Vlug na Fiela se vallei
Al lê De Vlugt net 55 km noord van Knysna, gaan ’n rustige rit deur ’n wonderskone woud- en berglandskap jou in ’n gewone motor ongeveer ’n uur en half neem.
Die plaas De Vlugt is reeds in 1771 geproklameer, maar die dorpie, wat aanvanklik Edmonton genoem is, het eers ontstaan nadat Thomas Bain en sy gesin van 1863 tot 1867 daar gebly het om die deel van die pas van De Vlugt tot op Avontuur te voltooi.
Een van die werkers in Bain se span was Selling Komoetie, wederhelf van Fiela Komotie, wie se verhaal vertel word in Dalene Matthee se roman
Fiela se kind. In die roman stap Fiela van Avontuur af paslangs tot by die magistraatskantoor op Knysna om haar seun se identiteit te bevestig. (Twee bouvalle van huise waar van Fiela se ander seuns na bewering gebly het, is nog te sien, en van die Komoetie-afstammelinge se grond op De Vlugt is tans in die mark.)
Sowat 12 boere het hulle mettertyd in die vallei gevestig, en teen 1900 het De Vlugt gespog met ’n skool, herberg, winkel en slagter. ’n Poskantoor het gevolg, en met die koms van motors ’n dekade of twee later het die dorpie ook ’n petrolpomp gekry.
Omdat die Poort-, Jaggakamma- en Kwaairivier almal by De Vlugt by die Keurboomsrivier aansluit, het verskeie vloede, vernaam in die jare dertig, die vrugbaarste bogrond in die omgewing weggespoel en boerdery onekonomies gemaak. Die dorp het stadigaan gekwyn en in die vroeë jare sestig het die skool sy deure gesluit.
Ry die pas
Thomas Bain en sowat 250 krygsgevangenes het in 1860 met bouwerk aan die Prins Alfredpas begin en die projek in Mei 1867 voltooi. Die pas, wat 70 km lank is en tot 1 040 m bo seespieël klim, volg ’n ou voetpaadjie wat deur vroeë inwoners en die olifante van die Knysnawoud gebruik is om hulle kleintjies na die sonnige Langkloof te neem wanneer die woud te nat was.
Die pas is genoem na die tweede seun van koningin Victoria wat in 1867 die bouprojek kom inspekteer het op ’n besoek aan Knysna om olifante te jag. Vandag, 150 jaar nadat die pas voltooi is, het min verander. Swaar reën het ’n paar keer herstelwerk genoodsaak en in 1930 is die stinkhoutbalke van die brûe in die Poortgedeelte met beton vervang en ’n laagwaterbrug by De Vlugt gebou. • Lees meer Prince Alfred’s Pass – Spectacular and Diverse, self uitgegee deur Ilse Meyer, vrou van Katot Meyer van die Pietersrivier-natuurreservaat, waar jy met ’n 4x4 in die botanis William Burchell se ossewaspoor kan ry.
pnaturereserve.co.za 044 272 0014
Stop by die padstal
Die Plaaskind-padstal is ’n gawe benerekplek as jy die Prins Alfredpas ry. Loer in die yskas vir Witteberg se besonderse heuningbos-ystee (die appelgeur is uit die boeke) asook flessies heerlike bokmelk-labnehbolletjies wat op ’n plasie ’n klipgooi van die padstal af gemaak word. Die ander rakke kreun onder pakke beskuit en koekies, flesse heuning, konfyt en ander ingemaakte produkte, handwerk en tweedehandse snuisterye soos >
ou skale, lanterns en Springbok- en ander langspeelplate.
Jy kan buite onder die stamvrugboom aansit en ’n plaasontbyt, koek of tert, ’n toebroodjie, koedoe-, hoender-, skaap- of pepersteakpastei, hamburger, hotdog, lasagne, slaai, steak-en-tjips of pizza (slegs in die hoogseisoen) bestel.
dieplaaskindpadstal@gmail.com 044 752 3025 (los ’n boodskap)
Bly oor inthomas Bain se huis
Die huis op De Vlugt waar Thomas Bain, sy vrou, Johanna, en hulle gesin van 1863 tot 1867 gewoon het, staan op 26 ha grond wat Danie en Linda van Rooyen, ouers van Adri van die padstal, ’n paar jaar terug gekoop het.
Gegewe sy ouderdom (en die spotgoedkoop tariewe) bied die huis verbasend skaflike oornagverblyf. Dringende restourasiewerk is egter nodig, en daarom het die Van Rooyens ’n klompie maande gelede aansoek gedoen om provinsiale erfenisstatus met die hoop om fondse vir dié groot taak te bekom.
Platteland het twee nagte in Bain’s Cottage oorgebly (opsionele ontbyt by Die Plaaskind-padstal net ’n hanetreetjie weg ingesluit) en meen die huis gee besoekers ’n goeie idee van hoe die lewe was in Bain se tyd. Dit is ’n outydse, eenvoudige dog baie huislike en atmosfeerryke oornagplek waar jy jou verwonder aan die oorverdowende stilte (afgewissel met die gekraak van die geelhoutvloere), dik mure, kerse, paraffien- en gaslampe, ’n lieflike kool- en gasstoof in die kombuis en outydse gehekelde kleedjies op die bedkassies. Daar is slaapplek vir ’n klein leërskare, maar net een badkamer buite op die voorstoep met ’n toilet, wasbak en ’n (effens onvanpaste) versonke bad.
In die besoekersboek sing die meeste besoekers lofliedere, maar vir ’n paar opregte stadsjapies was die selfoonlose stilte, donkerte en “outentieke spokerige atmosfeer” ’n aks te veel... (Wat die “gespook” betref: Alice Mary Bain, een van die pasbouer se kinders, het op 24 Mei 1865 buite die huis gesterf nadat sy voor ’n kwaai kalkoen gevlug en by die hoë trappies van die voorstoep afgeval het. Verskeie bronne beweer sy is in die tuin begrawe, maar Adri-hulle het ’n paar jaar gelede haar graf op die plaas Horseshoe ’n ent buite die dorp ontdek – in ’n klein begraafplasie wat dekades lank onder veldbosse verberg was.) • Die Van Rooyens restoureer tans nog ’n mooi huisie reg langs die padstal wat hopelik teen Desember 2017 beskikbaar sal wees om te huur.
Besprekings dieplaaskindpadstal@gmail. com 044 752 3025 (los ’n boodskap)
076 023 1933 (stuur ’n Whatsapp)