180
J.G. Strijdom-tonnel: die uitsig
Frans Rautenbach raak liries oor die J.G. Strydom-tonnel se uitsig º
Vir sy brood en botter is hy in Kaapstad advokaat en arbeidskenner, en tussendeur skryf hy boeke oor die Krugerwildtuin en oor die toekoms van Suid-afrika. Maar Frans Rautenbach se hart lê van kleins af elders... Ons is vanoggend al vóór vyf uit Johannesburg weg. Om oom Daantjie se jongste aankoop, so ’n parmantige rooi Jeep, plaas toe te neem. By die noordelike bek van die J.G. Strijdom-tonnel beduie die grootmense ons trek eers af.
Die bande rol knarsend oor die gruis; kom tot stilstand. Skielik is dit só stil jy hoor jou ore suis.
Links loop ’n streep teen die berghelling af, so reguit soos ’n argitek se liniaal, tussen die suikerbosse en kiepersolle van die Hoëveld, en die knop- piesdorings, haak-en-steke, maroelas en jakkalsbessies van die Laeveld.
Regs verrys rooi en oker kranse uit die ruie kreupelbos aan die Drakensberg se voet, die hellings oortrek met aalwyne, tot doer onder waar dit in die doringruigtes van die vallei verdwyn. Waar die son nog nie bygekom het nie, stuif die klank van ’n verdwaalde beesklok teen die steiltes op; die ritmiese gekoer van duiwe.
Onder kronkel die Olifantsrivier blink verby op sy pad na die Mosambiekse kus – wit golfies wat oor rooibruin klippe kabbel. En voor ons, met hier en daar die skokrooi van ’n koraalboom, die spatselpers van ’n jakaranda of heldergroen van ’n tamatietuin, strek die wintersveld tot by die horison.
“Dáár,” laat oom Daantjie van hom hoor, “lê die Bosveld.”
Frans Rautenbach is die skrywer van Verkyker, grondpad en kaart – Jou Krugerwildtuingids. Sy jongste boek, South Africa Can Work, het pas by Penguin verskyn.