plaasmoorde, wat dikwels ook gepaardgaan met sinlose geweld, byna ondraaglik.
SOOS MET ENIGE TRAGEDIE word plaasmoorde deur statistieke gedefinieer. Daarom weet ons dis vandag gevaarliker om ’n boer te wees as ’n polisiebeampte. Sedert 1990 is 1 903 plaasmoorde gepleeg in 4 353 plaasaanvalle. Van die slagoffers was 1 229 boere, 498 boervroue of naaste familie, 152 plaaswerkers en 24 ongelukkige besoekers. Net vanjaar was daar al 239 aanvalle wat gelei het tot 47 sterftes – die vinnigste jaarlikse tempo waarteen boere vermoor word sedert 1990.
Dat ons hoegenaamd dié syfers het, is danksy die toewyding van die Transvaalse Landbou-unie. Die polisie hou nie meer statistieke oor plaasaanvalle nie, ondanks ’n onderneming deur oudpres. Nelson Mandela dat hulle dit wel sal doen. Maar dan het Madiba verstaan watter tol die moorde eis op
’n bedryf wat meer werkgeleenthede in sy waardeketting skep as enige ander.
In die vakuum van amptelike ondersoek oor waarom dié aanvalle plaasvind, vlieg die bespiegelings behoorlik. Daar’s beskuldigings van onverantwoordelike politiekery wat die slagting veroorsaak, ongetwyfeld met ’n element van waarheid. Aan die ander kant is daar beskuldigings dat dit die brutaliteit van die boere teenoor hulle werkers is wat lei tot vergelding, dalk ook met ’n element van waarheid. Navorsing toon dat ’n skamele 1,25% van alle plaasmoorde verbind kan word met gespanne arbeidsverhoudinge. Dit klink byna pervers, maar as dit maar die rede was, sou ons geweet het waar die oplossing lê.
Maar die meeste mense is onseker oor waar om te begin soek in hulle gewonde gemeenskappe. Daarom ruk boere elke jaar in Mei op na die hoogtempel van boerdery: Nampo, die grootste landbouskou in die Suidelike Halfrond, net buite Bothaville in die Vrystaat, in die hartjie van die mieliestreek. Hier is drie strak pilare die stille getuienis van die slagting op ons plase. Dis opgerig en word onderhou deur die Hennenmanse boerevereniging.
Hier, in die see van hipertegnologiese boerderytoerusting en wapperende promosiebaniere, kom voeg boere die name by van kennisse wat die afgelope jaar vermoor is – op stukkies papier wat hulle aan die granietblaaie vasplak. Hier buig hulle vir ’n oomblik die hoof voor hulle tussen die lugdruksaaimasjiene, stropers en balkspuiters verdwyn. Spoke. Tot volgende jaar.
PLAASMOORDE HET DIE MITE dat ons platteland ’n landelike toevlugsoord is, finaal laat verbrokkel. Weg is die onskuld van die platteland van my jeug, dít wat ’n mens in die Landbou
weekblad en Farmer’s Weekly van die jare sewentig en tagtig gesien het. Die optimisme van trotse boere met ligblou safaripakke by die Royalskou in Pietermaritzburg, die briljante prof. Jan Bonsma wat sy bonsmarabeeste in die Bosveldstof geteel het.
Vandag het daardie optimisme verander in ’n realisme met skerp kante. In Noordwes, waar daar ’n onrusbarende toename in plaasmoorde is, het boere begin mobiliseer op ’n skaal wat ’n mens laas gesien het met die Rhodesiese bosoorlog van die jare tagtig. Maar dié slag met beter tegnologie. Buiten elektriese hakiesdraad, geslote Whatsappgroepe en Israeliese selfverdedigingskursusse vir die hele gesin sal ’n enorme hommeltuig die Schweizerrenekeboerevereniging help om die distrik se plase te patrolleer.
Die landelike veiligheidsplan wat oudpres. Thabo Mbeki beloof het die kommandostelsel sou vervang, het misluk. Ondanks toewyding wat ’n mens hier en daar by individuele polisiebeamptes sien, word die staat nie meer as ’n betroubare vennoot beskou nie. En as die ergste gebeur, soos vroeër vanjaar op Coligny toe ’n staking oor dienslewering ontplof het tot ’n volslae rasseherrie, aangeblaas deur gewetenlose politici, is dit boere wat kalmte bring. Hulle het op die dorp opgedaag en saam met die dorpsmense – sonder polisiebegeleiding – die regse elemente van buite hoflik gevra om liefs huis toe te gaan. Dit kon veel erger gewees het, maar dit was nie, danksy gewone mense wat die regte ding gedoen het.
ELDERS HET NOG GEWONE MENSE genoeg gehad. Toe dr. Bennie Cilliers en sy vrou, Cecilia, op hulle plaas by Rouxville vermoor is, het van sy swart pasiënte per bus van so ver as Lesotho af gereis om hulle laaste eer te kom betoon en die Cilliersfamilie in die hof te ondersteun – en hulle het geëis die beskuldigdes mag nié borgtog kry nie.
Toe tant Ralie en oom David de Villiers op hulle plaas by Barklyoosvermoor is – hulle gestremde seun, Dawie, het die aanval netnet oorleef – het die swart gemeenskap dae lank buite die hof betoog en geëis dat die verdagtes aan hulle oorhandig word sodat hulle met hulle kan afreken. Sulke tonele van ’n gemeenskap wat saamstaan, is iets wat ’n mens al hoe meer sien. Vandag nog maak die De Villierse se dogter en skoonseun, Christina en Johan Olivier, albei mediese dokters, seker die hospitaal op Barklyoos bly een van die bestes in die provinsie.
Op ander plekke het dié toename in solidariteit onder alle rasse en klasse nie net woede nie, maar ook optrede tot gevolg gehad. Op Wakkerstroom het een van ons leierboere, B.P. Greyling, sy gemeenskap omvorm tot ’n burgermag wat 80% swart is en onder die landelike staatsveiligheidstrukture val. Kompleet met ’n gewapende reaksiemag wat enige misdaad – ja, ook ’n paar gefnuikte plaasaanvalle – met welslae opvolg. ’n Hedendaagse Coenraad de Buys op wie se grasperk die helikopters van elke polisieen weermaggeneraal sedert die aanbreek van die demokrasie kom land het om hulle tevredenheid uit te spreek met sy werk.
Op die dorpie Elliot sien ons die begin van ’n sonderlinge vennootskap tussen boere en taxibestuurders, met Roeland de Vries, ’n begaafde gemeganiseerde militêre bevelvoerder wat ná sy aftrede teruggeroep is om ’n oplossing te probeer kry, as bemiddelaar. Nou wend jong boere hulle tot taxibestuurders as hulle skape weens veediefstal verloor.
En 20 km na die weste toe is die gemeenskap ook deur Ruben se dood byeengebring. Kommersiële boere, wit en swart, en gemeenskapsboere van die ou Transkei vergader nou gereeld en het onlangs ’n veediefstalsindikaat aan die pen laat ry. Trevor, wat op Ruben en tant Hermien se liggame afgekom het, meen die swart gemeenskap is die hardste getref deur die moorde.
Vir Mondi Gebo (39), wat sedert 2001 vir Ruben werk en steeds op die plaas woon, bly die herinneringe rou. “My hart pyn nou nog. Ek mis Tshutsu elke dag. Hy was my pa. Sy ma my ouma.”
Ons sal sáám hierdie monster moet pak. Net dan staan ons ’n kans. En buitendien, dis wat Ruben sou wou hê.
‘Sulke tonele van ’n gemeenskap wat saamstaan, is iets wat ’n mens al hoe meer sien [...] Op ander plekke het dié toename in solidariteit nie net woede nie, maar ook optrede tot gevolg gehad.’