’n Rusplek vir die oë
Ons tuin op Hoekwil in die Tuinroete lê op ’n neus wat instoot in ’n kronkel van die Touwrivier, en bied lieflike uitsigte oor kuskreupelwoud en die see, die droë woud in die klowe en langs die rivieroewer onder ons, en die skouspelagtige Outeniquabergreeks. Hier voel ek één met my tuin en die Skepping.
Ek en my man, Brian, het 30 jaar gelede begin om die indringerswarthoute uit te roei en uiteindelik ons huis gebou sonder om ’n enkele inheemse boom prys te gee... net hier en daar het ’n taaibos in die slag gebly. Ons het heel eerste pionierspesies soos klipels en bietou geplant en daarna outeniekwageelhoute, witysterhoute, witstinkhoute, Kaapse kastaiings, essenhoute en Kaapse wildevye. Teen die noorderhange groei saffraanspesies, kamferbome, noemnoems en beskermde kasuurbome met kompakte karees vol bessies en olienhoutboompies wat hier en daar kop uitsteek. Boomspesies wat hulle al begin hervestig het, is die bosvlier, bostaaibos, witolien, rooipeer, blinkblaartaaibos (ook bekend as die Karookoeniebos), essenhout en swartbas.
Deesdae lê die bosbokke weg aan die onderbos wat ek aangeplant het, die loeries het eers ná 11 jaar ingetrek én hier is boomslange. Ek hou hulle deur my kombuisvenster dop wanneer die witogies tekere gaan en hulle doen en late verklap.
So met die tyd het ons gras geplant om die huis, met heelwat aalwyne en vetplante om ’n buffer te skep tussen ons en die veldbrande wat soms hier woed. Ons het ook soos wat die natuurbewaringsowerhede aanbeveel het, die gonnabosse en blombosse uitgekap omdat dit so maklik brand.
Wanneer ’n mens se oë rus vind in die natuur, kan ’n tuinier nie help om met die vingers in die grond te vroetel nie, maar jy moet jouself dissiplineer en die gewerskaf tot ’n mikroskaal beperk om sodoende die makroskaal van die bome in jou tuin te bewaar, anders verloor jy die etiek van inheems tuinmaak en raak jy verstrengel in ’n “versamelaarstuin” wat enige plek op aarde kan wees.
Nou in my later jare moet ek ’n “oumatuin” maak met ’n visdam en irisse, krismisrose, pentas, japannese anemone, kamelias, suurlemoenbome, nartjies en avokado’s. Op my dennehoutdekke het ek die bokke uitoorlê en rose in houtvate geplant, asook ’n klomp orgideë en aronskelke wat die ystervarke nie kan bykom nie. Die petunias, suteras, inkalelies, verbenas, brandrissies, spinasie en basilie wat ek hier geplant het, verklap dat ek ’n tuinmaker is.
Vlinders dryf soms saam op miswolkies deur my huis. Ek verdra hulle larwes, soos ek moes leer om die spinnekoppe en slakke en pofadders te verdra, maar dié lewe verruil ek moeilik vir ’n ouetehuis.”
Liesel Stokes, Hoekwil >