Weg! Platteland

JOHN KETCHEN

Lekepredik­er en werker op Gonnakraal

-

Op De Vlugt ken almal vir John Ketchen as Tienkels, ’n jan-van-alles wat om die beurt plaaswerke­r is op Gonnakraal, lekepredik­er in die United Congregati­onal Church of Southern Africa (op De Vlugt en Uniondale), dokter, berader, vredemaker, sekerheids­wag, gemeenskap­swerker, fietsryer en ’n wederhelf vir sy vrou, Anna, en pa vir hulle kinders, Riaan en Jolandie.

“Omdat die skollies doerie jare baie woelig was in Port Elizabeth, het ek as jong kind saam met my ma na De Vlugt gekom waar my oupa-hulle gewoon het. Ek was nege toe my moeder gesterf het, en my stiefpa het my en my suster verwerp. Dié suster, wat nou ’n tuisverple­egster op Sedgefield is, is later aangeneem en haar lewe het goed uitgedraai, maar ek het agtergebly by ’n blinde antie van my wie se man ’n skaapwagte­r was by die Van Rooyens van Gonnakraal.

“Die Van Rooyens het altyd vir my ’n broodjie gehou en ek kon smiddae ná skool nie wag om op die plaas uit te kom en met die diere te help nie. Dis waar ek alles geleer het wat ek vandag kan doen. Gonnakraal voel soos my huis en Adri soos ’n suster wat ek help grootmaak het.”

Tienkels sê net die dood en niks anders nie sal hom De Vlugt laat verlaat. “Ek sê altyd al drie die paaie na De Vlugt loop afdraande. As ’n ou eers hier ingevlug het, is jy hier om te bly.

“Ons woon regtig in die paradys. Hier kan ’n kind nog ’n kind wees – sonder TV en sonder selfone. Die bruin mense kan buitendien nie goeters soos generators bekostig nie.”

Al wat sleg is, sê hy, is die maatskapli­ke probleme, vernaam drankmisbr­uik, want dit is die kinders wat die ergste daaronder ly en wat gevolglik nie liefde of orde ken nie. “Die mense hier is arm, ja, maar dit gaan glad nie oor arm nie. Dit gaan oor mense wat in hulle eie ellende krepeer en geen poging aanwend om daar uit te kom nie. En die enigste manier is om dit vir jouself te doen.”

Lank gelede, sê Tienkels, het hy op pad na die reservoir ’n luiperd met twee kleintjies raakgeloop. “Sy was baie kwaai, daardie luiperd, seker oor die kleintjies. Maar ek het net gevries en oor en oor vir haar gesê: ‘Luister, die wêreld is wyd, daar is plek vir jou én daar is plek vir my. En hier is ek vandag nog.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa