Bietjie baard, maar klipsteenhard
Baardskeerdersbos, ’n eens kwynende Overbergse gemeenskap met ’n kookwater boereorkes, boer weer vooruit danksy ’n netjiese teerpad, ’n suksesvolle kunsroete en ’n jolige plaasmark een keer per maand.
Dis nie aldag dat ’n 83-jarige weduwee aan jou voorgestel word as “die gevaarlikste vrou op die dorp” nie. Maar knap ná tien op ’n Maandagmôre steek dié einste “booswig” haar hand na jou uit en sê liefies: “Mara Groenewald, aangename kennis.”
Ondanks etlike waarskuwings voor die tyd – en haar oë wat net ’n aks té ondeund vonkel – dink jy nie vir ’n oomblik jy gaan drie en ’n half uur later eers by die minsame tant Mara wegstap nie. Stéier is waarskynlik ’n beter beskrywing, want ná vier “ou witblitsies” soos hulle dit in dié kontrei skink, is dit neusie verby met reguit kyk – laat staan nog reguit strompel.
In hierdie kombuis, vertel tant Mara, het haar man, Manie Groenewald, die leier en hoofsanger van die Baardskeerdersbos-orkes wat sy stem nes ’n konsertina kon laat wurm, saans die voortreflikste boeremusiek gemaak saam met die ander vyf lede van die orkes. Maar in dié huis het oom Manie op 20 Augustus 2015 ook sy laaste asem uitgeblaas – nog een van die “ou” B’bossers wie se afsterwe meewerk om vanmelewe se dae nóg vinniger die vergetelheid in te stuur.
By die kombuistafel het Henry van Wyk, tant Mara se butler (sy noem hom grappenderwys haar “boyfriend”), vyf minibierbekers reggesit wat elk omtrent vier of vyf sopies kan sluk. In opdrag van tant Mara vul hy elkeen tot bo met die berugte “helende waters” wat al donkiejare in hierdie kontrei gedrink word. Henry sny ’n minneolaagtige lemoen in skywe, sit ’n stuk sitrus op elke witblitsglasie en sprinkel laastens ’n teelepel bruinsuiker oor.
Tant Mara sit gereed met ’n mes. Terwyl sy klets, doop sy die punt van die mes in die witblits en laat ’n paar druppels op die hopies bruinsuiker val. Só begin daar naderhand ’n bruin stroperigheid van sap, suiker en witblits onderin elke drankie vorm.
“Nou toe, kêrels,” sê tant Mara ná ’n kwartier van drup-drup-drup, lig die eerste bekertjie en verklaar: “Hy lyk vir my reg om te gooi – of hoe lyk hy vir julle? Nou maar toe: Gesondheid!”
Henry grinnik: “Laat hy val – of brand – waar hy wil!”
Aan die kop van die tafel slaan tant Mara-hulle se buurman, die kunstenaar Ivan Trollip, die helfte van sy glasie weg en gee ’n senuagtige laggie: “Boy oh boy,” sê hy, sy oë pieringgroot, “just don’t say we didn’t warn you!”
“DIE ANUS VAN HERMANUS” – só het die hovaardiges van die Overberg nog tien, twintig jaar gelede na Baardskeerdersbos verwys. Tóé was die verpotte plekkie met die aardige naam nog ’n ongerepte, salig sluimerende dorpie langs ’n grondpad wat die haaihoofstad Gansbaai met die sendinggemeenskap Elim en Bredasdorp verbind het.
So gemaak en so gelaat staan, het die neusoptrekkerige tipes oor B’bos se “sout-van-die-aarde” siele gesê. Gasvry, ja, maar róf. En onbeskof. Selfs agterlik, jy weet, met skeeloog- en snotneuskindertjies wat vir kwaadgeld op die hoeke rondstaan...
Dis dié soort kafpraatjies wat tant Mara se bloeddruk terstond die hoogte in laat skiet. “Dis nie hoe ék B’bos ken nie – en ek het al in 1959 hier geland toe die huise nog nie eens elektrisiteit óf binnetoilette gehad het nie! Vandat die tydskrif Personality destyds ’n beledigende artikel oor die dorp geskryf het, is die meeste van ons ouer garde maar lugtig vir mense met verskuilde agendas,” knor sy. En sy verwys nou spesifiek na besoekers en joernaliste wat nie oop kaarte speel terwyl hulle dit gate uit geniet op die dorp nie, en dan soos tweegatjakkalse by die huis of “in die koerante” gaan galbraak, sê tant Mara.
Met die groeiende stroom inkommers en kunstenaars wat deesdae hier nesskop, het sy glad nie pyne nie. “Nuwe bloed is nuwe bloed en verander moet ’n plek mos verander – verkieslik ten goede, soos ek meen hier die geval is.”
In wyle Eben Benade se boek >
Baardscheerders Bosch – Pieke en kro
nieke 1652-2004, wat Linda Woods, sy suster, drie keer moes herdruk (dis tans wéér uit druk), skryf hy die dorp het teen 1940 omtrent 250 inwoners gehad, 70 woonhuise, ’n NG kerk, ses sakeondernemings en ’n skool met 120 kinders. Maar volgens die 2011sensussyfers het die inwonertal oor die jare gekrimp tot 103, van wie 90% spierwit is. (B’bos het nog nooit ’n township gehad nie.)
Die onnutsige tant Mara, wat steeds kook en inmaak vir ’n vale, onthou die dorp was eens oortrek met vrugtebome en wingerde en groentetuine waar met veral uie, aartappels en patats geboer is. Hier was ook ’n stuk of nege wynkelders en vyf stookketels in die distrik. Hoewel witblits steeds ’n belangrike deel vorm van die plaaslike kuiertradisies, is die kontrei deesdae meestal bekend as veldblom-, suiwelbees-, skaap- en heuningwêreld.
Baardskeerdersbos is een van daardie plekke waar jy iedere seisoen in sy vol- heid ervaar: Die somers is helwarm en droog met ’n suidooster wat kers vashou by sy befoeterde neef in die Kaap; die winters is koud, hopelik nat, en sorg vir ’n kleureskouspel van proteas en fynbos. Maar, vertel die inwoners jou, die geilgroen lente en loomwarm herfs is éintlik die beste tyd om hier te kom asem skep en jou te verluister aan die komieklike kontreistories, soos die een oor die familie wat beurte maak om dieselfde stel kunstande te dra. Of wat van pragtige sêgoed soos “sy gat is so plat soos ’n possak met net een brief in” of “sy is so slim soos ’n boom vol uile”, en nog ’n varia skrousnaakses wat te skurf is vir publikasie.
Tipies platteland kry de laaste afstammeling van B’bos se oorspronklike families ’n bynaam om hulle te onderskei. Op die stene in die begraafplaas gewaar jy veral Groenewald, Fourie, De Wet, Benade en Swart, maar hier praat hulle van die Groenboontjies, die Kese, die Witbroeke, die Katjies, die Balies, selfs van ene Johan Fokoppie...
Met die invloei van nuwe bloed (en smaak) is huise op die dorp deesdae ’n argitektoniese allegaartjie, om dit sagkens te stel, en talle van die ouer bousels verkeer in ’n staat van “sjarmante verval” – presies soos restourasiehonger inkommers daarvan hou. Nietemin is hier steeds fraai stofstrate en groot, oop erwe en kleinhoewes waar hoenders, skape, perde, honde en manjifieke bloukraanvoëls lanterfanter – party van die erwe het sowaar nog leiwaterbeurte.
MAAR NOU IS DAAR nóg ’n nuwigheid wat kop uitsteek op Baardskeerdersbos: misdaad. Darem niks ernstigs soos moord of verkragting nie, keer almal gou – dit was immers net ’n paar inbrake wat die gemeenskap verras het, en hulle het blitsig ingespring en self iets aan dié neteligheid gedoen.
Die ou inwoners én heelwat van die inkommers glo die “misdadige elemente” kom van buite en is een van die “euwels” wat volg nadat die >
R43grondpad tussen Gansbaai en Bredasdorp in 2015 ’n teerpad geword het. Die teerpad blyk ’n tweesnydende swaard te wees, want dít en die Baardskeerdersboskunsroete wat twee keer per jaar aangebied word, sit agter die opbloei in die dorp, wat nou ook spog met ’n maandelikse mark wat besoekers van heinde en ver lok (sien bl. 34).
Die kunstenaar Niël Jonker, wat al 10 jaar hier woon en een van die stigterslede van die Baardskeerdersboskunsroete is, het self deurgeloop onder inbrekers en in die proses onder meer al sy foto’s van sy dogter, Emily, verloor.
“In die jare toe my borshare nog gegroei en ons nog ’n grondpad gehad het, was dit in die winter partykeer ’n moddernagmerrie om hier uit te kom om by pêlle of by Marietjie’s Pub & Grill te kom kuier,” onthou hy.
Só plesierig was dié besoeke dat Niël in 2005 ’n “ongeverfde wrak sonder ’n plafon” op ’n erf vol kikoejoe gekoop het. Hy het besluit om dadelik ’n groot bakoond te bou – ’n ander soort “kuns” wat hy in Amerika gaan leer het by wyle Alan Scott, wat allerweë as die vader van die baksteenoond beskou word en medeskrywer is van die bakenwerk The Bread Builders – Hearth Loaves and Masonry Ovens. Hoewel Niël die afgelope jaar of drie op sy beeldhouen skilderwerk fokus, bied hy steeds elke maand sy tweedagsuurdeegbroodkursus aan wat saamval met die plaasmark op die laaste Saterdag van die maand waar van die kursusgangers se brode dan verkoop word.
Dit is ook Niël wat daarop aandring dat Platteland ’n draai moet maak by die brawe Vingerhoetsgesin wat die afgelope vier jaar “klippe kou” in ’n poging om selfvolhoubaar te leef op hulle 8 hakleinhoewe wat hulle (met hulle tong – én hulle van – stewig in die kies) Foxglove gedoop het.
“ARE YOU HERE to meet the B’bos hillbillies?” grynslag ’n gestewelde Sue Vingerhoets, wat laatoggend op die Sabbat reeds van toon tot kop met gryswit kleispatsels bemors is. “Verskoon tog hoe ek lyk... ek’s besig om in die bad daar oorkant klei en water te trap sodat ek dit tussen die strooibale kan indruk,” sê sy en wys na ’n reusestaalraamstruktuur ’n entjie weg van die woonwaens, tente en vragskiphouer waarin sy, haar man, Jan, en hulle seun, Max, sedert September 2013 woon. Oral staan emmers en ander houers rond waarin hulle de laaste druppel water opvang om die groentetuin midde die droogte aan die gang te hou.
“Ek weet dit lyk dalk nie so nie, maar ons gaan hopelik vanjaar nog intrek in dié strooibaalhuis wat ons self bou. Daar kom wel af en toe buitelandse vrywilligers help met die bouwerk en die versorging van die diere,” sê sy.
Dis reeds vier jaar sedert hulle die groen lig van die Overbergmunisipaliteit gekry het om die fondament te grawe, en steeds byt die gesin Vingerhoets vas, totaal kompromieloos in hulle soeke na ’n selfvolhoubare, selfversorgende lewe sonder die munisipaliteit se water of Eskom se krag.
Sy het in Durban grootgeword, sê Sue. Argitektuur geswot en 25 jaar gelede in San Francisco vir Jan ontmoet. “Hy het as drukenjintegnikus op die oliebore en later as rekenaarprogrammeerder gewerk. Ek was op die punt om op ’n seiljag weg te vaar toe hy vra: ‘Please stick with me.’ Ek het... en die volgende jaar is ons getroud.” >
In 1997 het hulle teruggekeer na Suid-afrika omdat hulle gevoel het hulle kan hier ’n verskil maak. Sue, wat haarself as “totaal ongeskik vir werk” beskryf, het ’n organiese kos-enkoffiewinkel, ook Foxglove, in Kyalami, Johannesburg, begin en Jan het by ’n energiemaatskappy gewerk wat gas vervaardig uit afval wat vir die opvullingsterrein bestem is.
’n Soortgelyke energieprojek het hulle later Riversdal toe gelok waar Sue ’n groentetuin geplant en ’n tyd lank erfenissaad vir Livingseeds gekweek het. Administratiewe rompslomp het egter Jan se energieprojek in die wiele gery, en nie lank daarna nie het hulle op aanbeveling van sy ouers na dié eiendom op B’bos kom kyk...
Die lewe hier saam met 4 katte, 3 honde, 27 henne en 4 hane (laasgenoemde gaan gereeld pot toe) is nie maklik nie. Hulle doen de laaste tydsame taak self en het geruime tyd vir Max tuis onderrig. Nadat hy ’n tyd lank op Hermanus op skool was, gaan hulle nou voort met die tuisonderrig.
Jan, wat dit verafsku om enigiets weg te gooi, maak deesdae funksionele beeldhouwerke met afvalgoed, terwyl Sue Saterdae afsit na die kosmark op Stanford waar sy van hulle groentesaad, kerrie- en rissiesmere, konfyt, hoendereiers en heuning verkoop.
Sue lag. “Niemand het gesê dié lewe gaan máklik wees nie – en dit is nie. Maar dis nie naastenby so abnormaal en angstig soos die lewe in die stad nie. Eers as jy daar weg is, val die skille van jou oë af. Jy staan een oggend op en besef in die meeste mense se boekies het jy dalk niks nie of baie min, maar terselfdertyd weet jy jy het in jou lewe nog nooit so diep asemgehaal nie. Vir óns is dit meer as genoeg.” >