Op soek na die Karoo se juwele
Wat doen jy as jy soos Magriet Theron ’n internetwinkel op die been bring wat tweedehandse meubels verkoop? Jy vaar die Karoo binne met jou kamera en ’n groot sleepwa en fynkam dié mooi wêreld vir ougoed wat ’n tweede lewe verdien. Albertus van Wyk vertel
Hier kan jy asemhaal!
Hercules du Toit was ’n motorwerktuigkundige op Nigel, maar moes daar padgee omdat hy allergies was vir iets in die lug. Sy dogter het vasgestel Calitzdorp het die skoonste lug in die land – omdat hier soveel spekbome groei.
Hy het sy ma se liefde vir oudhede geërf en daarom besluit om hier ’n winkel te kom oopmaak. “Vir die eerste keer in my lewe asem ek nou skoon lug in, en ek is al jare nie meer op medikasie nie,” sê hy.
Sy groot liefde is sy versameling van meer as 3 000 Dinky Toys en Linnwareen Kalahari Ware-keramiek wat hy en sy oorlede vrou versamel het. Sy winkel staan vol pragtige meubels, maar teen die tyd dat ons daar verby is, was ons waentjie vol – en die kitty al bra leeg.
Omtrent ’n jaar gelede kondig my vrou, Magriet, aan sy gaan uit haar werk as joernalis by ’n gemeenskapskoerant bedank. “Wat gaan jy doen, Magriet?” vra ek met ’n stemtoon wat geamuseerd oorkom, maar eintlik is dit net om ’n angsaanval te kamoefleer. “Ag, so ’n bietjie van dié, so ’n bietjie van dáái – moenie jy
worry nie,” sê sy en waai met haar lang vingers asof sy my liggelowigheid by die agterdeur kan uitvee. Maar ek worry in elk geval. Saam bedink ons ’n (effens twyfelagtige) plan wat behels dat sy vier of vyf klein ondernemings aan die gang kry wat elkeen R5 000R6 000 per maand moet inbring. Één daarvan is ’n aanlynwinkel wat tweedehandse meubels verkoop wat tussen die jare veertig en sewentig gemaak is, stukke wat in advertensies “Midcentury atomic furniture” genoem word. Of sommer “retro”: alles wat oud is, maar nog nie “antique” nie. Dis meubels wat ’n snaar roer by nostalgiese siele wat daarmee grootgeword het.
Ek sukkel om my vermoede te onderdruk dat ons naïef is en bloot een keer te veel American Pickers en Pawn Stars op televisie gekyk het, maar wat, ons sal nooit weet as ons nie die kans vat nie. Enkele maande later staan die winkel: ’n lendelam webwerf met ’n paar stukkies voorraad. Maar hy het al vier die ander onderneminkies van die pad af gery.
In Julie laasjaar verbeur ek ’n lomerige Bosveldwintervakansie en huur ’n rammelrige sleepwa by een van daai “R240 a day”sleepwaplekke, en ek en Magriet en twee van ons drie kinders vaar die Karoo binne om te gaan meubels soek. Vir die shop.
Gaan kyk gerus by huisraad.myshopify.com wat alles in Magriet se“lendelam”winkel beskikbaar is.